Die plek wat sport beklee
DIE Groot Skepper word in die Bybel as “die gelukkige God” beskryf, en hy wil hê sy skepsele moet gelukkig wees (1 Timotheüs 1:11, NW). Dit moet ons dus nie verbaas dat hy mense geskep het met die vermoë om sport te geniet nie. The New Encyclopædia Britannica sê gevolglik: “Die geskiedenis van sport en spele is ’n deel van die mens se geskiedenis.”
Die verskyning van die bal is na bewering die belangrikste faktor in die geskiedenis van spele. “Die waarneming dat diere dit geniet om met speelgoed te speel, is ’n aanduiding dat daar dalk nooit ’n tyd was . . . toe iets soortgelyks aan ’n bal nie gejaag of rondgegooi is nie”, sê die ensiklopedie wat hierbo aangehaal is.
Dit is interessant dat ’n instrument om die bal mee te slaan al lank gebruik word. “Die Perse, Grieke en Indiane van Amerika het ongetwyfeld speletjies gespeel waarin ’n voorwerp met iets soos ’n stok geslaan is”, sê die Britannica. “Polo, ’n woord van Tibettaanse oorsprong, was gedurende die tyd van Darius I (wat vanaf 522-486 v.C. geregeer het) blykbaar in die een of ander vorm aan die Perse bekend. Hoewel Skotland beweer dat moderne gholf daar uitgevind is, het gholf goeie voorlopers in Romeinse tye en in baie Europese lande gehad.”
Vroeë klem op spele
Honderde jare voordat die Hebreeuse Geskrifte (“Ou Testament”) voltooi is, was georganiseerde sport al gewild. Spele is byvoorbeeld elke vier jaar in eertydse Olympië, Griekeland, gehou. Die Britannica sê: “Daar is verslae van die kampioene in Olympië vanaf 776 v.C. tot 217 n.C.”, of vir bykans duisend jaar! Die Olimpiese Spele was so belangrik in die Griekse leefwyse dat tyd deur middel daarvan gemeet is, en elke tydperk van vier jaar tussen die spele is ’n Olimpiade genoem. Volgens daardie vroeë metode om tyd te bereken, is Jesus Christus dus gedurende die 194ste Olimpiade gebore.
Die Hebreeuse Geskrifte sê niks oor georganiseerde spele nie, hoewel een van die profete sê ‘die pleine van Jerusalem sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat speel’ (Sagaria 8:5). Meer as honderd jaar voor Jesus se geboorte is Griekse atletiekwedstryde in Israel bekend gestel. ’n Gimnasium is in Jerusalem geopen, en selfs sommige priesters het hulle pligte versuim sodat hulle aan die spele kon deelneem.—2 Makkabeërs 4:12-15.
Keiser Augustus, die Romeinse keiser wat aan bewind was toe Jesus gebore is, het ’n voorliefde vir atletiek gehad, en spele het gewild geword in Rome. Maar die nommers waarin die Romeinse burgers werklik belanggestel het, was dié waarby gevegte, soos boks en stoei, betrokke was. Hierdie “sportsoorte” het dikwels ontaard in gewelddadige wedstryde waartydens bloed vergiet is en waarin mense in gevegte tot die dood teen mekaar of teen diere te staan gekom het.
Sport in die “Nuwe Testament”
Tog het hierdie verskriklike misbruik van sport nie beteken dat dit verkeerd is om aan sport deel te neem nie. Ons lees nêrens in die Skrif dat Jesus of sy volgelinge spele of deelname daaraan veroordeel het nie. Die apostels het eerder dikwels aspekte daarvan gebruik om punte in hulle onderrigting toe te lig.
Die apostel Paulus het ongetwyfeld die wedlope in die Olimpiese Spele in gedagte gehad toe hy Christene byvoorbeeld aangespoor het: “Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike.”—1 Korinthiërs 9:24, 25, NAV.
By ’n ander geleentheid het Paulus gesê dat ’n Christen met vasberadenheid moet hardloop om die prys van die lewe te verkry. “[Ek] jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God”, het hy geskryf (Filippense 3:14). Daarbenewens het Paulus, toe hy geïllustreer het hoe belangrik dit is om by die reëls vir ’n sedelike lewe te bly, Timotheüs gemaan: “As iemand aan ’n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie” (2 Timotheüs 2:5). En die apostel Petrus het geskryf dat Christenherders wat hulle verantwoordelikhede nakom ‘die onverwelklike kroon van heerlikheid sal ontvang’.—1 Petrus 5:4.
Jong Timotheüs is ongetwyfeld gebruik om raad te gee aan jong Christene wat sport geniet het. Paulus het gevolglik aan hom geskryf dat ‘liggaamlike oefening as ’n gimnas tot weinig nut is’, en hy erken dus dat die gimnastiekoefeninge wat die Grieke nougeset gedoen het ’n bietjie nut gehad het. “Maar”, het Paulus vinnig bygevoeg, “die godsaligheid [“godvrugtige toegewydheid”, NW] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Timotheüs 4:8; sien The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures.
’n Gepaste plek vir oefening
Die Skrif dui dus aan dat liggaamlike oefening ’n gepaste plek in die lewe kan hê. Maar ons moet gebalanseerd en redelik wees. “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word”, het Paulus geskryf (Filippense 4:5, NW). Maar hoe moeilik is dit tog nie om hierdie balans te vind nie!
Die eertydse Grieke het te veel klem op sport gelê, en die Romeine het vertonings gehou van sportsoorte waarin die deelnemers sowel as diegene wat hulle in die bloederige vertonings verlustig het, beseer is. Daarenteen het sommige in die naam van godsdiens spele teëgegaan en selfs verbied. The New Encyclopædia Britannica het opgemerk: “Die puriteinse gesindhede van die 17de eeu het die pret in Europa en Amerika laat afneem.”
Sport het onlangs ’n herlewing ondervind wat waarskynlik nog nooit in die mensegeskiedenis geëwenaar is nie. “Naas die weer”, sê The World Book Encyclopedia, “praat mense waarskynlik meer oor sport as oor enige ander onderwerp.” Sport is al selfs “die opiaat van die volksmassa” genoem.
Wat is sommige van die probleme wat so ’n geesdrif vir sport tot gevolg het? Word jy of jou gesin daardeur benadeel? Hoe kan jy sport op sy regte plek hou?