Die ysbeer se ingenieursprestasie
VOLGENS sommige wetenskaplikes kan die ysbeer die mens heelwat oor die benutting van sonkrag leer. Fisikus Richard E. Grojean het in die middel-sewentigerjare in hierdie teorie begin belangstel nadat ’n interessante ontdekking oor wit Arktiese diere gedoen is.
Kanadese sensusopnemers van die natuurlewe het gevind dat hulle eenvoudig nie gewone lugfoto’s van hierdie diere kon neem nie, aangesien hulle met die wit landskap saamsmelt. Infrarooifilm, wat gewoonlik ideaal is om foto’s van warmbloedige diere te neem, het ook nie gewerk nie. Die diere was net te goed geïsoleer om genoeg warmte af te gee sodat hulle op film vasgelê kon word. Maar toe ultravioletfilm gebruik is, het krapvreterrobbe en ysbere as skerp, swart voorwerpe teen die wit agtergrond afgesteek. “Terwyl die sneeu ultraviolet strale weerkaats het, het die diere hulle geabsorbeer”, berig The Toronto Star.
Waarom? Volgens fisikus Grojean en Gregory Kowalski, ’n adjunk-professor in die masjienboukunde, is die beer se pels die antwoord. Aan die onsigbare, ultraviolet kant van die spektrum neem die hare van die pels 90 persent van die ultraviolet lig op en gelei die hare dit na die swart vel onder die pels, wat die beer sodoende warm maak. In die Noordpoolstreke, waar die temperatuur dikwels tot -29 grade Celsius daal, is die pels se vermoë om sy eienaar warm te hou merkwaardig. Daarenteen is die gewone sonpanele op dakke baie minder doeltreffend. Trouens, Kowalski skat dat mensgemaakte sonpanele 50 persent doeltreffender gemaak kan word deur die beginsels van die ysbeer se pels toe te pas.
Die hare van die pels reageer net die teenoorgestelde in die sigbare deel van die spektrum; hulle weerkaats 90 persent van die lig. Dit gee die beer sy verblindende wit voorkoms, al is die individuele hare nie werklik wit nie maar deurskynend en kleurloos. Die wit pels stel die beer in staat om ongesien op die sneeubedekte landskap van die Noordpool te jag. Sommige waarnemers het selfs gesien hoe ysbere hulle swart neuse bedek wanneer hulle hulle prooi bekruip, asof hulle daarvan bewus is dat hulle met die sneeu moet saamsmelt.
Die ysbeer se pels voldoen dus volmaak aan twee van die belangrikste dinge wat die dier nodig het: dat hy wit moet lyk en warm moet bly. Dit is dus geen wonder nie dat fisikus Grojean die pels as ’n “fantastiese ingenieursprestasie” geprys het. Hierdie unieke en grootse dier getuig in sy geheel van sy Skepper se wysheid.