Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 9/22 bl. 26-27
  • La raclette!—van hoog op die berg tot op die etenstafel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • La raclette!—van hoog op die berg tot op die etenstafel
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kaas op die plek gemaak
  • Hoe om la raclette voor te sit
  • Brunost—’n Noorweegse kaaslekkerny
    Ontwaak!—1997
  • Van melk tot feta
    Ontwaak!—1998
  • ’n Gesellige manier om te onthaal
    Ontwaak!—1994
  • Die regte beskouing van foute
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 9/22 bl. 26-27

La raclette!—van hoog op die berg tot op die etenstafel

Deur Ontwaak! - medewerker in Switserland

DAAR word gesê dat ’n paar mans op ’n dag, omstreeks die jaar 1875, in ’n wingerd naby die Switserse dorp Sierre gewerk het. Dit was bitter koud. Teen die middag het hulle om die vuur vergader om brood, kaas en wyn te geniet. Een van hulle was lus vir iets warms om te eet. Hy het dus sy stuk kaas oor die gloeiende kole gehou totdat die buitenste laag begin smelt het. Toe het hy dit op sy brood gesmeer en—la raclette is gebore!

Daar is ander weergawes van hierdie verhaal. Hoewel die oorsprong daarvan nie met sekerheid vasgestel kan word nie, is la raclette inderdaad ’n gevestigde dis, veral in die bergstreek van Valais in Switserland. Die Franse woord racler beteken “om te skraap”, en dit beskryf gepas hierdie ongewone manier om gesmelte kaas op te dis. Maar die manier waarop raclette-kaas gemaak word, is selfs ongewoner.

Kaas op die plek gemaak

Wanneer die somer in Valais aanbreek, maak die smeltende sneeu plek vir geil weivelde. Die koeie hou van hierdie weiding, en hulle beweeg al hoe hoër op terwyl hulle in die een weiveld na die ander tot by die rand van die gletsers wei. In die verlede was dit onmoontlik om die melk te bêre of dit twee keer per dag af na die vallei te vervoer om verwerk te word. Die oplossing was dus om die kaas net daar, op die plek, te maak. Ja, die kaas is in die buitelug gemaak waar die trop ook al was. Hoe?

’n Groot kookpot, ’n sygdoek, hout vir die vuur en ander noodsaaklike gereedskap is te perd of op muile tot bo by die plek vervoer. Klippe om ’n vuurmaakplek mee te bou, is uit die omgewing bymekaargemaak. Die room is nie uit die melk verwyder nie, en die resultaat was ’n gladde en ryk kaas.

Vandag hoef kaasmakers in die Valais-gebied nie hulle werk in die buitelug te doen nie. Hulle maak steeds kaas daar op die plek, maar vir hulle kaasmakery geniet hulle nou die gerief van hutte wat op verskillende hoogtes teen die berg gebou is. Elke hut is permanent toegerus met al die nodige gereedskap en het ’n kelder waarin vars kaas met ’n soutoplossing behandel word om dit die beskermende kors te gee. Die kaas word in die vorm van ’n wiel gemaak, en elke wiel weeg ongeveer vyf kilogram. Na sowat drie tot vyf maande word die wiele kaas as ryp beskou.

Hoe om la raclette voor te sit

La raclette word tradisioneel voorgesit met gekookte aartappels, suurtjies, wit uitjies, peper en ander speserye, en, natuurlik, ’n glas wit wyn uit Valais. As jy die dis in ’n restaurant bestel, sal ’n kelner ’n halwe wiel kaas, waarvan die lagie aan die kant reeds borrel nadat dit warm gemaak is, na jou tafel toe bring. Dan skraap hy van daardie lagie, wat so heerlik lyk, af en sit dit op jou aartappel!

Tuis kan jy ’n elektriese raclette-stoof gebruik. Sommige is ontwerp om klein hoeveelhede kaas te smelt, en ander is groot genoeg om tot ’n halwe wiel kaas te smelt. Jy hoef natuurlik nie ’n spesiale raclette-stoof te hê nie. Jy kan die snye kaas in jou oond smelt.

Baie sit hierdie dis aan hulle gaste voor omdat dit ’n baie gewilde en eenvoudige gereg is. Probeer dus gerus volgende keer as jy vriende vir aandete nooi hierdie unieke maaltyd van die berge van Switserland: la raclette!

[Prente op bladsy 26]

La raclette: ’n ongewone manier om gesmelte kaas voor te sit

Die kaas word gemaak

’n Paar dinge wat saam met “la raclette” geëet kan word

“La raclette” word voorgesit

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel