Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/11 bl. 15-17
  • Hospice-sorg—Wat is die doel daarvan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hospice-sorg—Wat is die doel daarvan?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die doel van hospice-sorg
  • Voordele van tuissorg
  • Medelydende sorg
  • Hoe moet terminale pasiënte versorg word?
    Ontwaak!—1991
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2011
  • Vertroos dié wat terminaal siek is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe om gevoelens te verwerk
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 7/11 bl. 15-17

Hospice-sorg—Wat is die doel daarvan?

“My 94-jarige ma, wat Alzheimer se siekte en hartversaking gehad het, was bedlêend. Sy het geweier om te eet, en ons kon haar nie wakker kry nie. By die hospitaal het hulle my vertel van die ‘bewussynsverandering’ wat sy ondervind. Ek wou haar by die huis versorg, maar ek het hulp nodig gehad.”—Jeanne.

’N TERMINALE siekte bring uitdagings mee, nie net vir die pasiënt nie, maar ook vir die familie. Familielede kom voor ’n moeilike besluit te staan. Moet die siek persoon se lewe ten alle koste verleng word, selfs as dit sy of haar lyding onnodig uitrek? Of moet hulle probeer verseker dat hulle geliefde die beste lewensgehalte geniet in die tyd wat oor is?

Vir baie is hospice-sorg ’n opsie. Dit word omskryf as sorg en aandag wat gegee word aan die emosionele, geestelike, sosiale en finansiële behoeftes van pasiënte wat terminaal siek is. Die doel daarvan is om die lyding van persone wat terminaal siek is, te verlig. Hospice-sorg is nou in omtrent die helfte van die lande in die wêreld beskikbaar, al is dit ook net in beperkte mate in party lande. Byvoorbeeld, weens die toenemende aantal MIV/vigs- en kankerpasiënte in Afrika het die meeste lande op hierdie vasteland reeds sulke programme of doen hulle stappe om dit in werking te stel.

Die doel van hospice-sorg

Party pasiënte voel moontlik dat die aanvaarding van hospice-sorg sal beteken dat hulle hulle wil om te lewe verloor het. Vir familielede sal dit dalk voel asof ’n mens ongevoelig op die dood van ’n geliefde wag as jy hom of haar in ’n hospice plaas. Maar hospice-sorg beteken nie dat ’n mens die onvermydelike maar net willoos aanvaar nie. Dit kan die pasiënt eerder help om so lank as moontlik ’n waardige, betekenisvolle lewe te geniet in die geselskap van geliefdes, terwyl sy pyn onder beheer gehou word. Dit kan ook die pasiënt se familie die geleentheid bied om hulle geliefde so lank as wat nodig is, te vertroos en te ondersteun.

Hoewel hospice-sorg nie ’n terminale siekte kan genees nie, kan dit behandeling voorsien vir geneesbare komplikasies, soos longontsteking of blaasinfeksie. As omstandighede verander—byvoorbeeld, as ’n geneesmiddel gevind word of die siekte in remissie gaan—kan die pasiënt weer sy gewone behandeling ontvang.

Voordele van tuissorg

In party lande word hospice-sorg net by ’n gesondheidsorginrigting gegee. Maar in ander lande kan familielede tuis na pasiënte omsien. Tuissorg maak dit vir die pasiënt moontlik om deel van die gesinslewe te wees. Tuissorg pas ook beter by die kultuur van baie lande, soos Uganda, waar dit die gebruik is dat familielede na siekes en bejaardes omsien.

As hospice-sorg tuis voorsien word, het versorgers dikwels ’n ondersteuningspan tot hulle beskikking, wat moontlik ’n dokter, verpleegsters, helpers en ’n maatskaplike werker sal insluit. Hierdie opgeleide persone kan versorgers leer hoe om te verseker dat die pasiënt gemaklik is en aan hulle verduidelik wat hulle gedurende die sterfproses te wagte kan wees. Hulle eerbiedig ook die wense van die pasiënt en die familie. Byvoorbeeld, as die familie dit verkies, sal die hospice-werkers nie onnodige diagnostiese toetse doen of buisvoeding gee wanneer die pasiënt nie meer voedsel kan inneem nie.

Dolores en Jean versorg hulle 96-jarige pa by die huis. Omdat hy fisies agteruitgaan, waardeer hulle die hulp wat hulle ontvang. “’n Helper kom vyf dae per week in om ons te help om my pa te bad”, sê Dolores. “Die helper trek my pa se bed ook skoon oor en help hom met sy persoonsversorging as ons haar vra. ’n Verpleegster kom een keer per week in om my pa se bloeddruk, temperatuur, ensovoorts, te neem en sy voorskrifmedisyne aan te vul. En die dokter besoek hom ongeveer elke drie weke. As ons hulle hulp op ander tye nodig het, is hulle 24 uur per dag beskikbaar.”

