“Rooi goud” uit die Middellandse See
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
DAAR was ’n tyd toe geleerdes nie kon saamstem of dit ’n groente of ’n mineraal is nie. Die helder kleur daarvan fassineer mense al lank. Deur die eeue heen is dit al as ’n ornament, ’n kunsmedium, ’n gelukbringer, ’n geneesmiddel en selfs as geld gebruik. Vandag word dit hoofsaaklik vir juweliersware gebruik. Wat is dit? Bloedkoraal uit die Middellandse See—so kosbaar dat dit rooi goud genoem word.
Presies wat is bloedkoraal? Hoe en waar word dit gevorm? Watter metodes is al gebruik om dit te oes? Hoe is dit in die verlede bewerk? En hoe word dit vandag bewerk?
Dier, groente of mineraal?
Eertydse natuurkenners het Mediterreense bloedkoraal (Corallium rubrum) beskryf en ook gesê hoe dit ingesamel is en waarvoor dit gebruik is. Die feit dat dit, soos met alle koraal, die skelet van ’n organisme in die diereryk is, is eers in die 18de eeu algemeen aanvaar. Wat dalk soos blomme aan ’n miniatuurboom lyk, is eintlik die voelers van lewende diertjies—kolonies poliepe. Die takkies, wat 25 tot 30 sentimeter lank word, is soliede kalkagtige neerslae wat deur hele kolonies van hierdie organismes afgeskei word om hulleself te beskerm. Elke takkie het net een kleur, maar hulle kom wel in verskillende skakerings van rooi voor. Bloedkoraal sal tot ’n diepte van 250 meter op enige soliede oppervlak groei—’n rots, ’n skeepswrak of selfs ’n ou kanonkoeël—maar dit het kalm, onbesoedelde water nodig met ’n betreklik hoë soutgehalte en ’n temperatuur wat wissel tussen 10 en 29 grade Celsius. Dit word gevind in die Mediterreense waters van Albanië, Algerië, Frankryk, Griekeland, Italië, Joego-Slawië, Marokko, Spanje en Tunisië, asook in die Atlantiese waters naby Kaap Verde en Marokko. Jong kolonies groei na raming vier tot agt millimeter per jaar in lengte en sowat een en ’n half millimeter per jaar in deursnee.
Kosbaar sedert antieke tye
Argeologiese bewyse toon dat koraal al lank bewerk, mee handel gedryf en as iets kosbaars beskou word. Aanvanklik het mense waarskynlik net takke versamel wat op Mediterreense strande uitgespoel het. Stukkies bloedkoraal, wat heel moontlik as gelukbringers gebruik is, is al in ou grafkelders in Switserland gevind. Dit was ingesluit by die juwele van ’n Sumeriese god. Vir die Egiptenare was dit baie waardevol. Eertydse Jode het koraal net so waardevol geag as silwer en uitgesoekte goud (Spreuke 8:10, 11; Klaagliedere 4:7). Die Kelte het ook groot waarde daaraan geheg en hulle wapens en perde se tooms daarmee versier.
Die Romeinse natuurkenner Plinius berig dat bloedkoraal in die eerste eeu G.J. in die Leeugolf, langs die weskus van die Italiaanse skiereiland en om Sisilië ingesamel is. Kolonies is met nette uitgetrek of met skerp ystergereedskap afgesny. Destyds is die koraal beskou as ’n geneesmiddel vir koors, nierstene en oogkwale. Mense het ook geglo dat dit hulle teen tifone en weerlig kan beskerm.
Teen die tiende eeu G.J. het die Arabiere van Noord-Afrika ’n toestel uitgevind om koraal in te samel—’n groot X-vormige kruis, waarvan die balke tussen vier en vyf meter lank was. ’n Swaar klip is daaraan vasgemaak en groepe nette, ongeveer agt meter lank, het van die kruis se middel- en eindpunte gehang. Die toestel is van ’n boot af op koraalhoudende bodems laat sak en daaroor gesleep. Koraaltakke is afgebreek en het in die nette verstrengel geraak, waarna dit saam met die toestel opgetrek is. Verskillende vorme van hierdie toestel en soortgelyke metodes is tot ’n paar jaar gelede nog gebruik, toe dit verbied is uit vrees dat dit die seebodem en -plante beskadig, en duikers die oeswerk begin doen het. In teorie kan duikers meer selektief wees en minder verwoesting aanrig, maar in die praktyk het party die seebodem heeltemal van koraal gestroop.
