VIGS—’n Krisis vir tieners
DIE vigs-epidemie ontsien geen ouderdom of generasiegaping nie. Die opskrif van ’n artikel oor vigs in die New York Times het gelui: “Vigs versprei onder tieners, ’n nuwe neiging wat die deskundiges verontrus”, en oor die hele wêreld lewer berigte bewys hiervan. Die omvang van vigs-besmetting onder tieners “gaan die volgende krisis wees”, het dr. Gary R. Strokash, hoof van adolessentgeneeskunde aan ’n bekende mediese sentrum in Chicago gesê. “Dit is afgryslik en dit gaan verwoestend wees”, het hy gesê. “Indien daar geen entstof is nie, gaan die vigs-epidemie van die negentigerjare ongetwyfeld onder . . . tieners voorkom”, het dr. Charles Wibbelsman, hoof van die tienerkliniek by Kaiser Permanente Medical Center in San Francisco, gesê. Toe hy oor vigs-besmette tieners gepraat het, het ’n bekende vigs-opvoedkundige in die stad New York gesê: “Ons dink dit is ’n kritieke noodtoestand.”
The Toronto Star van Kanada het in ’n hoofartikel bespreek wat die somber vooruitsig is van vigs wat onder tienderjariges versprei. “Dit is tans baie erger as wat enigeen besef”, het een dokter gesê. “Ek dink dit is ’n verskriklike probleem waaroor ons nie werklik beheer het nie. Ons gaan uiteindelik uitvind hoe erg dit is.” Die dokter se eenvoudige woorde word die eenparige opinie van gesondheidsamptenare en regeringsleiers oor die hele wêreld terwyl die vigs-plaag drastiese afmetings aanneem.
Tot onlangs het deskundiges op die gebied van vigs adolessente nie as ’n hoërisikogroep beskou vir besmetting deur HIV (menslike immuungebreksvirus), waardeur vigs veroorsaak word nie. “Ons praat van iets wat slegs ’n jaar gelede bloot ’n teoretiese moontlikheid was”, het een dokter in die stad New York gesê. Maar “dokters wat net ’n jaar gelede nie een besmette tienderjarige pasiënt gehad het nie, het nou twaalf of meer”, het The New York Times berig.
Hoewel beskikbare inligting oor tienderjariges wat met die vigs-virus besmet is, verontrustend is, meen navorsers dat dit slegs ’n vae beeld van die werklikheid is, aangesien simptome dikwels nie verskyn voor gemiddeld sewe tot tien jaar na besmetting nie. Diegene wat dus in hulle vroeë tienderjare met HIV besmet word, sal dalk nie voor hulle laat tienderjare of vroeë twintigerjare al die vigs-simptome ontwikkel nie.
In ’n onlangse studie van alle geboortes in die staat New York sedert 1987 het die staat se gesondheidsdepartement byvoorbeeld bevind dat 1 uit elke 1000 babas wat vir 15-jariges gebore word vigs-teenliggaampies het, wat daarop dui dat die ma van die baba besmet is. ’n Ontstellende feit is dat dieselfde studie aan die lig gebring het dat 1 uit 100 babas wat vir 19-jariges gebore word vigs-teenliggaampies gehad het. ’n Verdere studie deur die CDC (Centers for Disease Control in Amerika) het aan die lig gebring dat 20 persent van Amerikaanse mans en 25 persent van Amerikaanse vroue wat vigs het in hulle twintigerjare is. Die studie deur die CDC berig dat die siekte in die meeste gevalle gedurende adolessensie opgedoen is.
Maar hoe is dit moontlik, aangesien babas wat met die vigs-virus gebore word selde indien ooit tot in hulle tienderjare bly lewe? Die redes is skokkend!
Navorsers en dokters erken geredelik dat tieners vandag “seksueel uiters aktief is, soos die syfers van seksueel oorgedraagde siektes onder hulle aandui”, het The New York Times berig. Die Center for Population Options berig dat 1 uit 6 tieners elke jaar ’n seksueel oorgedraagde siekte opdoen en dat 1 uit elke 6 seksueel aktiewe hoërskoolmeisies al minstens vier verskillende maats gehad het.
“Ten spyte van aanmoedigings om ‘net nee te sê’, verloor die gemiddelde Amerikaanse tiener hulle maagdelikheid op 16”, het die U.S.News & World Report berig. “Aangesien min tieners getoets word, besef die meeste wat besmet is nie dat hulle die HIV-virus dra nie”, het die tydskrif gesê. Met of sonder die seksuele promiskuïteit wat met die gebruik van crack-kokaïen verbind word, en of hulle wegloopkinders is of nie, “Amerikaanse tieners is maklike teikens vir vigs”, het een deskundige op die gebied van vigs geskryf. “Daar is reeds elke jaar 2,5 miljoen gevalle van seksueel oorgedraagde siektes onder hulle.” Dr. Gary Noble van die CDC het hierdie kommentaar gelewer: “Ons weet dat hulle seksuele gedrag ’n aansienlike risiko vir besmetting inhou.”
Nog een van die vinnig toenemende besmettingskanale van die vigs-virus is die straatkinders, waarvan sommige nog nie eers tieners is nie en waarvan baie van die huis weggeloop het omdat hulle ouers hulle mishandel. Onder hulle is daar ’n dramatiese toename in die aantal wat hulle tot crack-kokaïen wend. Baie wend hulle tot prostitusie om vir hulle verslawing te betaal of om ’n plek te hê om te slaap. In Suid-Amerika “werk meisies van net nege en tien jaar oud [byvoorbeeld] dikwels as prostitute, soms net vir ’n bord kos”, het ’n Brasiliaanse kinderraadgeefster gesê. “Baie weet min van vigs of seks. Hier was al meisies by my wat swanger was en gedink het dat hulle dit soos ’n verkoue ‘opgedoen het’”, het sy gesê.
Dr. Philip Pizzo, ’n vigs-deskundige en hoof van pediatrie by die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut, het gesê dat die syfer van HIV-besmetting onder tienderjarige wegloopkinders niks goeds vir die vigs-epidemie inhou nie. “Daar is meer as ’n miljoen wegloopkinders wat hulle bestaan deur seks maak. ’n Aantal van hulle sal ongetwyfeld weer in die gemeenskap opgeneem word.”
Is dit enigsins verbasend dat die vigs-epidemie wêreldwyd met rasse skrede onder tieners toeneem? Is dit onstuitbaar? Dit sal onstuitbaar wees so lank as diegene wat met die vigs-virus besmet is en diegene wat nie vir voorhuwelikse seks nee kan sê nie onverskillig en oorgerus is. Beskou byvoorbeeld hierdie berig van The Sunday Star van Johannesburg. In ’n onlangse opname wat gemaak is onder 1142 kliniekpasiënte wat seksueel oorgedraagde siektes het, het 70 persent erken dat hulle van 3 tot 80 seksmaats per maand het. Sommige is steeds aktief en besmet ander.
Ongelukkig is baie tieners nie te besorg oor die feit dat hulle vigs kan opdoen nie. Vir hulle is elke dag so ’n stryd om oorlewing—daar is so baie maniere om op die straat te sterf—dat hulle hulle nie kan steur aan iets wat hulle dalk eers oor ’n paar jaar sal doodmaak nie. Hulle meen dat ’n geneesmiddel om hulle te red beslis intussen gevind sal word. “Adolessente is ’n treffende voorbeeld van ’n groep wat nie tien jaar in die toekoms inkyk nie”, het een vigs-deskundige gesê.
Daar is ook ’n rampspoedige wanbegrip onder baie dat hulle seksmaats nie leuens vertel wanneer hulle sê dat hulle nie die vigs-virus het nie. Dit is alte dikwels nie die geval nie. Selfs in gevorderde stadiums van die siekte besmet baie slagoffers ander opsetlik uit woede of wraak.
’n Groep wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is diegene wat met die virus besmet word deur besmette naalde wat gebruik word om dwelms in te spuit—’n besmettingskanaal wat reeds baie slagoffers geëis het. En ten laaste is daar die immerteenwoordige gevaar om vigs deur bloedoortappings op te doen. Baie onskuldige slagoffers het reeds aan die siekte gesterf, en ander sal nog van HIV-besmette bloed sterf. Baie dokters en verpleegsters vrees dat hulle hul kan prik met naalde wat met die vigs-virus besmet is, wat hulle lewe onherroeplik kan verander. Is dit enigsins verbasend dat vigs die krisis van die negentigerjare en daarna genoem word