Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/8 bl. 24-27
  • ’n Skugter dier—gehaat en gelief

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Skugter dier—gehaat en gelief
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gehaat en gelief
  • Jag in troppe
  • Kommunikasie tussen wolwe
  • ’n Pragtige dier
  • Laat die natuur sy gang gaan
  • Die toekoms van die wolf
  • Om in vrede te lewe
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Waarom is daar soveel vals alarms?
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1995
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/8 bl. 24-27

’n Skugter dier—gehaat en gelief

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

CANIS LUPUS. Daar is hy op ’n rotslys hoog in ’n rotsagtige bergreeks, afgeëts in die donker deur die maanlig, met sy kop agteroor, die lang welige stert tussen sy bene, ore platgetrek en sy bek oop—sy onheilspellende gehuil skeur deur die naglug. Die blote gedagte aan sy gehuil laat jou van vrees en opwinding ril!

MIN mense het al die voorreg gehad om hierdie pragtige, maar skugter, dier—alombekend as die gryswolf—in die natuur te sien. Hierdie fassinerende dier roep nietemin talle en verskillende beelde voor die gees.

Gehaat en gelief

Wat ook al die gewaarwording, die woord “wolf” het nog altyd sterk emosies by mense gewek. Hy was al die voorwerp van misverstand, vooroordeel en vrees. Sommige mense het ’n weersin in die wolf omdat hy ’n roofdier is. Wolwe is ’n voortdurende ergernis vir boere omdat hulle hulle skape, beeste en ander vee vang. Legendes en volksoorleweringe het tot sy slegte reputasie bygedra. Wie het nog nie die uitdrukkings “’n wolf in skaapsklere” en “wolf skaapwagter maak” gehoor nie? Sprokies beeld hom uit as “die nare ou wolf”. Een van hierdie stories vertel van ’n wolf wat dreig om ’n dogtertjie op te eet. Dit het by mense die indruk geskep dat wolwe mense aanval.

Wetenskaplikes en bioloë sien wolwe egter in ’n ander lig. Hulle beskou wolwe as uiters sku diere wat mense sover moontlik probeer vermy. Trouens, volgens ’n onlangse artikel in die tydskrif GEO is wolwe eintlik bang vir mense. Al kom wolwe kwaai voor, is daar blykbaar geen rede vir die opvatting dat gesonde, wilde wolwe van Noord-Amerika vir die mens ’n gevaar inhou nie.

Die bioloog Paul Paquet, wat intensiewe navorsing oor wolwe gedoen het, erken dat hy sedert sy kinderdae ’n liefde vir hierdie wilde diere het. Hy het van sy waarnemings neergeskryf. Hy sê dat hy al dikwels gesien het hoe wolwe aan vreugde, eensaamheid en humor uiting gee. Eenkeer het hy gesien hoe lede van die trop kos aandra vir ’n ou, kreupel wolf wat nie meer kon jag nie. Al het die wolf te oud geword om iets te beteken, het die trop steeds waarde aan sy lewe geheg en hom aan die lewe gehou. Hierdie kenmerkende feit dat hulle in ’n trop jag, het egter hulle bestaan bedreig.

Jag in troppe

Wolwe jag maar net in troppe om hulle honger te stil en hulle kleintjies te voer. Ons moet egter erken dat wolwe wat skape en beeste vang vir boere ’n lastige probleem is. As ’n roofdier met uitstekende sig, ’n skerp reuksin, fyn gehoor en ongelooflik kragtige kake—asook die feit dat hy vinnig kan hardloop en draf—is die wolf goed toegerus om te jag. Hy is ook ’n opportunis. Dit sal dwaas wees om te dink dat hierdie slim dier sy neus sal optrek vir enige maklik beskikbare prooi wat hy kan vang of gaps—veral as dit groot, vet skape en beeste is. Daar kan gesê word dat wolwe hulle prooi in die natuur onwetend “bevoordeel” deur die maklike prooi, die siekes en swakkes, uit te soek en sodoende meer kos vir die gesondes te laat.

Kommunikasie tussen wolwe

Wat van die onheilspellende gehuil wat myle ver gehoor kan word en wat diegene wat dit hoor met vrees vul? Vir die wolf is dit bloot ’n sosiale aktiwiteit van die trop—’n vorm van kommunikasie. ’n Wolf wat gedurende ’n jagtog afgeskeie geraak het, sal dalk tot op ’n rantjie klim en huil om die ander lede van die trop se aandag te trek. Of hy huil om sy gebied af te baken. Soms huil wolwe blykbaar net om aan hulle vreugde uiting te gee. Wanneer ’n trop bymekaarkom om te huil, sal ’n mens amper dink dat hulle ’n geselligheid geniet waar hulle kan saam sing. Dit sal vir ons beter klink as hulle eenstemmig wou sing, maar hulle verkies blykbaar akkoorde. Hulle het natuurlik ook ander maniere om te kommunikeer. Daar is geluide wat al beskryf is as tjank, grom, blaf, sosiale geluidjies en die gekef van die kleintjies in die lêplek. Kommunikasie deur hulle houding word ook gebruik om sosiale status te bevestig en ’n hegte band in die trop te smee.

’n Pragtige dier

Beskou hierdie buitengewoon pragtige dier van naderby. Let op na sy dik pels waarvan die hare oorwegend grys is (party is pikswart) met wit, swart en bruin hare tussenin. Kyk na sy deurdringende, helder geel oë. Bekyk sy gesigsmerke. Dit alles maak die wolf ’n manjifieke dier om te aanskou. Daar word egter kommer uitgespreek oor sy toekoms. Is daar rede tot kommer?

Wel, wat vroeër iets algemeens was oor ’n groot deel van Europa, Asië en Noord-Amerika—naamlik om ’n wolf te sien—is nou iets skaars in Kanada, Alaska en yler-bevolkte streke van die Verenigde State, Europa en Rusland. Mense sê dat daar in uitgesoekte, ongerepte dele vir wolwe plek gemaak moet word. Aangesien mense geleer het om roofdiere, soos arende, bere en bergleeus, as deel van die omgewing te aanvaar, is daar diegene wat vra: “Waarom nie ook saam met wolwe leef nie?”

Laat die natuur sy gang gaan

Beskerming, nie uitroeiing of beheer nie, is die sleutelwoord. Wildreservate word nou as beskermsones vir diere beskou, nie net as speelplekke vir mense in die wildernis nie. Volgens die tydskrif Canadian Geographic wil reservaatbestuurders graag ’n natuurlik gereguleerde ekostelsel sien. Nadat hy 40 jaar lank nie in die Banff- Nasionale Park in Kanada voorgekom het nie, het die vernaamste roofdier, die wolf, in die tagtigerjare uit sy eie na die suidelike Rotsgebergte teruggekeer—net 65 van hulle, maar vir baie mense is dit ’n positiewe gebeurtenis. Frankryk berig dat die wolf teruggekeer het nadat hy 50 jaar lank nie gesien was nie.a In Italië is die wolf ook terug, en in Tivoli, naby Rome, hoor hulle hom weer huil.

Daar word oorweeg om die wolf as ’n bedreigde spesie na die Yellowstone- Nasionale Park in die Verenigde State terug te bring. Wolwe was meer as 40 jaar gelede deel van die streek se natuurlike ekostelsel voordat hulle uitgeroei is. Nou wil baie mense, veral besoekers aan die nasionale park, hulle terug hê. Die veebedryf is egter baie bekommerd oor wolwe wat na húlle weivelde toe teruggebring word. “Wanneer wolwe na Yellowstone toe teruggebring word, sal wolfbeheer buite die nasionale park ’n werklikheid word”, sê wolfbioloog L. David Mech.

Wat hou die toekoms in vir hierdie dier wat in ’n wêreld lewe wat nog net gedeeltelik deur mense gesien is?

Die toekoms van die wolf

Die aantal mense wat die terugkeer van ’n dier ondersteun wat so lank op die rantjie van die mens se verdraagsaamheid gelewe het, dui op ’n besliste gesindheidsverandering. Die boek The Wolf—The Ecology and Behavior of an Endangered Species sê: “Daar ís nog tyd om die spesie uit sy bedreigde situasie te red. Of dit gedoen word of nie hang af van die mens se kennis oor die ekologie en die gedrag van die wolf, sy volgehoue navorsing oor die wolf se gewoontes en dat hy leer om nie die wolf as ’n mededinger te beskou nie, maar ’n medeskepping met wie hy die aarde moet deel.”

Om in vrede te lewe

Vreedsame naasbestaan tussen mense en wolwe het gedurende die afgelope paar jaar dalk verbeter, maar waar daar botsing is, kan ware vrede nie verkry word nie. Dit sal moet wag vir ’n tyd in die nabye toekoms, onder die Skepper se Koninkryksregering, wanneer alle vyandigheid en vrees vervang sal word deur vertroue en mededeelsaamheid teenoor hierdie sterk maar sensitiewe en sku dier.

Interessant genoeg beeld die Bybel die wolf in verskeie profetiese tonele uit, wat ons die wolf uit verskillende oogpunte laat sien. In Handelinge 20:29, 30 word afvallige manne beskryf as “wrede wolwe” wat die skaapgeaarde Christengemeente sou aanval en individuele lede uit die kudde sou wegneem.

Die profesieë in die Bybelboek Jesaja, wat nog hulle finale vervulling moet ondergaan, beskryf hoe diere, wat ons weet mekaar vandag vyandiggesind is, in vrede saamlewe. Let op dat die prooi-roofdier-verhouding in Jesaja 65:25 afwesig is: “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees . . . hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.”

Hoewel die mens se pogings toon dat hy die wolf probeer verdra, verseker die teks wat so pas aangehaal is ons dat God ’n plek vir hom in sy nuwe stelsel van dinge het. Die planeet Aarde sal dan vir alle vorme van lewe ’n gedeelde tuiste wees, ook vir die Canis lupus.

[Voetnote]

a Sien “Ons beskou die wêreld” in die Ontwaak! van 22 Januarie 1994.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Thomas Kitchin/​Victoria Hurst

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Thomas Kitchin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel