’n Eilandparadys van sand
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
IN 1770 het die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook langs die ooskus van Australië opgevaar. Net meer as 150 kilometer noord van die hedendaagse stad Brisbane het hy verby ’n groot sanderige kuseiland gevaar, wat later 300 000 besoekers elke jaar sou lok. Maar Cook het nie baie aandag aan die eiland geskenk nie. Om die waarheid te sê, hy en ander het gedink dat dit ’n skiereiland is en nie ’n eiland nie. ’n Paar jaar later het die ontdekkingsreisiger Matthew Flinders daar voet aan wal gesit. Hy het geskryf: “Niks [kan] so dor wees soos hierdie skiereiland nie.”
As Cook en Flinders enigsins verder as die kilometers goue strande en duine gegaan het, sou hulle ’n heeltemal ander opinie gevorm het. Hulle sou afgekom het op ’n wêreld met ongerepte reënwoude, kristalhelder varswatermere, kranse wat uit pragtige kleure sand bestaan en honderde diersoorte. Hierdie eiland, wat nou Fraser-eiland genoem word en die grootste sandeiland ter wêreld is, is so merkwaardig dat dit in 1992 op die Wêrelderfenislys geplaas is.a
Gevorm uit die berge
Fraser-eiland is 120 kilometer lank en tot 25 kilometer breed. Dit beslaan ’n gebied van 160 000 hektaar. Massiewe sandduine steek amper 240 meter bo seevlak uit, wat die eiland die hoogste van sy soort ter wêreld maak. Watter kragte het hierdie merkwaardige landmassa gevorm?
Bewyse dui daarop dat die ontelbare tonne sand wat die eiland gevorm het, afkomstig is van die Groot Skeidingsgebergte, ’n bergreeks wat oor die volle lengte van Australië se ooskus strek. Mettertyd het swaar reëns veroorsaak dat stukkies rots van hierdie berge afbreek, in die riviere inspoel en na die see gevoer word. Seestrome het die stukkies rots tot fyn sand gemaal, wat geleidelik noordwaarts al langs die seebodem gevoer is. Die sandkorrels, wat deur landpunte en klipbanke op die seebodem gestuit is, het opgehoop, en Fraser-eiland is gevorm.
Sedertdien stort die Stille Oseaan nog steeds vars sand al langs die strande. Daarvandaan waai die wind die sand landwaarts, en duine word gevorm. Die duine groei teen een meter per jaar en oorweldig alles in hulle pad.
Varswatermere en seldsame woude
Verbasend genoeg, daar is regoor die eiland 40 varswatermere wat in die holtes van die sandduine vasgevang is. Party van hierdie watermassas word verhewe mere genoem omdat hulle in groot holtes bo-op hoë sandduine voorkom. Wat verhoed dat die water wegsyfer? ’n Organiese laag, of turfagtige kalfaatsel, wat uit half verrotte blare, bas en takke bestaan.
Die eiland het ook “venster”-mere, wat gevorm word wanneer holtes in die sand laer as die watertafel is. Varswater syfer in die holtes in en skep kristalhelder, sandgefiltreerde poele wat as ’t ware vensters in die watertafel is.
Die eiland se mere word aangevul deur ’n jaarlikse reënval van 1 500 millimeter. Water wat nie in mere opgevang of deur sand opgesuig word nie, vorm spruite wat in die see invloei. Daar word geskat dat een spruit die Stille Oseaan van ’n goeie vyfmiljoen liter water per uur voorsien.
As gevolg van die oorvloed water is Fraser-eiland grasgroen. Gewoonlik groei reënwoude nie in sand, wat arm is aan voedingstowwe nie. Maar Fraser-eiland is een van die min plekke op aarde waar reënwoude in sand floreer. Om die waarheid te sê, die woud was eens op ’n tyd so dig dat die houtkapper se byl meer as 100 jaar lank daarin gehoor is. Swartstambloekoms, kouriebome en kershoutbloekoms was gewild onder woudbewoners. Een van hulle het in 1929 gesê: “Die reisiger kom op ’n lewende muur van reusetimmerhoutbome af wat tot [45 meter] hoog is . . . Hierdie groot konings van die woud het ’n deursnee van [2 tot 3 meter].” Party bome, soos die Fraser-eiland- en ander terpentynbome, is gebruik vir die mure van die Suezkanaal. Maar vandag word die bome op Fraser-eiland nie meer afgekap nie.
’n Paradys met ’n tragiese verlede
Die eiland se naam het sy oorsprong in ’n tragiese gebeurtenis. In 1836 het kaptein James Fraser en sy vrou, Eliza, op die eiland beland nadat die seilskip Stirling Castle gestrand het. ’n Inboorlingstam het blykbaar die kaptein doodgemaak, maar Eliza is later gered. Ter nagedagtenis van die tragedie is die eiland se naam van Groot Sandeiland na Fraser-eiland verander.
Tragedie het ook die inboorlinge getref. Op een stadium het tot 2 000 Aborigines op Fraser-eiland gewoon. Hulle is as fris en sterk beskryf. Hulle het hulle woonplek K’gari, of Paradys, genoem. ’n Legende van die Aborigines oor die skepping van hierdie eiland beskryf dit as die pragtigste plek wat nog ooit gemaak is. Ongelukkig is baie van hulle deur Europese siektes afgemaai. Daarbenewens is die meeste van die oorblywende Aborigines teen die begin van die 20ste eeu in nedersettings op die vasteland hervestig.
’n Welkome en veilige hawe
Vandag is die eiland ’n veilige hawe vir dierelewe. Van die bekendste diere is dingo’s—Australiese wildehonde. Omdat die dingo’s op Fraser-eiland afgesonder is van die gewone honde op die vasteland, word hulle bloedlyn as die suiwerste in Oos-Australië beskou. Hulle lyk dalk soos gewone honde, maar hulle is nie en moet dus versigtig en met respek behandel word.
Meer as 300 voëlsoorte is al op die eiland gesien. Brahmaanse woue en witbuikseearende vlieg op en af met die strande, terwyl glansende blou woudvisvangers vinnig heen en weer oor die mere vlieg. Trekvoëls wat hier aandoen, sluit Mongoolse strandlopertjies in, wat in Siberië broei en in die winter suid vlieg. Hulle rus vir ’n kort rukkie op Fraser-eiland voordat hulle hulle reis voortsit. Daarbenewens ontvang die eiland 30 000 of meer seisoenale besoekers in die vorm van gryskopvlermuise, wat omtrent so groot soos kraaie is en op soek is na die nektar van bloekombloeisels.
Daarbenewens wemel die waters om Fraser-eiland van seelewe, insluitende boggelwalvisse, wat op pad is van die ysige Antarktika na die Groot Barrière-rif, waar hulle kalf en paar. Op hulle terugreis gee die walvisse ’n skouspelagtige vertoning deur met hulle groot liggaam vinnig uit die water te kom en dan terug te val, sodat die water wat in die lug spat, kilometers ver gesien kan word—waarlik ’n majestueuse saluut aan ’n wonderlike eiland!
[Voetnoot]
a Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur voeg kulturele en natuurgebiede wat fisies, biologies, geologies of wetenskaplik van groot waarde is, by hulle Wêrelderfenislys.
[Kaarte op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
STILLE OSEAAN
Fraser- eiland
[Prente op bladsy 15]
Regs, van bo na onder:
Die monding van Kurrnung-spruit
Veertig varswatermere, insluitende verhewe en “venster”-mere, kom regoor Fraser-eiland voor
’n Seldsame verskynsel—reënwoude wat in sand groei
[Erkenning]
Alle foto’s: Courtesy of Tourism Queensland
[Prente op bladsy 16, 17]
Dingo en koala
[Erkenning]
Courtesy of Tourism Queensland
[Prent op bladsy 16, 17]
“Seventy-Five Mile Beach” op Fraser-eiland is een van die langste strande ter wêreld
[Prent op bladsy 17]
Witbuikseearend
[Prent op bladsy 17]
Kookaburras
[Prent op bladsy 17]
Pelikane
[Prent op bladsy 17]
’n Boggelwalvis geniet ’n blaaskans op pad na Antarktika
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Arend: ©GBRMPA; alle ander foto’s behalwe pelikane: Courtesy of Tourism Queensland