Algemene misvattings
Misvatting: Kindermolesteerders is gewoonlik vreemdelinge, versteurde wanaangepastes wat kinders ontvoer en geweld gebruik om hulle te molesteer.
In die oorgrote meerderheid van gevalle—volgens sommige skattings van 85 tot 90 persent—is die molesteerder iemand wat die kind ken en vertrou. Pleks van geweld te gebruik, betrek molesteerders dikwels die kind geleidelik by seksuele dade, en maak hy misbruik van die kind se beperkte ondervinding en redeneervermoë. (Vergelyk 1 Korinthiërs 13:11 en Spreuke 22:15, NAV.) Hierdie molesteerders is nie die stereotiepe, kwylende alleenlopers nie. Baie is heel godsdienstig, gerespekteerd en gewild in die gemeenskap. Volgens die Amerikaanse Federal Bureau of Investigation is dit “dwaas om te aanvaar dat iemand nie ’n pedofiel is nie bloot omdat hy gaaf is, kerk toe gaan, hard werk, goed vir diere is, ensovoorts”. Onlangse navorsing dui daarop dat dit ook verkeerd is om te veronderstel dat alle molesteerders manlik is of dat alle slagoffers vroulik is.
Misvatting: Kinders fantaseer of vertel leuens oor seksuele misbruik.
Normaalweg het kinders nie die ondervinding of wêreldwysheid wat seksuele sake betref om slim leuens oor molestering te versin nie, hoewel sommige kindertjies deurmekaar kan raak wanneer dit by besonderhede kom. Selfs die mees skeptiese navorser gee toe dat die meeste bewerings van molestering geldig is. Neem byvoorbeeld die boek Sex Abuse Hysteria—Salem Witch Trials Revisited, wat die soeklig op valse bewerings van molestering werp.a Hierdie boek erken: “Werklike seksuele misbruik van kinders is ’n algemene verskynsel en die oorgrote meerderheid bewerings van seksuele misbruik van kinders . . . is heel waarskynlik geldig (miskien 95% of meer).” Kinders vind dit besonder moeilik om molestering aan te meld. Wanneer hulle wel leuens oor molestering vertel, is dit dikwels om te ontken dat dit gebeur het al het dit werklik gebeur.
Misvatting: Kinders is verleidelik en bring die molestering dikwels oor hulleself as gevolg van hulle gedrag.
Hierdie mening is veral verwronge aangesien dit die slagoffer in werklikheid vir die molestering blameer. Kinders het geen werklike begrip van seksualiteit nie. Hulle het nie ’n idee wat sulke bedrywighede behels of hoe dit hulle sal verander nie. Hulle is gevolglik nie in staat om op enige betekenisvolle manier daartoe in te stem nie. Dit is die molesteerder, en die molesteerder alleen, wat die skuld vir die molestering dra.—Vergelyk Lukas 11:11, 12.
Misvatting: Wanneer kinders molestering blootlê, moet ouers hulle leer om nie daaroor te praat nie en ‘daarvan te vergeet’.
Wie vind die meeste daarby baat as die kind oor die molestering stilbly? Is dit nie die molesteerder nie? Trouens, studies het getoon dat ontkenning deur ’n mens se gevoelens te onderdruk dalk die ondoeltreffendste manier is om die trauma van molestering te verwerk. In Engeland is daar ’n studie gedoen van een groep volwasse slagoffers wat nege verskillende metodes gebruik het om hulle molestering te verwerk. Daar is bevind dat diegene wat die kwessie ontken, vermy of onderdruk het die grootste emosionele wanaanpassing en ongelukkigheid in hulle volwasse lewe ondervind het. Sal jy, as jy ’n skrikwekkende aanval oorleef het, wil hoor dat jy nie daaroor moet praat nie? Waarom so iets aan ’n kind vertel? As die kind toegelaat word om normaal op so ’n vreeslike gebeurtenis te reageer soos om verdriet, woede en droefheid te toon, sal dit hom die geleentheid gee om die molestering uiteindelik te verwerk.
[Voetnoot]
a In egskeidingsake het een van die strydende partye al ’n beskuldiging van kindermolestering as ’n wapen gebruik.