Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 6/22 bl. 20-22
  • Uit die kake—die groot bedrieër

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uit die kake—die groot bedrieër
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bedrieër word ontmasker
  • Wat veroorsaak TMG-ongesteldhede?
  • Wat jy kan doen
  • Wat jou tandarts kan doen
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
  • Waarom moet jy ’n tandarts besoek?
    Ontwaak!—2007
  • Kners jy op jou tande?
    Ontwaak!—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 6/22 bl. 20-22

Uit die kake—die groot bedrieër

LARRY het gedink hy is besig om van sy verstand af te raak. Hy het sewe maande lank harde suis- en zoemgeluide gehoor. Hy het ’n internis en ook ’n oorspesialis gaan spreek. Hulle kon nie die oorsaak van sy probleem vasstel nie.

Robert het meer as R7500 bestee om van sy folterende hoofpyne ontslae te raak. “Ek het na spesialiste en hospitale op elke denkbare plek gegaan . . . ek is deur al die toetse”, het hy gesê. Die dokters het pynstillers en spierverslappers voorgeskryf, maar die hoofpyne het voortgeduur.

Pauline moes jare lank knaende tandpyn verduur. Haar tandarts kon geen fout met haar tande vind nie en het haar na ’n dokter verwys. Die dokter het haar teruggestuur na die tandarts, wat ’n tand getrek het. Die tandarts het die tand met ’n tang teen die lig gehou en gesê: “Hierdie tand is heeltemal gesond.” Toe die narkose uitgewerk het, was die pyn terug.

Hoewel hulle simptome verskil het, het hierdie drie mense dieselfde ongesteldheid gehad. Dit is een wat meer as tienmiljoen mense in die Verenigde State alleen tref. Omdat dit tallose ander kwale naboots, het dit die bynaam “die Groot Bedrieër” gekry. Baie van sy slagoffers weet nie dat hulle dit het nie. Die meeste het dalk selfs nog nooit daarvan gehoor nie.

Die siekte word TMG-sindroom (temporomandibulêre-gewrigsindroom) genoem.a Behalwe die probleme wat hierbo genoem word, kan TMG-sindroom ook seer kaakspiere, pyn in die gesig, ’n seer nek en skouers, oogpyn, sinuspyn, duiseligheid en selfs gehoorverlies veroorsaak. As gevolg van al hierdie simptome word TMG-ongesteldhede dikwels verkeerd gediagnoseer of glad nie gediagnoseer nie. Gevolglik gaan baie mense van die een dokter na die ander en van die een spesialis na die ander sonder om verligting van hulle pyn te vind. Party wend hule wanhopig tot psigiaters terwyl ander pynstillers sluk. Maar dit is baie beter om ’n afspraak te maak by ’n goed ingeligte tandarts. Hy kan moontlik verligting bied—verligting wat dikwels pynloos en permanent is.

Die bedrieër word ontmasker

Kyk na die aard van die toestand. Die temporomandibulêre gewrigte (ons het elkeen twee) verbind die onderkaak, of mandibula, met die skedel. Hierdie gewrigte maak dit vir ons moontlik om ons kakebeen op en af, in en uit en selfs sywaarts te beweeg. Hulle word ingespan wanneer ons praat, kou, gaap, sluk of glimlag. Die temporomandibulêre gewrigte werk saam met ’n ingewikkelde stelsel van ligamente, bene, spiere, senuwees en bloedvate wat onderling met mekaar verbind is. By die meeste mense werk alles harmonieus saam en veroorsaak dit geen probleem nie.

Wanneer daar ’n wanbalans in die gewrig is, kan dit verskriklike pyn tot gevolg hê. Die situasie is al vergelyk met ’n man van 1,8 meter wat gedwing word om in ’n kamer wat net 1,75 meter hoog is te staan. Hy kan vir ’n tydjie sonder ongerief in ’n bukkende posisie bly staan, maar na ’n ruk kan die pyn geleidelik al hoe erger word. Die spiere moet die kaak eweneens voortdurend ondersteun as dit nie in die regte posisie in die skelet gehou word nie. Die gevolg is dieselfde as by die man onder die lae plafon—pyn.

Die Amerikaanse Ekwilibrasiegenootskap sê dat wanneer die temporomandibulêre gewrigte nie in die regte posisie is nie, hulle “die ergste vorm van fisiese spanning” kan veroorsaak “omdat daar geen manier is waarop die liggaam verligting kan vind nie”. Anders as met ’n beseerde ledemaat wat jy kan laat rus, werk die kaakgewrigte en verwante spiere die hele tyd, dag en nag.

Harold Gelb, ’n tandarts van New York en ’n gesaghebbende op die gebied van TMG-probleme, lewer kommentaar oor die gevolge van sulke aanhoudende spanning op hierdie spesifieke gewrigte en spiere, en skryf: “Spanning laat die spiere in die kop, nek en skouers, wat reeds gespanne is, krampagtig saamtrek. Omdat hierdie spiere so styf is, sal die sirkulasie in hulle beperk wees, en waar sirkulasie die swakste is, bou metaboliese afvalstowwe op en vorm dit snellerpunte in die weefsel. Snellerpunte kan maak dat pyn op enige plek in die liggaam gevoel word; een in die skouer kan kwaai pyn aan die kant van die kop veroorsaak wat soos migraines is. . . . Omdat die meeste spanning wat deur die wanbalans van die kaak veroorsaak word in die weefsel van die kop, nek en skouers voorkom, kom die meeste simptome in hierdie gebied voor.”

Wat veroorsaak TMG-ongesteldhede?

Maar hoe word die balans van hierdie gewrigte in die eerste plek versteur? Partymaal is dit as gevolg van ’n hou teen die kop, nek of kaak. Verkeerde kou- of slukgewoontes kan ook daarvoor verantwoordelik wees. Die algemeenste oorsaak is egter wanokklusie, ’n toestand waar die bo- en ondertande nie korrek op mekaar pas nie.

Die wanbalans van die temporomandibulêre gewrigte word dikwels vererger deur skadelike gewoontes soos om jou tande te kners, ’n pyp vas te byt en aan potlode of penne te kou. Of die versteuring kan vererger word deur ’n swak postuur, soos wanneer jy krom sit by ’n lessenaar of jy die gewoonte het om jou ken in jou hand te laat rus.

Die Amerikaanse Tandheelkundige Vereniging verduidelik dat wanneer die kaakspiere en -gewrigte nie behoorlik kan saamwerk nie, die gevolg dikwels spierspasmas is. Spierspasmas veroorsaak dikwels pyn, teerheid en skade aan die weefsel. Mettertyd word die gewrigte en spiere self beskadig en hulle vermoë om reg te funksioneer word selfs verder belemmer. Dit lei tot meer krampe, meer pyn en meer skade.

Wat jy kan doen

Hoe kan TMG-pyn gestil word? Soms bring vogtige hitte teen die gesig verligting. Sekere verdowingsmiddels kan in sommige gevalle ook help, maar dit is op sy beste ’n korttermynterapie. ’n Permanente oplossing behels gewoonlik dat slegte gewoontes wat spanning in die temporomandibulêre gewrigte en hulle ligamente, spiere, senuwees, ensovoorts veroorsaak, reggestel word. Dit kan ook behels dat die kaak weer in posisie gestel word.

’n Besonder skadelike gewoonte is om die tande op mekaar te klem of hulle te kners. ’n Persoon se tande moet gewoonlik nie opmekaar wees nie, behalwe wanneer hy kou of sluk. Maar ongeveer 40 persent van TMG-lyers het die gewoonte om hulle tande op mekaar te klem wanneer hulle nie moet nie, veral in die nag wanneer hulle slaap. Hierdie gewoonte om die tande op mekaar te klem, is gewoonlik ’n reaksie op emosionele spanning of wanokklusie.

Wat kan dus gedoen word as jy jou tande op mekaar klem? Party kan met die gewoonte breek deur die oorsake van die emosionele spanning te verminder of uit die weg te ruim. Tandartse het ander gehelp deur ’n onopvallende bytplaat (kouvlakskerm) oor die tande te pas, wat die nadelige gevolge van tandklemming teëwerk. Hierdie plastiekapparaat wat gewoonlik in die nag gedra word, verhoed dat die tande verkeerd op mekaar pas. Die dra van hierdie apparaat bring dikwels onmiddellike verligting.

Daar is ander dinge wat jy kan doen om die spanning in die kake te verlig. Vermy dit om jou ken op jou hand te laat rus. Moenie krom sit by jou lessenaar nie, en moenie die telefoon met jou ken teen jou skouer vasdruk nie. Ontwikkel ontspanne en beheerste kaakbewegings. En moenie aan penne en potlode kou nie.

Wat jou tandarts kan doen

As jy reeds aan TMG-pyn ly, sal jy waarskynlik behandeling deur ’n tandarts nodig hê. Aangesien die posisie van die kaak bepaal word deur die posisie van die tande wanneer die mond toe is, kan die tandarts besluit om die manier waarop die tande op mekaar pas te verander. Hy doen dit deur sekere tande te vyl en ander moontlik op te bou—’n proses wat ekwilibrasie genoem word. Dit laat die kaak toe om ’n korrekte en gemaklike posisie in te neem. Ekwilibrasie verg tyd en vaardigheid van die tandarts, maar is gewoonlik pynloos vir die pasiënt.

Die resultate is dikwels verbasend. Robert, wat aan die begin van die artikel gemeld is, het sy gebit op hierdie manier laat regstel. “Skielik het dit gevoel asof ek ’n hele nuwe stel tande in my mond het”, het hy gesê. “En die beste van alles was dat ek geen hoofpyne gehad het nie.” Iemand anders het uitgeroep: “Dit voel asof ek ’n hele nuwe mond het!”

Maar ten spyte van die suksesvolle behandeling van diegene met TMG-sindroom, word dit nog lank nie ten volle verstaan nie. Byvoorbeeld, presies wat veroorsaak die simptome? Waarom ly sommige met ’n ernstige kaakwanbalans glad nie, terwyl ander met net ’n effense wanbalans ontsettende pyn voel? Is persoonlikheid ’n faktor? En presies hoe word pyn van een liggaamsdeel na ’n ander oorgedra?

Die antwoorde op hierdie en ander vrae word deur die dokters en tandartse nagevors en bespreek. Tog is daar Iemand wat die presiese werking en al die ingewikkeldhede van die menseliggaam ten volle verstaan. Hierdie Persoon het belowe om ’n einde te maak aan al die onvolmaaktheid wat vir die mensdom pyn en lyding veroorsaak.—Openbaring 21:4.

As jy intussen vermoed dat jy TMG-sindroom het, besoek gerus ’n tandarts wat van die groot bedrieër weet. Hy of sy sal jou dalk kan help.

[Voetnoot]

a Dit word ook “TMG-wanfunksie” genoem.

[Venster op bladsy 22]

Is jou kakebeen skeef?

As jy op die volgende vrae ja antwoord, is dit dalk.

1. Sit jou vingers teen die kante van jou gesig net voor elke oor waar jy jou temporomandibulêre gewrigte kan voel. Maak jou mond nou ’n paar keer oop en toe. Is daar ’n klik, klap of kraak in die gewrigte?

2. Plaas nou die punte van jou pinkies liggies in elke oor en druk hulle vorentoe, na die voorkant van die oor. Maak weer jou mond oop en toe. Jy behoort te voel hoe jou kakebeen teen jou vingers druk. Voel jy dit aan die een kant meer as aan die ander? Is dit seer as jy dit doen?

3. Is dit soms moeilik om jou mond oop te maak, of is dit pynlik as jy dit wyd oopmaak?

4. Is dit gevoelig of pynlik in jou kaak of gesig om jou ore?

5. Is dit pynlik om te kou of te gaap?

6. Kners jy jou tande wanneer jy slaap? (Seer, moeë kake wanneer jy wakker word, is ’n aanduiding dat jy dit doen.)

7. Haak jou kake vas, sodat jy nie jou mond oop of toe kan maak nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel