Trekvoëls, pas op: Vermy Europa!
“SELFVOLDAAN soos die kat wat die kanarie geëet het, bedien die kelner die hoofgereg. Op die bord, langs die porsie stomende graan, wys drie klein, verkoolde bekkies na die ongelukkige restaurantganger. Die gebraaide voëltjies is gepluk maar nie skoongemaak nie. Hulle vlerkies en speekbeentjies lyk soos insekpote. Hulle blink van die geurige olyfolie.”
Verlede jaar het ’n artikel in The Wall Street Journal so begin. Dit is ’n feestelike, duur vakansiegereg wat in ’n restaurant in Italië bedien word. Die restaurantganger sit gewoonlik die voëltjies heel in sy mond en kou dit bene en al. Maar hierdie keer gebeur dit nie. In plaas daarvan stoot die restaurantganger, Piergiorgio Candela, ’n beampte van die Italiaanse voëlbeskermingsvereniging, die drie klein voëltjies op sy bord rond om te probeer vasstel watter soort voëls dit is. Hy kom tot hierdie gevolgtrekking: “Hierdie voëls is onwettig.” Op een so ’n ondersoek het hy 1 400 geplukte rooiborsies in die kombuis gekry.
Die artikel gaan voort: “’n Paar spesies kan doodgemaak en wettig verkoop word; maar die meeste kan nie. Maar dit beteken nie veel nie. Elke jaar beland 50 miljoen beskermde rooiborsies, lewerikke en ander sangvoëls op Italiaanse borde. . . . Altesaam ongeveer 15% van die trekvoëls in die Mediterreense gebied word deur jag en strikke gedood. In Spanje smeer die Kataloniese boere gom aan takkies om die voëls te laat vassit voordat hulle gepekel word. Naby Bergamo, in Italië, verblind strikspanners sangvoëls om troeteldiere wat mooi sing van hulle te maak. En in Malta neem 10% van die 300 000 bewoners aan ’n jaarlikse fuifparty deel waartydens hulle viermiljoen wilde voëls skiet, in hokke sit en opstop.”
Migrerende sangvoëls het deesdae nie veel om oor te sing nie. In party streke laat hulle skaars ’n piep van hulle hoor.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
G.C. Kelley photo