Van ons lesers
Hulp vir die sterwendes Dankie vir die artikels oor “Hulp vir die sterwendes” (22 Oktober 1991). My suster het ’n breingewas gehad en die dokter het ons meegedeel dat hulle óf haar lewe kan verleng [deur buitengewone mediese metodes] óf die siekte sy gang kan laat gaan. Dit was ’n moeilike besluit, maar ons het uiteindelik op laasgenoemde besluit. Maar na haar dood het dit vir my begin voel asof ons gesondig het. Daarom het ek so verlig gevoel nadat ek die artikels gelees het. Baie dankie dat julle ons van troos en hulp op die regte tyd voorsien het!
A. L. M. A., Brasilië
Gesinne kom na aan mekaar Ons wil net ons waardering uitspreek vir die pragtige reeks “Gesinne—Kom na aan mekaar voor dit te laat is” (22 September 1991). Aangesien ons onlangs die ouers van ’n wonderlike babaseuntjie geword het, het ons die persoonlike opmerkings geniet van ouers rondom die wêreld oor hoe om kinders groot te maak. Ons hoop en bid dat ons ook ons seun kan ‘opvoed in die tug en vermaning van die Here’.—Efesiërs 6:4.
R. S. en J. L. S., Verenigde State
Ek wou lankal vir julle vertel hoeveel ek julle artikels waardeer. Maar nadat ek die nommer gelees het oor hoe om familiebande te versterk, moes ek net skryf en dankie sê. Ek het ’n paar maande gelede geboorte gegee en ek en my man sal alles in ons vermoë doen om hierdie wenke toe te pas.
S. D., Italië
Lees Ek is ’n jongmens en ek geniet dit baie om te lees. Maar ek verstaan nie altyd wat ek lees nie, en ek is geneig om moeilike woorde oor te sien. Die artikel “Verruim jou horison deur te lees” (22 Julie 1991) het my gehelp om in hierdie opsig te verbeter.
A. R. B., Brasilië
Ek probeer al jare lank om elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees, maar hoewel ek ’n rooster het wat voorsiening maak daarvoor kon ek dit nie regkry nie. Julle artikel het my gehelp om te besef dat slegte leesgewoontes my probleem is. Ek waardeer die wenke oor hoe om my leesvermoë te verbeter.
A. K. F. M., Brasilië
Hospitale Laat my toe om op die reeks “Hospitale—Wat staan jou te doen?” (8 Maart 1991) kommentaar te lewer. Ek was verlede jaar vier keer in die hospitaal. Ek het weerloos en onbeskermd gevoel. As ek vrae gevra het oor my toestand, metode van behandeling en newe-effekte van medisyne het my dokters dit as ’n mosie van wantroue beskou. Hulle het selfs gesê: ‘Jy hoef nie hier te wees nie. Jy kan huis toe gaan.’
R. A., Tsjeggo-Slowakye
Die idee van pasiënte se regte word nie universeel aanvaar nie, hoewel sulke regte vinnig erkenning verkry. Hospitaalskakelkomitees wat deur Jehovah se Getuies gestig is, het reeds ’n mate van sukses behaal om dokters se samewerking te verkry. Maar waar pasiënte se regte nog nie gerespekteer word nie, kan individue hulle situasie verbeter deur ’n tegemoetkomende verhouding van samewerking met hulle geneesheer aan te knoop voordat hospitalisasie nodig word. Dit is altyd verstandig as ’n Christen mediese personeellede op ’n vriendelike en eerbiedige manier behandel.—RED.
Vermy teistering Ek het die artikel “Jongmense vra . . . Wat kan ek doen sodat hy my sal uitlos?” (22 Mei 1991) waardeer. Hoewel die artikel hoofsaaklik vir meisies gepubliseer is, kan ons seuns iets daaruit leer. Ek het onlangs voor ’n soortgelyke probleem te staan gekom toe ’n meisie my in die versoeking gebring het om my vriendskap met God op die spel te plaas! Julle artikel het net betyds gekom en my gehelp om die situasie die hoof te bied.
E. K. O., Ghana
Sien ons nommer van 8 Oktober 1991 vir spesifieke wenke aan seuns wat voor sulke situasies te staan kom.—RED.