Jongmense vra . . .
Wat is verkeerd met sarkasme?
‘Jy is nogal slim . . . vir ’n idioot!’
‘Dis ’n pragtige rok. Net jammer hulle het nie jou grootte gehad nie!’
‘Ek het laas sulke grimering by die sirkus gesien.’
VLYMSKERP woorde, ongeag wat daarmee bedoel word, kan diep in ’n mens se selfrespek insny. Al word dit as ’n grap bedoel, kan sarkastiese woorde vyande maak en gekwetste gevoelens en verbroke vriendskappe veroorsaak.
Maar miskien het jy die “gawe” om sarkasties te wees. Vriende skater oor jou snydende kwinkslae en aanmerkings. Hulle por jou aan om met nog spitsvondige gesegdes vorendag te kom. Of moontlik het sarkasme jou vernaamste middel tot selfverdediging geword. Gewapen met woorde wond en verlam jy enigiemand wat enigsins jou welstand—of jou ego—bedreig. Jy voeg miskien soms selfs jou ouers of jou broers en susters ongevoelige woorde toe.
Sarkasme het sy plek. Ligte vorme van sarkasme kan snaaks wees. En somtyds kan sarkasme diep gevoelens weergee. Die Bybel toon dat die apostel Paulus, Job en selfs God sarkasme gebruik het om regverdige verontwaardiging uit te spreek (Job 12:2; Sagaria 11:13; 2 Korinthiërs 12:13). Maar taktlose of wrede sarkasme is niks anders as gewelddadige, aggressiewe gedrag nie. Soos skryfster Mary Susan Miller in haar boek Childstress! sê, is dit ’n vorm van “messtekery en aanranding”, in hierdie geval met ‘wapens wat sosiaal aanvaarbaarder is’ as gewere en messe.
Tog beskou baie mense ’n snydende sarkastiese aanmerking as net nog ’n manier om iets op ’n humoristiese wyse uit te druk. Wat is dan verkeerd daarmee?
Net onskuldige pret?
“Waar ek werk”, sê Eric, “is almal sarkasties. Dit word meestal as ’n grap beskou.” Interessant genoeg, The New York Times berig: “Sielkundiges sê herhaaldelik . . . dat mans geesdriftiger op ‘aggressiewe’ humor reageer as vroue.” Tienerseuns kan derhalwe besondere behae daarin skep om ander met woorde te terg, te treiter en te verpes.
Ligte sarkasme kan weliswaar grappig wees. Maar wanneer sarkasme kwaadwillig is, kan die pyn wat deur die snydende aanmerking veroorsaak word, voortduur lank nadat die gelag bedaar het. (Vergelyk Spreuke 14:13.) ’n Speelse vernufstryd loop dikwels op ’n hewige rusie uit. ’n Jong man het dit só gestel: “Wanneer jy diep seergemaak is deur iets wat iemand gesê het, sal jy moontlik daarop reageer deur met die kwetsendste ding waaraan jy kan dink terug te kap. Dan is dit nie meer net ’n grap nie; jy probeer in werklikheid die ander persoon seermaak. En sarkasme kan ’n baie doeltreffende wapen wees.”
Trouens, die Afrikaanse woord “sarkasme” is afgelei van ’n Griekse werkwoord wat letterlik beteken “om vlees te verskeur soos honde”. (Vergelyk Galasiërs 5:15.) Net soos ’n hond sy skerp snytande gebruik om vleis van ’n been af te skeur, kan ’n sarkastiese mens ’n ander van sy waardigheid beroof. Die Journal of Contemporary Ethnography sê: “Die kern van sarkasme . . . is openlike vyandigheid of minagting.” Dit maak nie saak of dit ’n direkte aanval, ’n subtiele belediging of ’n verspreking is nie. ’n Taktlose, sarkastiese aanmerking maak iemand ’n voorwerp van bespotting—’n slagoffer.
Met watter gevolge? Negentienjarige Josh sê: “Sarkasme kan jou regtig onnosel laat voel.” Maar die skade kan baie langer duur. In haar boek Toxic Parents maak dr. Susan Forward melding van die gevolge van uitskellery deur ouers: “Ek het al duisende pasiënte gesien [wat] aan ’n gekrenkte gevoel van eiewaarde ly omdat ’n ouer . . . ‘geskerts’ het oor hoe dom, lelik of onwelkom hulle was.” Stel jou dus voor wat die gevolge kan wees as jy ’n vriend, ’n kennis of een van jou broers of susters aan kwetsende sarkasme onderwerp. Dr. Forward kom tot hierdie slotsom: “Humor wat afkraak, kan uiters skadelik wees.”—Vergelyk Spreuke 26:18, 19.
Dit is dus geen wonder dat ’n boek oor kinderontwikkeling tot dié gevolgtrekking gekom het nie: “Sarkasme . . . moet vir ewig uit mensegesprekke gewis word. Dit gee gewoonlik aanstoot, maak dikwels diep seer en lei selde indien ooit tot nuttige gesprekke.”
Vermy oorhaastige woorde
Maar gestel sarkasme het ’n diep ingewortelde gewoonte geword. Dan is dit hoog tyd dat jy leer om te dink voor jy praat. Wyse koning Salomo het gesê: “Het jy ’n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir ’n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”—Spreuke 29:20.
Oorhaastige woorde kan veral afbrekend wees wanneer dit onder gesinslede gebruik word. Waarom? “Want dit is húlle opinies wat vir jou die meeste beteken”, verduidelik 16-jarige Penny. Tog word opvoedkundige John Holt in die boek Raising Good Children soos volg aangehaal: “Alte dikwels laat gesinslede mekaar al die pyn en frustrasie in hulle lewe ontgeld, iets wat hulle nie met ander durf doen nie.” Gesinslede ken mekaar só goed dat hulle geneig is om mekaar se tekortkominge nie te verdra nie; hulle word maklik kwaad en dan word sarkastiese woorde oor en weer geslinger.
Die Bybel vermaan tereg: “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig” (Spreuke 10:19). Dit is wat 18-jarige Joanne geleer het: “Jy moet daaraan dink met wie jy praat en wat jy gaan sê voor jy praat.” Moenie haastig wees om jou gevoelens uit te spreek as jy ontsteld is nie. Wag liewer ’n oomblik en vra jou af: ‘Is dít wat ek lus het om te sê taktvol? Is dit nodig? Sal ek later spyt wees oor wat ek gesê het?’
As jy jou woorde sorgvuldig kies, kan jy dit vermy om ander se gevoelens seer te maak en sal jy jou onnodige skande en verleentheid spaar.
Wanneer jy die slagoffer is
Maar sê nou jy is ’n slagoffer van sarkasme wat moontlik van vriende of skoolmaats af kom. Voordat jy voor die drang swig om hulle met gelyke munt te betaal, moet jy daaraan dink dat ons in “swaar tye” leef (2 Timotheüs 3:1-5). Jongmense het met hewige druk te kampe. Die boek The Loneliness of Children sê: “Kinders . . . bring al die vooroordele, griewe, aggressie en opgekropte vyandelikhede wat hulle by die huis geleer is skool toe.” Sulke vyandelikhede kom dikwels in die vorm van kwetsende woorde tot uiting.
As jy hierdie dinge weet, kan dit jou help om die neiging om ander met gelyke munt te betaal te vermy wanneer jy ’n slagoffer is. (Vergelyk Spreuke 19:11.) Dit help ook om aan die apostel Paulus se woorde te dink: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie” (Romeine 12:17). Dit vereis ware selfbeheersing om ‘die ander wang te draai’ na iemand wat jou met woorde geklap het (Mattheüs 5:39). Maar dit beteken nie dat jy glad nie iets moet doen as sarkasme op ’n belediging—of ’n dreigement—neerkom nie. Die boek Violence, deur medeskrywer Irwin Kutash, sê: “Beledigings wat nie doeltreffend teëgewerk word nie, kan verreikende gevolge vir die slagoffers inhou . . . Hierdie slagoffers word maklike prooi van verdere aanvalle.”
Soms sal omstandighede dus vereis dat jy iets omtrent skeltaal doen, nie deur met snedige woorde terug te kap nie, maar deur kalm en rustig privaat met die belediger te geselsa (Spreuke 15:1). Joanne het dit probeer en vir ’n klasmaat gesê: “Ek het nie van die aanmerking gehou wat jy voor die hele klas gemaak het nie. Dit het my regtig seergemaak.” Wat was die gevolg? Joanne sê: “Sedertdien respekteer hy my, en hy het nog niks verder gesê nie.”
Maar twintigjarige David vestig ons aandag op nog ’n bron van kwetsende woorde en sê: “Jou ouers is veronderstel om jou die liefste te hê; tog is dit húlle wat soms die kwetsendste aanmerkings maak.” Dit word natuurlik dikwels onopsetlik gedoen; hulle probeer jou reghelp, maar onwetend krenk hulle jou. Gesels gerus met jou ouers en sê vir hulle hoe jy daaroor voel. Miskien sal hulle volgende keer jou gevoelens meer in ag neem.
Ten slotte, dit help as jy jouself nie te ernstig neem nie. Skrywer Donald W. Ball sê: “Die geslaagdheid van sarkasme . . . hang af van die denkbeeldige gevolge daarvan.” Ja, moenie die voorval uit verband ruk en dink dat jy deur een taktlose aanmerking onherstelbare skade berokken is nie. Behou ’n sin vir humor!
Die beste manier om te voorkom dat jy ’n slagoffer van sarkasme word, is egter om dit self nie te gebruik nie. Die Gulde Reël lui: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). As jy hierdie reël toepas, kan jy voorkom dat jy kwetsende, sarkastiese woorde gebruik—en moontlik ’n slagoffer daarvan word.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Wat kan ek omtrent afknouers by die skool doen?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1989.
[Prent op bladsy 18]
Sarkasme kan seermaak