Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 6/8 bl. 3-4
  • Die krag van skinderpraatjies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die krag van skinderpraatjies
  • Ontwaak!—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Skinderpraatjies—Waarom die aantrekkingskrag?
    Ontwaak!—1991
  • Wat is so skadelik omtrent skinderpraatjies?
    Ontwaak!—1999
  • Hoe kan ek skinderpraatjies stopsit?
    Ontwaak!—2007
  • Wat is fout met skinderpraatjies?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 6/8 bl. 3-4

Die krag van skinderpraatjies

DIE jong vrou se selfmoord het die stil Engelse dorp geskok. Selfs skokkender was die jurie se beslissing by die amptelike lykskouing: ‘Sy is deur ongegronde skinderpraatjies doodgemaak!’ Die jong vrou se naam, haar reputasie en uiteindelik haar lewe is blykbaar deur die dorp se kwaadwillige kletspraatjies geruïneer.—Rumor and Gossip—The Social Psychology of Hearsay, deur Ralph L. Rosnow en Gary Alan Fine.

Hoewel die gevolge selde so tragies is, bestaan daar min twyfel dat skinderpraatjies baie groot krag het. Aan die een kant kan dit beskou word as ’n algemene manier om nuttige informasie uit te ruil. Aan die ander kant kan dit verantwoordelik gehou word vir onrus in regerings, skeuringe in families, die vernietiging van loopbane.

Skinderpraatjies het al die skuld gekry vir slapelose nagte, hartseer en slegte spysvertering. En dit het jou ongetwyfeld die een of ander tyd self pyn veroorsaak. Trouens, skrywer William M. Jones waarsku dat “jy [in die sakewêreld] die moontlikheid moet aanvaar dat iemand sal probeer om jou in die loop van jou loopbaan in die rug te steek”.

Negatiewe skinderpraatjies word feitlik allerweë afgekeur. Onder die Seminole-Indiane van die Verenigde State word “slegte praatjies oor iemand” oor dieselfde kam geskeer as leuens en diefstal. In een gemeenskap in Wes-Afrika het nuusdraers die risiko geloop dat hulle lippe afgesny kon word of, selfs nog erger, dat hulle tereggestel kon word! Deur die geskiedenis heen is daar inderdaad stappe gedoen om skinderpraatjies aan bande te lê.

Tussen die 15de en 18de eeue is die sogenaamde duikstoel algemeen in Engeland, in Duitsland en later in die Verenigde State gebruik in ’n poging om skinderaars skaam te maak sodat hulle met hulle skadelike praatjies sou ophou. Iemand wat aan die oortreding skuldig bevind is, is aan ’n stoel vasgebind en herhaaldelik in water gedompel.

Hoewel die duikstoel, net soos die blok en nekyster, lankal nie meer gebruik word nie, word daar selfs in hedendaagse tye ’n stryd teen skinderpraatjies gevoer. Gedurende die sestigerjare is daar byvoorbeeld sogenaamde gerugbeheersentrums in die Verenigde State gestig om op te tree teen gerugte wat potensieel skadelik vir regeringsbedrywighede kon wees. Soortgelyke dienste was in Noord-Ierland en in Engeland beskikbaar. Wette is selfs aangeneem om skinderpraatjies aan bande te lê wat daarop gemik is om sekere finansiële instellings ekonomiese skade te berokken.

Ten spyte van sulke pogings bestaan skinderpraatjies steeds. Dit is lewend en dit floreer. Nòg wette nòg enige ander menslike metode het tot dusver daarin geslaag om die verskroeiende krag daarvan te blus. Skinderpraatjies is oral. Daar is skinderpraatjies in die buurt, in die kantoor, in die winkels, by partytjies, in families. Dit kom voor in alle kulture, rasse en beskawings, en dit floreer op alle gemeenskapsvlakke. Een gesaghebbende het gesê: “Skinderpraatjies is so algemeen; dit is byna soos asemhaling.” Hy het ook gesê: ‘Dit is ’n ingewortelde deel van die menslike natuur.’

Skinderpraatjies bring weliswaar dikwels ’n baie donker sy van die menslike natuur aan die lig, ’n sy wat hom daarin verlustig om reputasies te skend, die waarheid te verdraai en lewens te vernietig. Tog is skinderpraatjies nie inherent boos nie. Gemoedelike praatjies het ook ’n positiewe sy. Die sleutel om te vermy dat ander—en jyself—’n slagoffer daarvan word, is om te weet waar om die lyn tussen skadelike en onskadelike skinderpraatjies te trek.

[Prent op bladsy 4]

Die gebruik van die duikstoel was een manier waarop plaaslike regerings probeer het om teen skinderaars op te tree

[Erkenning]

Historical Pictures Service

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel