Die Bybelse beskouing
Is mededinging in sport verkeerd?
TWEE bejaarde mans sit op ’n sonnige dag in ’n park en dambord speel. Naby hulle is daar die geluide van kinders wat skreeu en rondhardloop terwyl hulle aan-aan speel. Nie te ver daarvandaan nie speel ’n groep jong mans basketbal. Ja, elke dag geniet oud en jonk oral om ons sport en speletjies. Wanneer hulle deelnemers is, probeer die meeste mense hard om hulle bes te doen. Moontlik doen jy dit ook.
Maar kan daar gesê word dat sulke vriendskaplike vorme van mededinging verkeerd is? Baie is bewus van die apostel Paulus se vermaning in Galasiërs 5:26, waar hy gesê het dat Christene nie ‘wedywering met mekaar moet aanwakker’ nie. Sou dit in die lig hiervan vir Christene verkeerd wees om in ontspanningsport en -speletjies mee te ding?
Eenvoudig gestel, nee. Waarom nie? Kom ons kyk kortliks na die geskiedenis van sport en speletjies voordat ons daardie vraag beantwoord.
Die geskiedenis van sport en speletjies
Deelname aan sport en speletjies dateer uit die ou tyd en was nog altyd deel van die geskiedenis—ook die geskiedenis van God se volk. Die woord “bal” kom selfs in die Bybel voor. Wanneer Jesaja 22:18 van Jehovah God se veroordeling van goddelose manne praat, sê dit: “Hy sal [hulle] . . . styf toedraai, soos ’n bal” (NW). Party hedendaagse balle—soos gholfballe en bofballe—word nou nog gemaak deur materiale styf toe te draai. Die King James-Bybel vertaal dieselfde vers: “Hy sal . . . jou soos ’n bal gooi.” Vir hierdie analogie om van toepassing te wees, moes diegene wat destyds gelewe het balle gebruik het.
Daarbenewens is daar in die Bybel die geval van die aartsvader Jakob wat met ’n engel gestoei het. Hierdie verslag impliseer blykbaar dat Jakob ’n mate van voorafgeoefende vaardigheid gehad het, aangesien die stryd onbeslis was en ure lank geduur het (Genesis 32:24-26). Interessant genoeg, volgens party geleerdes dui die verslag moontlik daarop dat Jakob iets van stoeireëls geweet het. Israeliete het moontlik ook aan boogskietery deelgeneem—nog ’n sportsoort wat oefening en vaardigheid verg (1 Samuel 20:20; Klaagliedere 3:12). Hardlopery was nog ’n atletiese strewe waarvoor manne van die ou tyd geoefen het.—2 Samuel 18:23-27; 1 Kronieke 12:8.
Speletjies wat die verstand besig gehou het—soos om raaisels te vra—was blykbaar gewild en is deur baie waardeer. Die noemenswaardigste voorbeeld hiervan is waarskynlik dié van Simson wat die Filistyne ’n raaisel gevra het.—Rigters 14:12-18.
In die Christelike Griekse Geskrifte is sport en speletjies partykeer as metafore vir die Christelike lewenswyse gebruik. In 1 Korintiërs 9:24, 25 meld Paulus byvoorbeeld ’n atleet se streng oefenprogram en pas dit op ’n Christen se behoefte aan selfbeheersing en volharding toe. Dit is ook duidelik dat Jehovah baie van sy skeppingswerke met ’n spelerige trek gemaak het, want mense sowel as diere vind die tyd om te speel.—Job 40:15; Sagaria 8:5; vergelyk Hebreërs 12:1.
Wanneer mededinging te ver gedryf word
Wat het die apostel Paulus dan bedoel toe hy vir mede-Christene gesê het dat hulle nie ‘wedywering met mekaar moet aanwakker’ nie? (Galasiërs 5:26). Die antwoord lê in die konteks opgesluit. Paulus het hierdie stelling ingelei deur te sê dat hulle nie ‘egotisties moet word’ of, soos ander Bybelvertalings dit stel, dat hulle nie “trots”, “verwaand” of “soekers van ydele eer” moet word nie. Die najaging van roem en aansien was iets algemeens onder die atlete van Paulus se dag.
So begin al hoe meer atlete in vandag se verwaande wêreld ook windmakerig stap en die aandag op hulleself en hulle vaardighede vestig. Party skroom selfs nie om ander te verneder nie. Uittarting, beskuldigings en mondelinge verkleinering, of uitjouery, is vinnig besig om die norm te word. Dit alles sal ‘wedywering aanwakker’ en lei tot dit waarna Paulus in die slotdeel van Galasiërs 5:26 verwys het—afguns.
In die ergste geval lei ongebalanseerde mededinging tot bakleiery en selfs die dood. Beskou die ontmoeting tussen Saul se manne en dié van Dawid by Gibeon toe Abner en Joab ooreengekom het dat ‘die jongmanne hulle moet regmaak en voor hulle speel’ (2 Samuel 2:14-32). Dit verwys blykbaar na die een of ander soort stoeitoernooi. Wat die wedstryd ook al was, dit het spoedig in ’n wrede en bloedige geveg ontaard.
’n Gebalanseerde beskouing
Ontspanningsport en -speletjies moet verkwikkend wees—nie neerdrukkend nie. Ons kan dit regkry deur sake nugter te beskou en te onthou dat ons waarde voor God en ons medemens niks met ons vaardigheid in sport of speletjies te doen het nie.
Dit sou dwaas wees om toe te laat dat ons weens fisiese of verstandelike vermoëns meerderwaardig begin voel. Laat ons dus die onwelvoeglike, wêreldse neiging vermy om die aandag op onsself te vestig, sodat ons ander nie afgunstig maak nie, want die liefde praat nie groot nie (1 Korintiërs 13:4; 1 Petrus 2:1). En hoewel dit redelik is om opwinding, tye van spontane entoesiasme en gelukwensing onder spanmaats te verwag, moet ons hierdie emosies nie vrye teuels gee en dit ’n spoggerige vertoon laat word nie.
Ons sal nooit die waarde van ander aan hulle vermoëns in sport en speletjies meet nie. Ons moet ook geensins minder van onsself dink weens gebrek aan vaardigheid nie. Beteken dit dat dit verkeerd sal wees om telling te hou? Nie noodwendig nie. Maar ons moet onthou hoe onbeduidend enige spel werklik is—mense se werklike waarde hang nie af van hoe goed hulle speel nie. Wanneer daar in spanne gespeel word, ruil party gereeld die spelers in elke span om sodat daar nie een span is wat altyd wen nie.
Christene moet ook in gedagte hou dat sport en speletjies weliswaar in die Bybel genoem word, maar net selde. Dit sal ’n fout wees om die gevolgtrekking te maak dat die blote feit dat sport in die Bybel gemeld word, beteken dat alle sport sonder voorbehoud goedgekeur word. (Vergelyk 1 Korintiërs 9:26 met Psalm 11:5.) Paulus het ook gesê dat ‘liggaamlike oefening min voordeel het; maar dat godvrugtige toegewydheid voordelig is vir alles’.—1 Timoteus 4:8.
Op hulle regte plek is sport en speletjies dus aangenaam en verkwikkend. Die Bybel veroordeel nie alle mededinging nie, maar wel mededinging wat ydelheid, wedywering, hebsug, afguns of geweld aanwakker.