Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/10 bl. 20-22
  • Die mees gevreesde siekte van die 19de eeu

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mees gevreesde siekte van die 19de eeu
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die Groot Stank”
  • ’n Wet wat sy tyd vooruit was
  • ‘’n Ernstige siekte het nooit uitgebreek nie’
  • Cholera-epidemie—’n dagboek uit Wes-Afrika
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • “Ou Vader Teems”—Engeland se unieke erfenis
    Ontwaak!—2006
  • Dodelike water
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 10/10 bl. 20-22

Die mees gevreesde siekte van die 19de eeu

Dit was 1854, en Londen is weer eens deur ’n uitbraak van cholera geteister—’n ingewandsiekte wat deur hewige diarree en ontwatering gekenmerk word. Die siekte het sy slagoffers vinnig geëis. Baie wat gesond wakker geword het, was teen die aand dood. Daar was nog geen geneesmiddel nie.

DIT was die mees gevreesde siekte van die eeu, en die oorsaak het ’n raaisel gebly. Party het gedink dat ’n mens cholera opdoen as jy die slegte reuke van verrottende organiese materiaal inasem. Dit is verstaanbaar dat hulle so gedink het. Die Teemsrivier, wat deur Londen vloei, het verskriklik gestink. Het die onwelriekende lug die siekte oorgedra?

Vyf jaar vroeër het ’n geneesheer met die naam John Snow beweer dat cholera nie deur besmette lug veroorsaak word nie, maar deur besmette water. ’n Ander geneesheer, William Budd, was van mening dat ’n swamagtige organisme die siekte oordra.

Tydens die epidemie van 1854 het Snow sy teorie getoets deur ’n studie te maak van die lewe van mense wat cholera opgedoen het in Soho, ’n gebied in Londen. ‘Wat het hulle in gemeen?’ het hy gewonder. Snow se ondersoek het tot ’n verstommende ontdekking gelei. Almal wat cholera in daardie gebied opgedoen het, het drinkwater by dieselfde straatpomp gaan haal, en hierdie water is besoedel deur riool wat met cholera besmet is!a

In daardie selfde jaar is nog ’n mediese mylpaal bereik toe die Italiaanse wetenskaplike Filippo Pacini ’n dokument gepubliseer het waarin hy ’n beskrywing gegee het van die organisme wat cholera veroorsaak. Sy navorsing, sowel as die bevindings van Snow en Budd, is egter grotendeels geïgnoreer. Die choleraplaag het voortgewoed—altans tot 1858.

“Die Groot Stank”

Die Parlement was traag om ’n nuwe rioolstelsel te bou om die Teemsrivier skoon te kry, maar die hittegolf gedurende die somer van 1858 het die saak tot ’n punt gedryf. Die stank van die rivier wat verby die Laerhuis gevloei het, was so oorweldigend dat die politici geen ander keuse gehad het nie as om drapeersels wat hulle in ontsmettingsmiddel geweek het, voor hulle vensters te hang om te reuk te probeer verbloem. Die Groot Stank, soos dit later genoem is, het die Parlement gedwing om op te tree. Binne 18 dae is die bevel gegee om ’n nuwe rioolstelsel te bou.

Groot dreine is gebou om die riool op te vang voordat dit die rivier bereik het. Die riool is dan afgevoer na die ooste van Londen, waar dit uiteindelik in die see ingevloei het wanneer die gety uitgegaan het. Dit het ingrypende resultate gehad. Nadat die hele Londen aan die nuwe stelsel gekoppel is, het die cholera-epidemie geëindig.

Nou het daar geen twyfel meer bestaan nie: Cholera is nie deur onwelriekende lug veroorsaak nie, maar deur besmette water of kos. Dit was ook duidelik hoe die siekte voorkom kon word—deur goeie sanitasie.

