Indrukwekkende reuse van die Noorde van Kanada
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
“KONING van die Noorde” en “Meesters van die Noordpool” is treffende benamings wat deur ongeveer 30 000 ysbere gedeel word wat oor die hele Noordpoolbekken swerf.
Daar is verskeie afsonderlike ysbeerbevolkings. Een groep het die suidwestelike kus van Kanada se Hudson-baai, van Akimski-eiland in James-baai tot Chesterfield-inham, in die noorde, as hulle gebied gekies. Churchill, Manitoba, wat tussen die twee geleë is, staan dus bekend as die “ysbeerhoofstad van die wêreld”.
Die nuuskierige ysbeermannetjie swerf onvermoeid deur sy gebied. Daarom noem die Eskimo’s hom poëties Pihoqahiak, wat “die immer dwalende” beteken.
Die ysbeer het vroeë, noordelike ontdekkingsreisigers gefassineer. John Muir, ’n Amerikaanse natuurkenner, het hom beskryf as ‘’n dier met ’n edel voorkoms en geweldige krag, wat dapper en warm in die ewige ys woon’.
Hoewel hulle van 450 tot 640 kilogram weeg, is hulle so rats soos ’n kat. Een bioloog het gesê: “Hulle is soos groot katte. Dit is absoluut ongelooflik hoe vinnig hulle is—o, hoe vinnig is hulle tog nie.”
Paring en ’n lêplek
Die beermannetjie is nie ’n ‘gesinsman’ nie. Nadat hulle gepaar het, laat hy die wyfie op haar eie met al die verantwoordelikheid om die welpies groot te maak. Die bevrugte eier in die ma verdeel ’n paar keer en ontwikkel nie verder gedurende die volgende vier of vyf maande nie.
Wanneer inplantasie plaasvind en groei begin, grawe die wyfie ’n lêplek in die grootste sneeubank wat sy kan kry of ’n grondskuiling aan die oewer van ’n meer. Daar bly sy sonder kos, en sy urineer of ontlas haar nie tot die einde van Maart toe nie.
Die lêplek getuig van goeie ingenieursvernuf. Van die ingang af loop daar ’n tonnel van ongeveer twee meter skuins opwaarts na ’n groot woonruimte. Hier word haar liggaamshitte vasgevang sodat die lêplek dikwels 20 grade Celsius warmer as die temperatuur buite is. ’n Klein openinkie in die dak laat die dooie lug ontsnap. ’n Vars vloerbedekking word gemaak, wanneer dit nodig is, deur sneeu van die dak af te skraap en dit met haar pote vas te trap.
Jy sou verwag dat so ’n groot beer geboorte sou skenk aan taamlike groot welpies. Tog weeg die pasgebore welpies maar ongeveer ’n halwe kilogram! Hulle word gewoonlik gedurende Desember of vroeg in Januarie gebore.
Die welpies, wat blind en doof by geboorte is, is met donserige haartjies oortrek, behalwe die kussinkies van hulle pote en hulle neus. Met hulle sekelvormige kloutjies kruip hulle in hulle ma se pels op om haar ryk, romerige melk wat na lewertraan smaak te drink.
Wyfies in die meeste streke van die Noorde skenk gewoonlik elke drie jaar aan tweelingwelpies geboorte. Maar dié in die gebied van Hudson-baai skenk partykeer elke tweede jaar aan drielinge en af en toe aan vierlinge geboorte. Die welpies word gou groot. Hulle hoor ná ongeveer 26 dae hulle eerste geluide. Sewe dae later gaan hulle ogies oop. Hulle babahaartjies word nou deur regte pels vervang, wat baie dikker is.
Teen die einde van Maart kom die gesin uit die lêplek te voorskyn en word deur die sonskyn van ’n Arktiese lente begroet. Daar is nog baie sneeu en die welpies rol en baljaar daarin. Wanneer hulle ’n steil skuinste teëkom, gly hulle, met uitgestrekte voor- en agterpote, op hulle vet magies daar af in die arms van hulle ma wat daar onder wag.
Partykeer is dit vir die welpies moeilik om hulle ma se spore in die diep sneeu te volg. Die oplossing? Wel, sy abba hulle! ’n Fotograaf het eenkeer gesien hoe beerwyfies, wat deur ’n helikopter gesteur is, gevlug het met hulle welpies wat “soos bang klein jokkies” aan hulle rug geklou het.
Ma leer hulle sorgvuldig vir twee en ’n half jaar. Dan verlaat sy hulle. Die jong bere is nou op hulle eie.
Ander kenmerke
Volgens ’n artikel in die tydskrif Life “is ysbere die kragtigste viervoetige swemmers in die wêreld”. Hulle kan tussen die stukke dryfys oor groot baaie swem. Aangesien nie water of yskristalle aan hulle olierige pels vassit nie, hoef hulle hulle net een keer goed te skud om van die meeste water ontslae te raak. Wanneer hulle in droë sneeu rol, absorbeer dit enige oorblywende vog, en is die pels binne ’n paar minute droog.
Wetenskaplikes het eers onlangs die verbasende geheime van die beer se pels leer ken. Die manier waarop lig geabsorbeer word en van die pels weerkaats word, help nie net om die liggaam warm te hou nie, maar gee die pels ook sy verblindende wit voorkoms.a
Maar hoe vind hulle hulle pad in die immer veranderende Arktiese see wat min, indien enige, kenmerke het wat hulle kan help om vas te stel waarheen hulle gaan? Volgens die boek Arctic Dreams moet die beer “’n kaart in sy kop hê . . . Geheue help geensins nie. Hoe bere sulke kaarte skep en gebruik, is een van die interessantste van al die vrae wat oor hulle bestaan.” Hulle kan weke lank rondswerf sonder om te verdwaal.
Hoewel ysbere mense selde aanval, moet besoekers hulle groot krag en ratsheid respekteer. Hierdie selfde boek het gesê: “Ysbere is taamlik sku en is nie aggressief nie, veral in vergelyking met grysbere.” Maar hulle kan jou onverhoeds betrap, aangesien hulle pote, wat met dik pels bedek is, feitlik geen geluid maak wanneer hulle loop nie.
’n Besoek aan die ysbeer
Hoe kan ons hierdie interessante diere besoek? Wetenskaplikes het staaltorings wat 14 meter hoog is al langs die kus van Hudson-baai opgerig waarvandaan die ysbere dopgehou word.
Tundra Buggies is in die dorp Churchill aan toeriste beskikbaar. Dit is ’n groot metaalbedekte voertuig wat ’n aantal passasiers op besigtigingstoere neem. Partykeer sien ’n mens ’n ysbeer van naderby wanneer hy teen die metaalbedekking leun of met sy poot daarteen kap om aandag te trek of kos te vra.
Ons hoop julle het hierdie besoek aan die reusebere van die Noorde geniet, wat glo onder die tien “gewildste” diere in die wêreld tel. Hulle is waarlik pragtige diere, ’n produk van ’n alwyse Skepper, wat hulle die vermoë gegee het om hulle by die yswildernis van die aarde se Noordpoolbekken aan te pas.
[Voetnoot]
a Sien “Die ysbeer se ingenieursprestasie” in die Ontwaak! van 22 Mei 1991.
[Prent op bladsy 24]
Ma leer haar welpies sorgvuldig vir twee en ’n half jaar
[Prente op bladsy 25]
Jong mannetjies geniet ’n skyngeveg, en koel dan af in die sneeu
[Erkenning]
All photos: Mike Beedell/Adventure Canada