Van ons lesers
Haarverlies Die artikel “Alopesie—Hoe ek haarverlies stilswyend verduur” (22 April 1991) was vir my van besondere belang. Ek het my hare begin verloor toe ek ses en ’n half jaar oud was. Dit was aan die begin vernederend, maar my vriende en mense in die algemeen was baie vriendelik en liefdevol. Ek is nou 64 en het nooit werklik die rede vir my haarverlies verstaan totdat ek julle artikel gelees het nie. Baie dankie.
R. W., Verenigde State
Ek is ’n 16-jarige meisie, en ek ly aan alopesie vandat ek 10 is. My skoolmaats spot my en gee my byname en probeer my pruik aftrek. Dit laat my hartseer en bedruk voel. Maar julle artikel het vir my getoon hoe ek dit die hoof kan bied deur op Jehovah te vertrou. Ek het ook die hoop om my hare in sy nuwe wêreld terug te kry.
C. B., Verenigde State
Skinderpraatjies Dankie vir die nommer “Skinderpraatjies—Hoe om te vermy dat jy seerkry” (8 Junie 1991). Dit het op ’n tyd gekom toe ek dit die nodigste gehad het. Ek het ’n probleem ondervind met ’n meisie wat ’n goeie vriendin van my was, en sy het skadelike skinderpraatjies oor my versprei. Julle artikel het my regtig gehelp om dit te verstaan en te verwerk.
M. P., Verenigde State
Flankeerdery Ek kry die Ontwaak! gereeld. Maar ek dink dat julle ’n bietjie te streng was in julle artikel “Jongmense vra . . . Wat is verkeerd daarmee as jy flankeer?” (8 Mei 1991). Daar was tog niks daarmee verkeerd dat die seun Sarah gevra het om langs hom te sit nie. En genugtig, waarom is dit verkeerd om vir die ander geslag te glimlag? Moet ’n mens grynslag wanneer jy wil sê ‘bly weg van my af’?
W. T., Verenigde State
Dit was duidelik in jong Sarah se geval dat sy daagliks aan ongewenste aandag blootgestel is. Dit is te begrype dat dit haar ontstel het. Wat die glimlag betref, die artikel het dit duidelik gestel dat ‘daar niks daarmee verkeerd is om spontaan te wees nie’. Trouens, daar is ’n hemelsbreë verskil tussen ’n vriendelike glimlag en die “skaam glimlag” waarvan die artikel gepraat het.—RED.
Blokkiesraaisels Dankie vir die blokkiesraaisel in die nommer van 8 Junie 1991. Terwyl ek by my oupa en ouma gekuier het, het ek self aan die raaisel begin werk. Maar toe ek daarmee begin het, het my oupa my gevra of hy my kan help. Ek was geskok! My oupa het nog nooit in die Bybel belanggestel nie. In elk geval, hy het die tekste gelees en ek het die leidrade gelees. Ongeveer tien minute later het my tannie daar aangekom en gevra of sy ook met die raaisel kan help. Die Bybel was altyd ’n verbode onderwerp in my oupa en ouma se huis—maar nie nou meer nie!
A. J., Engeland
Die longe Ek moes net aan julle skryf nadat ek die artikel “Die longe—wonderlik ontwerp” (8 Junie 1991) gelees het. My tante is net die dag vantevore aan longkanker dood. Die artikel het my waardering vir die wonder van die liggaam vergroot. Dit was ook maklik om te verstaan en het my gehelp om te sien hoe noodsaaklik dit is om goed vir my longe te sorg en hulle nie met dinge [soos tabak] te besoedel nie.
C. G., Verenigde State
Sorg vir bejaardes Ek sorg vir my pa, wat baie siek is. My broers en susters help my nie, maar hulle sê dinge soos: ‘Jy’s sterk. Jy doen dit so goed’, of ‘Jy moes jare gelede al die moontlikheid van ’n verpleeginrigting oorweeg het.’ Ek het myself begin jammer kry omdat ek besef het dat my kanse om te trou en kinders te hê verby was. Ek het selfs emosionele probleme begin ondervind. Maar die reeks “Betoon jy eer aan bejaardes?” (22 Maart 1991) het my die nodige vertroosting en krag gegee om te volhard.
S. B., Verenigde State