’n Wet wat sy tyd vooruit was

Duisende jare voordat Londen deur cholera-epidemies geteister is, het Moses die nasie Israel uit Egipte gelei. Al het hulle sowat 40 jaar lank deur die wildernis Sinai getrek, is die Israeliete nie deur epidemies soos cholera geteister nie. Hoe was dit moontlik?

Die nasie is beveel om menslike uitwerpsels op ’n afgesonderde plek buite die kamp te begrawe sodat die woongedeelte en waterbronne nie besoedel sou word nie. Hierdie voorskrif word in Deuteronomium 23:12, 13 in die Bybel gevind. Dit sê:

“Jy moet buitekant die laer ’n plek hê, en daarheen moet jy uitgaan. En jy moet by jou gereedskap ’n grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak.”—“Ou Afrikaanse Bybelvertaling.”

Hierdie eenvoudige riglyn het die Israeliete teen siektes beskerm waardeur die omliggende nasies geteister is. Soortgelyke higiëniese gebruike het ook in onlangse tye lewens gered.b Kyk na ’n voorbeeld.

‘’n Ernstige siekte het nooit uitgebreek nie’

In die 1970’s het ’n vlaag van vervolging baie van Jehovah se Getuies uit Malawi gedryf. Hulle het na veiligheid gevlug in die naburige Mosambiek, waar meer as 30 000 mans, vroue en kinders in tien vlugtelingkampe gehuisves is. Dit is welbekend dat vlugtelingkampe dikwels ’n teelaarde vir waterverwante siektes is. Hoe het die Getuies onder hierdie toestande gevaar?

Lemon Kabwazi en 17 000 ander het in die grootste kamp by Mlangeni gebly. Hy vertel: “Die kamp is altyd skoon gehou. Puttoilette is buite die kamp gegrawe, en niemand is toegelaat om sy eie toilet binne die kamp te grawe nie. Vullisputte is ook ’n ent van die kamp af gegrawe. Vrywilligers het na alle aspekte van sanitasie omgesien; hulle het onder andere verseker dat skoon water verkry kon word uit putte wat op ’n ander plek buite die kamp gegrawe is. Hoewel baie van ons in ’n klein area gebly het, het ons Bybelstandaarde oor higiëne gevolg, en daarom het ’n ernstige siekte nooit uitgebreek nie, en niemand het cholera gekry nie.”

Ongelukkig is daar in party wêrelddele nog steeds huise wat nie ’n behoorlike rioolstelsel het nie. Elke dag sterf sowat 5 000 kinders weens siektes wat deur menslike uitwerpsels veroorsaak word.

Cholera en soortgelyke siektes kan voorkom word, en mensepogings om behoorlike sanitasie te voorsien, het goeie resultate opgelewer, maar die Bybel bied die hoop dat alle siektes binnekort uit die weg geruim sal word. Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal Openbaring 21:4 bewaarheid word: “Die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.” Dan sal die Bybel se belofte vervul word: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.

Om meer te leer omtrent wat God se Koninkryk vir die mensdom sal doen, sien hoofstukke 3 en 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Voetnote]

a Hoewel spoeltoilette al teen 1854 geïnstalleer is, het ’n verouderde rioolstelsel menslike afval met vore en rioolpype langs tot in die Teemsrivier—’n vername bron van drinkwater—laat vloei.

b Omdat cholera deur besmette water of kos veroorsaak word, kan die siekte voorkom word deur genoegsame voorsorgmaatreëls te neem in verband met wat ons eet of drink. Noodsaaklike voorsorgmaatreëls sluit in dat water gesuiwer en kos deeglik gekook word.

[Lokteks op bladsy 21]

Die Teemsrivier, wat deur Londen vloei, was besoedel deur riool wat met cholera besmet is, soos baie prente van daardie tyd uitbeeld

[Prent op bladsy 22]

Meer as 30 000 mans, vroue en kinders is in Mosambiek gehuisves in tien vlugtelingkampe, wat altyd skoon gehou is

[Foto-erkennings op bladsy 20]

Dood op die Teems: © Mary Evans Picture Library; kaart: University of Texas Libraries

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel