Snoesig in die sneeu
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND
IN DIE ysige winters van die Verre-Noorde sou mense sonder geskikte klere en skoene baie swaarkry en selfs omkom. Maar vir tallose diere gaan die lewe voort, ongeag die seisoen. Diere vind nie net baat by ’n snoesige winterjas van vere of pels nie, maar maak ook goed gebruik van die ongelooflike isoleervermoë van sneeu.
Sneeu bestaan uit yskristalle wat regstreeks uit waterdamp vorm—25 sentimeter sneeu is gelykstaande aan ongeveer 2,5 sentimeter water. Sneeu bevat dus baie lug, wat tussen die kristalle vasgevang is. Hierdie merkwaardige ontwerp maak sneeu ’n goeie isolator teen uiterste koue, en dit beskerm saad en plante totdat die lente aanbreek. Dan, soos ’n reusereservoir van bevrore water wat die vorm van die terrein aanneem, smelt die sneeu, maak dit die grond nat en voed dit die strome.
Lewe onder die “kombers”
Verskeie klein, wollerige diertjies kan onder die sneeu gevind word waar hulle deur ’n netwerk van tonnels skarrel, besig met hulle daaglikse take, waarvan ’n groot deel gewoonlik uit ’n dolle gesoek na kos bestaan. Daar is onder meer lemmings, woelmuise en skeerbekmuise—klein, hoofsaaklik nagtelike insekvreters wat verwant is aan die mol. Muise, daarenteen, word dikwels gesien waar hulle oor die oppervlak van die sneeu hardloop op soek na bessies, neute, sade en die sagte bas van jong bome.
Hoe handhaaf kleiner soogdiere die regte liggaamstemperatuur? Baie van hulle het nie net ’n warm winterjas nie, maar ook ’n ingeboude oondjie in die vorm van ’n vinnige metabolisme. Soos jy jou kan indink, het hierdie lewende verwarmers baie brandstof nodig. Byvoorbeeld, skeerbekmuise eet elke dag byna hulle eie gewig in insekte, larwes en papies. Die kleinste spesie—die dwergspitsmuis—eet in verhouding selfs meer! Daarom word byna elke oomblik gebruik om na kos te soek.
Die talle klein soogdiertjies is op hulle beurt weer baie gewild op die spyskaart van die roofdiere, waaronder die uil en twee lede van die weselfamilie, die hermelyn en die kleinwesel. Wesels is skraal en rats, en kan dus maklik deur sneeubedekte, verskuilde doolhowe beweeg op soek na kos. Wesels jag selfs konyne, wat groter is as hulle.
Uile is ook op soek na prooi. Die Laplanduil se gehoor is so skerp dat hy ’n woelmuis kan hoor en kan volg waar dit onder die sneeu rondbeweeg—solank die sneeu nie te diep is nie. Wanneer die uil sy prooi opgespoor het, duik hy in die sneeu in, gryp hy sy ongelukkige prooi met sy kloue in ’n ystergreep vas en dra hy dit weg. Diep sneeu kan egter vir baie roofdiere verhongering en selfs ’n hongerdood beteken, maar vir prooispesies oorbevolking.
Sodat hulle nie gedurende die maer winterseisoen honger ly nie, benut baie diere vetreserwes wat hulle gedurende die warmer maande opgebou het. Maar gewoonlik kan kos gevind word. Europese elande knibbel byvoorbeeld aan die jong takke van bome, veral dennebome. Eekhorinkies smul aan voedsame sade wat in hulle spense weggebêre is, en hase knaag aan jong bas, takkies en lote. Sekere voëlsoorte geniet bevrore bessies en dennespruite.
Voëls wat uit die lug in die sneeu induik!
’n Aantal voëls benut die isoleervermoë van sneeu om warm te bly wanneer hulle bedags rus of snags slaap. Onder hulle is die haselhoender, die berkhaan, die sneeuhoender sowel as kleiner voëls soos die groenvink, die goudvink en die mossie. As die sneeu diep en sag is, duik party voëls sommer uit die lug in die sneeu in, soos ’n seevoël in die water induik. Hierdie slim strategie laat nie voetspore agter wat roofdiere kan sien of ruik nie.
Wanneer die voëls binne-in ’n sneeubank is, grawe hulle ’n horisontale holte van tot ’n meter lank, wat in Fins ’n kieppi genoem word. Oornag word alle sigbare tekens van die lewe onder die sneeu deur die wind weggevee. Wanneer mense wat voetslaan ’n bietjie te na aan een van hierdie voëls se skuilplekke verbystap, waarsku die geknars op die sneeu die voëls. Die wilde geklap van vlerke en sneeu wat net ’n paar meter weg in alle rigtings waai, kan enige niksvermoedende stapper se hart laat staan!
Tyd vir winterklere
Namate die seisoene verander, kamoefleer party Arktiese diere hulle deur hulle somerpels of -vere vir ’n winterjas te verruil wat by die sneeubedekte omgewing pas. In Finland kry poolvosse, sneeuhase en verskeie soorte wesels in die herfs dik, wit of naaswit pelse.a
So ook maak die sneeuhoender se gespikkelde somervere plek vir ’n skitterwit veredos. En hulle kloue, wat gedurende die warmer maande min vere op het, kry doeltreffende “sneeuskoene” in die vorm van ’n dik laag vere. Selfs terwyl hulle hulle winterjassies aantrek, geniet sekere prooispesies beskerming omdat hulle veranderende kleure met die gevlekte voorkoms van die grond saamsmelt wat gedeeltelik met sneeu bedek is.
Het jy al ooit gewonder waarom voëls, waarvan baie met kaal bene in die sneeu of op ys rondloop, niks oorkom of ten minste uiterse ongerief ondervind nie? Hulle het ’n puik ontwerpte hitteruiler in hulle bene. Hierdie verbasende ontwerp laat warm slagaarbloed van die hart af na die bene vloei en laat die koel bloed wat van die pote af terugvloei, verwarm word.
Ja, hetsy dit lewensvorme in die ysige pole of die snikhete trope is, hulle verduur nie net ons planeet se uiterstes nie. Hulle floreer eerder daar. Die manne en vroue wat hierdie lewensvorme ontdek en verfilm, ontvang gewoonlik groot lof vir hulle pogings—en heel tereg! Hoeveel te meer moet ons dan nie lof bring aan die Skepper van die aarde se lewende wonders nie! Openbaring 4:11 sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”
[Voetnoot]
a Algemene name verskil moontlik. Die sneeuhaas staan byvoorbeeld ook bekend as die alpehaas en die winterwithaas.
[Venster/Prent op bladsy 18]
Beslis nie mooiweer-Christene nie!
Gedurende die wintermaande trek Jehovah se Getuies in Finland volgens die weer aan en gaan hulle voort met hulle geestelike bedrywighede. Party Getuies gee glad nie om om lang afstande te reis om Christelike vergaderinge by te woon nie. Trouens, vergaderingbywoning in landelike gebiede daal nie gedurende die lang, koue maande nie. Jehovah se Getuies bly ook bedrywig in die openbare bediening. Ja, dit is vir hulle so ’n groot voorreg om van die Skepper, Jehovah God, te getuig dat hulle die gerief van hulle huis gewillig opoffer om sy Koninkryk te verkondig.—Matteus 24:14.
[Prent op bladsy 16, 17]
Stormvoëls in ’n grot
[Erkenning]
By courtesy of John R. Peiniger
[Prent op bladsy 16, 17]
Hermelyn
[Erkenning]
Mikko Pöllänen/Kuvaliiteri
[Prent op bladsy 17]
Swane
[Prent op bladsy 17]
Haas
[Prent op bladsy 17]
Poolvos