’n Tradisionele Italiaanse kuns
Eertydse Romeinse handkunstenaars het gelukbringers en krale vir halssnoere gemaak, asook beelde wat mitologiese figure en dinge in die natuur afgebeeld het. Teen die 12de eeu was daar ’n florerende bedryf waarin krale, knope en ander voorwerpe van Genua na Konstantinopel en verskeie Mediterreense hawens uitgevoer is. In Marco Polo se tyd (die 13de eeu) was daar in Indië en Indo-China ’n groot aanvraag na Mediterreense koraal, en Arabiese handelaars het dit tot in China geneem.
In stede soos Trapani, Napels en Genua is groot hoeveelhede glad afgewerkte ornamente gemaak. Uitsonderlike produkte van die sogenaamde Maniërisme en baroktydperke (van die 16de tot die 18de eeu) het uit Trapani gekom, waar klein sneestukke van koraal, wat aan hout- of vergulde metaaloppervlakke aangebring is, allerhande voorwerpe versier het—juweelkissies, skinkborde, rame, spieëls en kerkornamente. Kerstonele met fyn detail is in koraal uitgesny, en duisende klein koraalkraletjies is aan duur klere en altaardoeke vasgewerk. Veral gedurende die 19de eeu is ’n groot verskeidenheid persoonlike ornamente in allerhande style en vorme gemaak—stelle juweliersware, tiaras, oorringe, hangertjies, halssnoere, kameë, borsspelde en armbande in die vorm van blomme, blare, diere en ontwerpe volgens die klassieke styl.
Die dorp Torre del Greco, aan die Baai van Napels, Italië, spesialiseer in die verwerking van bloedkoraal. Trouens, die dorp verwerk ongeveer 90 persent van alle bloedkoraal wat wêreldwyd geoes word. Hier gebruik bedrewe vakmanne sirkelsae om koraaltakke in kleiner stukkies op te saag. Party word met masjiene verwerk om ronde krale te maak. Ander word met die hand in spesifieke vorme en groottes geslyp, gepoleer en in ringe, oorringe en ander items gebruik. Die helfte tot driekwart van die roumateriaal gaan gedurende die produksieproses verlore of word weggegooi, en dit is een van die redes waarom koraaljuweliersware per gram meer kos as goue juweliersware.
Die bedryf het oomblikke van glorie beleef en groot fortuine is gemaak. Ongelukkig, sê die boek Il Corallo Rosso (Bloedkoraal), het dit ook mense gelok “wat oorheers word deur die begeerte na vinnige en maklike wins” en nie sal skroom om koraalriwwe te ontgin “totdat dit kaal gestroop is” nie. Besorgdheid oor die toekoms van hierdie koraal en die bedryf wat hierop staat maak, het belanghebbende partye beweeg om aan te beveel dat hierdie hulpbronne verstandig bestuur word. Hoewel dit nog nie as ’n bedreigde spesie beskou word nie, word dit al hoe moeiliker om takke te vind wat groot genoeg is vir juweliers om te gebruik. Vandag kom roumateriaal vir Italiaanse koraaljuweliersware ook uit die Stille Oseaan. Verskillende spesies word op ’n diepte van om en by 300 meter om Japan en Taiwan ingesamel, en selfs miniduikbote en afstandbeheerde robotte word gebruik. Tweeduisend kilometer van Hawaii af groei kosbare koraal tot 1 500 meter diep.
Pragtige koraaljuweliersware en -beeldhouwerk getuig van die vaardigheid van vakmanne wat tot hierdie merkwaardige tradisie bygedra het. En vir mense wat die handewerk van ons Skepper waardeer, is Mediterreense “rooi goud” ’n voorbeeld van al sy voorsienings vir die mens se genot.—Psalm 135:3, 6.
[Prent op bladsy 16]
19de-eeuse halssnoer wat van 75 000 koraalkrale gemaak is
[Erkenning]
Per gentile concessione del Museo Liverino, Torre del Greco
[Prent op bladsy 17]
Lewende koraal
[Prente op bladsy 18]
Tiara
17de-eeuse kelk
Stel juweliersware
[Erkenning]
Alle foto’s: Per gentile concessione del Museo Liverino, Torre del Greco
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Per gentile concessione del Museo Liverino, Torre del Greco