Die feit dat mediese personeel heeltyd beskikbaar is, is ’n belangrike aspek van hospice-sorg, aangesien hierdie opgeleide manne en vroue medikasie kan monitor en kan verseker dat die pasiënt geen pyn het nie terwyl hy sover moontlik nog by sy positiewe is. Hulle kan ook suurstofterapie voorsien. Die bystand van hierdie mediese personeel laat die versorger en die pasiënt gerus voel en bevry hulle van die vrees dat die pasiënt verskriklike pyn of ander angswekkende simptome kort voor sy dood sal ondervind.

Medelydende sorg

Hospice-personeel erken dat dit belangrik is om pasiënte gedurende al die fases van hulle siekte hulle waardigheid te laat behou en hulle met respek te behandel. Martha, wat meer as 20 jaar lank vir ’n hospice gewerk het, sê: “Ek het die pasiënte leer ken, sowel as die dinge waarvan hulle hou en nie hou nie, en ek het hulle probeer help om die tyd wat hulle oorgehad het, soveel as moontlik te geniet. Ek het dikwels baie geheg aan hulle geraak en kon nie anders as om vir party lief te word nie. Sommige pasiënte met Alzheimer se siekte of ’n ander vorm van demensie het aggressief geraak wanneer ek hulle gehelp het. Hulle het probeer om my te slaan, te byt of selfs te skop. Maar ek het altyd probeer onthou dat die siekte vir hierdie gedrag verantwoordelik is, nie die persoon nie.”

Aangaande die bevrediging wat dit haar verskaf het om versorgers by te staan, sê Martha: “My ondersteuning het hulle gehelp om nie so oorweldig te voel deur die taak om vir hulle geliefdes te sorg nie. Net die wete dat die hospice-span help om die vrag te dra, was vir hulle vertroostend.”

As hospice-sorg beskikbaar is waar jy woon, kan dit ’n realistiese, liefdevolle alternatief wees vir versorging in ’n hospitaal of ’n verpleeginrigting. Jeanne, wat aan die begin aangehaal is, is bly dat sy hospice-sorg vir haar ma gekies het. Sy sê: “My ma kon by die huis bly, waar sy omring was deur haar familie, wat haar fisies, emosioneel en geestelik ondersteun het, en sy kon terselfdertyd verpleegsorg en medikasie ontvang om haar siekte draaglik te maak. Al die hospice-personeel was professioneel en medelydend. Hulle raad en bekwaamheid was van onskatbare waarde. Ek is daarvan oortuig dat my ma geen ander soort versorging sou wou gehad het nie.”

[Lokteks op bladsy 17]

Die feit dat mediese personeel heeltyd beskikbaar is, is ’n belangrike aspek van hospice-sorg

[Venster/Prent op bladsy 16]

“Ons kon by haar wees”

Isabel, ’n vrou in Mexiko wie se ma 16 jaar lank teen borskanker geveg het totdat dit versprei het en nie meer behandel kon word nie, vertel: “Ek en my gesin was baie bang dat my ma sou ly. Ons het gebid dat sy nie die verskriklike pyn sou hê wat baie pasiënte met terminale kanker ondervind voordat hulle sterf nie. ’n Dokter hier in Mexiko wat spesialiseer in palliatiewe sorga was die antwoord op ons gebede. Sy het ons een keer per week besoek, die gepaste pynmiddels voorsien en ons presiese, eenvoudige instruksies gegee oor die gebruik daarvan en hoe om vir my ma te sorg. Dit was vertroostend om te weet dat ons die dokter enige tyd van die dag of nag kon bel en dat sy sou kom. En dit was ’n groot seën om te sien dat ons ma haar laaste dae rustig en sonder pyn kon deurbring. Sy het selfs die bietjie kos geniet wat sy kon eet. Ons kon by haar wees, hier by die huis, totdat sy in haar slaap oorlede is.”

[Voetnoot]

a Die doel van palliatiewe sorg is om die simptome van ’n siekte, veral die pyn wat ’n terminale siekte veroorsaak, te verlig.

[Venster op bladsy 17]

Wanneer die dood naby is

Hou die bedlinne skoon en droog en sorg dat daar nie voue in is nie. Om bedsere te voorkom, moet die pasiënt se posisie gereeld verander word en moet hy gereeld van skoon onderklere of doeke voorsien word as hy nie beheer oor sy blaas of maag het nie. Indien nodig kan setpille en ’n enema van soutwater gebruik word om die pasiënt se maag gereeld te laat werk. Kos en water is nie nodig om lyding te voorkom as die persoon na aan die dood is nie. Hou sy of haar mond klam met stukkies ys of ’n nat lappie en lipsalf. Selfs as jy net die pasiënt se hand vashou, is dit vertroostend, en onthou dat hy of sy dalk tot die einde toe sal kan hoor.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel