Waarom verander?
MIN van ons erken graag dat ons opvallende swakhede het. Hoe waar is die woorde van die Skotse digter Robert Burns tog: “As ons maar net geseën was met die vermoë om onsself deur ander se oë te sien!” Ja, ons vind dit maklik om foute in ander raak te sien en is dalk gou om raad te gee oor hoe hulle kan verbeter. Maar enige voorstel dat óns ons gedrag moet verander, laat ons dalk aanstoot neem. Sal dit jou laat aanstoot neem?
Kom ons staan vir ’n oomblik stil en stel ons ’n volmaakte wêreld voor waar almal skoon, gesond, gelukkig en eerlik is; waar selfs gesaghebbendes vriendelik en bedagsaam is en daarin belangstel om aan ander goed te doen; waar daar geen hebsug is nie en niemand sy medemens uitbuit nie; waar kinders aan liefdevolle, besorgde ouers gehoorsaam is; waar daar geen woede-uitbarstings is nie—geen geweld, geen misdaad, geen onsedelikheid nie; waar mense mekaar vertrou en goedgeaard is; waar die lewe met ’n gevoel van veiligheid en behaaglikheid geniet kan word.
Kan jy jou voorstel dat jy in so ’n wêreld sal inpas, indien so ’n utopiese wêreld ooit kan bestaan? Wel, die goeie nuus van die Bybel is dat so ’n wêreld wel binnekort na hierdie aarde toe gaan kom. Die belangrike vraag is dus nou: Het jy enige karaktertrekke wat jou sal diskwalifiseer om in so ’n idilliese gemeenskap in te pas? Hoeveel moeite, dink jy, sal dit werd wees om te probeer om vir lewe in so ’n paradys te kwalifiseer?—Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:13.
Kan jou lewe selfs nou, voordat so ’n nuwe wêreld kom, verbeter word as jy iets omtrent jou gedrag en gesindheid doen? Indien wel, waarom verander jy nie? Dit is moontlik om dit te doen. Onthou, spesifieke invloede het jou gedrag oorspronklik gevorm. As jy dus meer beheer oor hierdie invloede uitoefen en jou daarop toelê, is dit moontlik om jou gedrag selfs nou te hervorm.
Miskien is jou beswaar egter nog: ‘Maar kan ek werklik verander? Ek het voorheen al baie keer probeer en misluk. Dis net soos ek is, en daar is niks wat ek daaromtrent kan doen nie!’
Beskou Paulus, ’n apostel van Jesus Christus (Romeine 7:18-21). Paulus was ’n heftige, eiegeregtige teenstander van Christene, maar het verander en self ’n Christen geword. Hy het verander omdat hy werklik wou verander. Hy het nie moed opgegee as gevolg van terugslae of genetiese invloede nie. Hy het nie geglo dat sy ou persoonlikheid nooit verander kon word nie. Dit het baie inspanning aan sy kant geverg. Maar hy het baie hulp ontvang.—Galasiërs 1:13-16.
Waar het hierdie hulp vandaan gekom?