Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 10/8 bl. 24-25
  • Ontmoet die omstrede dingo van Australië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet die omstrede dingo van Australië
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar het hulle vandaan gekom?
  • Kan hulle mak gemaak word?
  • ’n Bedreiging vir die boer
  • Duur beheermaatreëls
  • Is hulle mensvreters?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • ’n Eilandparadys van sand
    Ontwaak!—2006
  • Troeteldiere—Behou ’n gebalanseerde beskouing
    Ontwaak!—2004
  • ’n Skugter dier—gehaat en gelief
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 10/8 bl. 24-25

Ontmoet die omstrede dingo van Australië

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

DAAR word al lank in Australië oor die dingo gedebatteer. Het hierdie dier ’n reg om in Australië se wildernis te lewe? Of is dit ’n doder wat afgekamp en geleidelik uitgeroei moet word?

Die dingo is ’n wildehond. Hy is stewig gebou, met kort, sagte hare en regop, spits ore. ’n Uitgegroeide dingo is ongeveer 60 sentimeter hoog by sy skouer en ongeveer 1,2 meter lank van sy neus tot by die punt van sy 30 sentimeter lange wollerige stert. Hy het ’n baie groter skedel en langer tande as mak honde van dieselfde grootte maar kan met hulle gekruis word. Die naam dingo is gebruik deur inboorlinge wat om Sydney gewoon het en het vir die eerste keer omstreeks die jaar 1790 in geskrifte verskyn.

Dingo’s word oor die hele Australiese vasteland aangetref, maar nie op die eilandstaat Tasmanië nie. Hulle het ’n aantreklike pels in kleure wat room, bleekgeel, wit, warm rooibruin, roesrooi, geelbruin en swart insluit. Opregte, uitgegroeide dingo’s het altyd ’n wit sterttip en het gewoonlik wit pote, ongeag hulle pels se kleur.

Waar het hulle vandaan gekom?

Die dingo is nie inheems in hierdie uitgestrekte, hittige land nie, maar is waarskynlik per boot hierheen gebring. Presies wanneer en deur wie is nie seker nie. Die sterkste aanduiding van die dingo se oorsprong is blykbaar dat dit ’n afstammeling van die Indiese wolf is. Fossiele toon ’n sterk ooreenkoms met die honde van die Indusvallei, wat geteel is deur mak honde met Indiese wolwe te kruis.

Ander ooreenkomste met die wolf is die geluidlose jagstyl van die dingo en die feit dat hulle nie blaf nie maar ’n uitgerekte tjank gee. Een gewilde teorie is dat reisigers van Indië, wat bote gehad het wat die seë kon bevaar, die dingo eers na Timor en toe verder na Australië geneem het.

Kan hulle mak gemaak word?

’n Klein dingo’tjie is ’n skattige diertjie. Van die vroegste tye af het die inboorlinge hulle as troeteldiere aangehou. Maar wanneer die kleintjies grootgeword het, het hulle altyd na die natuur teruggekeer.

Professor N. W. G. MacIntosh van die Universiteit van Sydney is nie beïndruk deur pogings om die dingo mak te maak nie. Hy beweer dat selfs afrigters van polisiehonde, met hulle baie ondervinding, geduld en liefde vir diere, nie daarin geslaag het om die dingo enige gehoorsaamheid te leer nie.

Aan die ander kant sê George Bingham, wat ongeveer twee dekades lank met dingo’s gewerk het, dat dié waarmee hy gewerk het uiters vertrouend en spelerig was en nooit aggressief nie. Maar hy erken dat as hulle natuurlike karaktertrekke nie in aanmerking geneem word nie hulle onbeheerbaar kan word en persoonlike besittings kan vernietig, hoewel hulle nie noodwendig wreed is nie. Hy erken ook dat hulle ’n begeerte het om na die natuur terug te keer en waarsku dat as ’n dingo, wat as troeteldier aangehou word, toegelaat word om sommer rond te loop dit weldra ’n besoeker pleks van ’n huishond sal word.

’n Bedreiging vir die boer

Ten spyte van hulle gewilligheid om deur die mens vertroetel te word, is dit ’n vasstaande feit dat wilde dingo’s gulsige jagters is en verwoesting onder skaap- en beeskuddes kan aanrig. Hulle jag selde in troppe. Hulle is van nature alleenlopers, maar hulle jag soms twee-twee. Dit doen hulle veral wanneer hulle ’n groot dier soos ’n kangaroe aanval, waar een dingo aan die slagoffer se stert of been vasbyt terwyl die tweede dingo die keel aanval.

Dingo’s is in verskeie opsigte baie geslepe. Hulle sal dikwels ’n veedrywer en sy trop skape weke lank volg en enige diere wat van die trop afdwaal, vang. Of hulle sal stilweg ’n koei dae lank aan hulle teenwoordigheid gewoond maak en dan skielik haar kalf gryp wanneer sy dit nie verwag nie.

Sommige skaapboere berig dat hulle tot 50 persent van hulle pasgebore lammers of kalwers deur dingo’s verloor. Een het in slegs vier maande 900 skape uit ’n trop van 5500 verloor. Die feit dat dingo’s dikwels skape doodmaak en net ’n bietjie van die karkas vreet, maak die skaapboer nog woedender.

Dit is dus maklik om te verstaan waarom die dingo beskryf word as een van die mees omstrede diere in Australië. Die meeste veeboere beskryf hulle as wrede, geslepe doders. Natuurbeskermers dring daarop aan dat dit saam met ander wilde diere in Australië bewaar moet word en wys daarop dat hulle nuttig is om dierekarkasse skoon te vreet.

Duur beheermaatreëls

Pogings om die toenemende aantal dingo’s te beheer, sluit in ’n 2,5 meter hoë heining wat meer as 8 000 kilometer lank is. Hierdie “groot dingoheining” is na bewering langer as die Groot Chinese Muur en is teen ’n reuse-onkoste gebou, met die grootse doel om dingo’s in die noorde uit die skaapwêreld verder suid te hou. Ander metodes wat in meerdere of mindere mate welslae behaal, is onder meer om die dingo’s deur professionele dingojagters te laat vang en te laat skiet en om giftige lokaas uit te sit, waaronder aas wat uit die lug laat val word. Ongelukkig word ander wild dikwels daardeur geraak.

Is hulle mensvreters?

Tot op hede is daar geen betroubare verslag van dingo’s wat mense aangeval het nie, hetsy alleen of in troppe. Wanneer dingo’s naby die beskawing woon, is hulle aasvreters en sal hulle enige voedsel eet wat hulle in vullishouers kry. In die wildernis van die Australiese bosveld jag en eet hulle gewoonlik enige dier wat kleiner as hulle is, met inbegrip van konyne, buidelrotte, buidelmuise, knaagdiere en klein wallabies.

Watter Bybelse beskrywing—‘wilde dier’ of ‘huisdier’—presies by die dingo pas, is in sekere mate ’n raaisel (Genesis 1:25, NW). Maar wat sy spesifieke rol ook al is, die omstrede dingo van Australië met sy skattige kleintjies kan heel moontlik op die paradysaarde wees wanneer die hele diereskepping aan die mens genot verskaf en sy verbeeldingryke en liefdevolle Skepper eer.—Jesaja 11:6-9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel