Ontdek die ware jy
WAT sien jy wanneer jy in ’n spieël kyk? Jou eie weerkaatsing. Maar vertel dit vir jou wie jy werklik is? Vertel dit vir jou hoe ander jou dalk as persoon sien? Weet jy werklik wie jy is? Weet jy hoe jou persoonlike gedrag oorspronklik ontstaan het? Ja, hoe het jy, as ’n persoonlikheid, ontwikkel?
Wanneer jy stilstaan om al die elemente te ontleed wat jou persoonlikheid gevorm het, sal jy dalk opmerk dat baie invloede—hetsy deur ander persone of deur ander faktore—hulle stempel op jou gedruk het. Gedurende ons vroeë vormingsjare het die meeste van ons betreklik min te doen gehad met die vorming van ons eie gewoontes en maniere. Kom ons kyk dus na sommige van hierdie persoonlikheidsvormende invloede wat hulle stempel op jou gedruk het—van hulle lank voordat jy ’n kans gehad het om enigiets omtrent jou eie gedrag te doen.
Gene speel ’n belangrike rol
In watter mate het gene jou beïnvloed? Die DNS-plan, wat aangetref word in die chromosome wat oorerflike eienskappe oordra, bevat beskrywings en gekodeerde instruksies vir elke persoon se ontwikkeling. Hoeveel van jou gedrag word dus deur gene beïnvloed? Blykbaar is dit nog moeilik om te bewys dat daar enige definitiewe skakel tussen gene en persoonlikheid is. Daar is egter sekere benaderings wat blykbaar gegrond is. Party van jou oorgeërfde karaktertrekke het byvoorbeeld wel ’n direkte invloed op jou gedrag. Sommige mense erf dus teruggetrokke geaardhede terwyl ander van nature spontaner is.
’n Swanger vrou kan haar ongebore kind bevoordeel of benadeel deur haar dade, gedagtes en gevoelens. Aan presies hoeveel vrede of irritasie is jy blootgestel terwyl jy in jou moeder se baarmoeder was? Hoeveel het jy geleer uit jou ouers se stemtoon en die musiek waarna hulle geluister het? Watter uitwerking het die voedsel wat jou moeder geëet het op jou gehad? Watter uitwerking het alkohol of dwelms op haar gehad, as sy dit gebruik het? Teen die tyd dat jy gebore is, was baie van jou neigings gevestig en is hulle miskien moeilik om te verander.
Wat van dieet, allergieë, omgewing?
Terwyl jy grootgeword het, kon sekere stowwe in jou kos ’n uitwerking op jou gedrag gehad het. Versoeters, kunsmatige kleursels en preserveermiddels—almal kan ongemerk ’n invloed op jou gedrag hê. Hiperaktiwiteit, ’n toename in spanning, prikkelbaarheid, senupyn en onmatige en onbeheerste dade is net sommige van die gevolge. Besoedeling weens motor- en nywerheidsuitlaatgasse en ander gifstowwe in die omgewing vorm ook ’n mens se gedrag. Of jy het dalk self ’n allergie wat ’n baie ernstige uitwerking op jou het maar geen nadelige uitwerking op diegene rondom jou het nie.
Behalwe hierdie invloede het jou ouers se gedrag, hulle voorkeure en afkeure, sowel as hulle vooroordele waarmee jy van kleintyd af saamgeleef het, ’n uitwerking op jou gehad en jou persoonlikheid in sekere mate gevorm. Die gevolg is dat baie van jou gewoontes en jou algemene lewensbeskouing slegs ’n weerspieëling van hulle s’n is. Jy is geneig om ontsteld te raak oor dinge wat hulle ontstel. Jy is geneig om dinge te verdra wat hulle verdra het. En jy merk dit skaars op dat jy soos hulle optree totdat iemand vir jou sê dat jy net soos jou pa of jou ma is. Hulle finansiële en sosiale posisie, sowel as jou buurt en skoolmilieu, het ook ’n uitwerking op jou gehad. Jou vriende en metgeselle het ook ’n groot invloed op jou gehad. Miskien het ’n ongeluk (waarby jy of ’n goeie vriend betrokke was), die een of ander plaaslike ramp of selfs veelbewoë wêreldgebeure ’n uitwerking op jou gehad. Of die een of ander tragedie, soos ’n egskeiding of ’n ernstige siekte, kon ’n letsel op jou persoonlikheid gelaat het.
Kan jy, as jy daaroor nadink, enige sulke invloede identifiseer?
Watter rol speel godsdiens?
Teoreties gesproke moet godsdiens jou help om ’n beter mens te wees en jou morele gedrag, etiek en daaglikse roetine verbeter. Presies hoeveel van jou waardes en dade is deur godsdiens beïnvloed? Hoewel godsdiens veronderstel is om ’n mens van onverantwoordelike, kriminele gedrag te weerhou, word baie mense deur hulle kontak met godsdiens op ’n ander manier beïnvloed. Hulle merk op dat daar baie skynheiligheid en klem op materiële pleks van geestelike waardes in die kerke is en raak as gevolg daarvan verbitterd. Hulle kan selfs ongodsdienstig raak, beroof van hulle geestelikheid en hoop.
Jy kan dalk aan ander eksterne invloede dink wat ’n mens se gedrag vorm. Dink net ’n paar oomblikke na oor enige van die dinge wat jou tot dusver kon beïnvloed het. Kan jy van hulle opnoem? Dit is nie maklik om objektief te wees en op hierdie manier te dink nie, maar dit is die moeite werd en kan jou help. Hoe so?
Wel, as jy ’n sekere invloed of oorsaak van ’n negatiewe neiging in jou gedrag kan identifiseer, as jy dit duidelik kan onderskei, sal jy in ’n beter posisie wees om dit te beheers en dit selfs miskien te verander. As jy ’n ongewenste invloed kan beheers, of selfs daarvan ontslae kan raak, kan jy ’n ander mens word wat meer positief teenoor ander optree.
Dit is natuurlik ’n uitdaging. Maar aangesien so baie van die invloede op jou gedrag hulle stempel op jou gedruk het deur ander mense of deur omstandighede waaroor jy geen beheer gehad het nie, kan jy gerus die inisiatief neem en self iets omtrent die situasie doen. Verander gerus wat jy is as dit ’n verbetering sal beteken.
[Lokteks op bladsy 4]
Die dade en gevoelens van ’n swanger vrou kan haar ongebore kind beïnvloed