Nie die beste maniere om ’n verandering te maak nie
HOE kan veranderinge aangebring word wanneer gedragspatrone reeds gevestig is? Tot wie kan jy jou wend, en watter metodes kan gebruik word om blywende verbetering teweeg te bring?
Kom ons bespreek party uiterste maatreëls wat vandag gebruik word.
Politieke druk
Miljoene mense leef vandag onder regimes wat ideale en gedragsreëls probeer beheer. Sulke regerings gebruik hulle mag om veranderinge teweeg te bring—sommige op subtiele wyse en ander deur dwang. Party gebruik breinspoelingstegnieke, wat dikwels intimidasie, opsluiting en marteling insluit. Deur beheer uit te oefen oor die nuusmedia en ander opvoedkundige stelsels probeer hulle om alle vorige idees te vervang met dié wat deur die huidige heersende elite verkies word. Alle meningsverskil word met geweld onderdruk. Enigeen wat onwillig is om heropgevoed te word, sal dalk aan skrikwekkende behandeling onderwerp word wat dikwels die individu se gees breek.
Psigochirurgie en elektriese stimulasie
Daar is vasgestel dat sekere gedeeltes van die brein ’n invloed het op spesifieke gemoedstemminge en gedragsverskynsels. Psigochirurgie behels die fisiese verwydering of vernietiging van die breinweefsel in daardie gedeelte van die brein. As dit eers verwyder is, kan daardie gedeelte van jou brein nooit weer funksioneer nie, en enige gedrag wat deur daardie gedeelte beïnvloed is, sal verdwyn.
Daar word gesê dat duisende sulke operasies al uitgevoer is, veral op mense met afwykende en gevaarlike seksuele gedrag. Sommige het klein elektrodes diep in hulle brein laat inplant, en toe ’n stroom daardeur gestuur is, het dit die breinwerking in daardie gedeelte gestimuleer of geblokkeer. Daar word beweer dat dit die impulse verander wat die gedrag beïnvloed wat deur daardie deel van die brein beheer word.
Verdowingsmiddels
Verdowingsmiddels word algemeen in die psigiatrie gebruik en is dikwels nodig. Daar is verdowingsmiddels om mense te kalmeer, verdowingsmiddels om mense te laat slaap, verdowingsmiddels om mense op te kikker en verdowingsmiddels om chemiese wanbalanse in die brein reg te stel. Daar is ook verdowingsmiddels wat al as straf in tronke en ander verbeteringsinstitusies gebruik is. Twee sulke verdowingsmiddels is apomorfien en Anectine.
Apomorfien is al toegedien aan gevangenes wie se gedrag as onaanvaarbaar beskou is. Dit veroorsaak verskriklike naarheid en braking. Daar word vir die gevangene gesê dat as hy hom weer swak gedra hy meer apomorfien sal kry. Dit word ook aversieterapie genoem. Anectine veroorsaak ’n asmatiese, versmorende gevoel in die gevangene wat hom sleg gedra het. Hy dink hy gaan dood. En as hy hom weer sleg gedra, kry hy meer Anectine.
Is dit die maniere wat jy sal gebruik om jou gedragspatroon te verander?
Die meeste van die bogenoemde metodes skend die mens se wilsvryheid. Dit behels ook die invloed van mense met mag oor ander maar wat nie altyd ’n mens se welsyn in gedagte het nie. Soek die politieke mag sy eie voordeel of die individu s’n? Wie hou die skalpel vas in psigochirurgie? Wie beheer die skakelaar wanneer elektriese stimulasie gebruik word? Hoe langdurig is aversieterapie? Kan die terapeut vertrou word?
Kom ons bespreek ’n aanneemliker metode.