Daikoe san bou ’n droomhuis
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
BAIE besoekers aan Japan word bekoor deur die sierlike, tradisionele huise wat hulle hier sien. Die skuins dak, die dakrande wat opgebuig is, die ingeslote tuin en die stoepe dra alles tot hulle bekoring by. Tog is dit interessant dat hierdie soort huis gewoonlik deur net een persoon ontwerp, gebou en versier word. Hy word Daikoe san, of die meester-skrynwerker, genoem.
Mnr. Kato is ’n Daikoe san met 40 jaar se ervaring. Hy en sy span vakmanne is besig om ’n huis te bou wat die meeste Japannese as hulle droomhuis sou beskou. Kom ons luister terwyl hy ons iets oor die unieke styl van die huis vertel en hoe hy dit bou.
Klassieke ontwerp
“Die wese van ’n klassieke Japannese huis”, vertel Daikoe san, “kan in net twee woorde opgesom word: wabi en sabi.” Albei woorde het onder andere die betekenis van “verfynde en smaakvolle eenvoud”. “Subtiel”, “rustig” en “delikaat” is ander woorde wat ons help om Japannese argitektuur en die aantreklikheid daarvan te verstaan.
Omdat tifone en aardbewings so dikwels in Japan voorkom en omdat die humiditeit in die somer so hoog is, verduidelik Daikoe san, word hout meestal as materiaal vir ’n gesinshuis gebruik vanweë sy elastisiteit. Klei, bamboes en papier is ook onder die basiese materiale wat gebruik word. Om visuele harmonie te verkry, word die huis en die tuin saam ontwerp.
Hoe sal die droomhuis en -tuin lyk? Hoe sal dit gebou word? Daikoe san stel voor dat ons na ’n ander bouperseel ry waar ons eerstehands kan sien hoe Daikoe san ’n droomhuis bou.
Van die grond af
“Huise wat honderd jaar gelede gebou is, is nie aan die grond geanker nie”, vertel Daikoe san terwyl ons op die perseel rondloop. “Hulle is op ’n netwerk horisontale balke gebou wat deur kort pale gestut is en op klippe gerus het.” Die feit dat baie van hierdie geboue nog staan, getuig van die Daikoe san se vaardigheid. “Deesdae”, sê hy, “word voetings en fondamente van sement gemaak. Maar die strukturele beginsels bly dieselfde.” Dit geld ook vir die mure, wat in konsep en konstruksie heelwat verskil van dié van huise wat volgens die Westerse styl gebou is.
Die binnemure van ’n Japannese huis is bedoel om meer soos afskortings as soliede mure te wees. “Oor ’n latwerk gesplete bamboes soos hierdie een”, verduidelik Daikoe san terwyl hy na ’n muur wys wat in aanbou is, “sal twee tot vyf lae klei gesmeer word. Die dikte van elke laag verskil, en elke laag moet heeltemal droog wees voor die volgende laag aangesmeer word. As gevolg hiervan neem dit gemiddeld drie maande om ’n huis te voltooi.” (Om ’n droomhuis te bou, neem natuurlik baie langer.) Die mure, wat afgewerk word met ’n laag fyn klei of sand in die natuurlike aardkleure waarvan die Japannese hou, sal asemhaal en nie sweet soos betonmure dikwels in ’n klam klimaat doen nie.
Daikoe san vestig ons aandag volgende op die vloer. Die stoep-, portaal- en kombuisvloere sal van hardehout wees. Die meeste van die ander kamers se vloere word bedek met dig geweefde grasmatte wat tatami genoem word. Hierdie unieke vloerbedekking is warm in die winter, koel in die somer en ferm maar sag genoeg om op te sit of te lê. Elke mat is ongeveer een meter by twee meter in omtrek en vyf sentimeter dik. Kamers word geïdentifiseer deur die aantal matte wat daarin sal pas en daarom word hulle, na gelang van die grootte, agt mat, ses mat of vier en ’n half mat kamers genoem.
’n Streng bewaarde familiegeheim
Die Daikoe san se vaardigheid blyk werklik uit sy meesterlike skrynwerk. Ons gids wys ons handleidings van meer as 70 jaar oud wat hy by sy vader gekry het. Hulle bevat bladsye vol van ingewikkelde, fassinerende skrynwerksnitte. Van antieke tye af het die meesterskrynwerker sy skrynwerktegnieke ’n streng bewaarde geheim gehou en hulle slegs aan sy seun of opvolger oorgedra. Hoewel dit nie meer nodig is nie, kan ’n hele huis gebou word sonder dat ’n enkele spyker gebruik word.
“Party van hierdie skrynwerktegnieke is soortgelyk aan dié wat deur skrynwerkers elders gebruik word. Daar is byvoorbeeld die swaelstert, sponning-, stoot- en lipvoeë wat inmekaar sluit”, verduidelik Daikoe san. Die spanning in daardie deel van die gebou bepaal die soort las wat gebruik word. Die regte voeë sal ook aardskuddings absorbeer en toelaat dat die huis saam met die skok beweeg.
Die toppunt
Die vernaamste kenmerk van die tradisionele Japannese huis is waarskynlik die dak. In vergelyking met die res van die huis lyk dit groot en nogal swaar. Maar Daikoe san vertel vir ons dat die dak in werklikheid ’n stabiliseerder teen die elemente is en dat dit sy sterkte van die stewige heelstomp-dakbalke kry. Hoewel daar baie verskillende dakstyle is, is gewel- of skilddakke of ’n kombinasie van die twee die algemeenste. Daikoe san wys vir ons dakteëls van gebakte klei. Met die uitsondering van ’n gewilde, skitterende asuurblou oorheers aardkleure weer eens.
“Die effens opgebuigde hoeke en groot dakoorhang is belangrike besonderhede vir die gerief van toekomstige bewoners”, beduie Daikoe san. “Hulle laat toe dat jy die vloer-tot-plafon-glasskuifdeure na die stoep in die vogtige reënseisoen kan ooplaat. Tog is hulle teen net die regte hoek geplaas sodat hulle die warm somerson buite hou.”
Ons besigtiging van die bouperseel kom tot ’n einde. Ons gids nooi ons nou om na ’n huis te gaan kyk waaraan hy ’n jaar en ’n half gebou het.
’n Ware droomhuis
Die oomblik toe ons daar aankom en na die sierlike lyne kyk, besef ons dat dit ’n huis is waarin enigiemand tuis sal voel. Die voordeur is van houttraliewerk met glas daaragter. Dit gly maklik oop en ons loop in ’n pragtige ingangsportaal in. Nadat ons ons skoene uitgetrek het, loop ons in die huis in. Die gang se vloerplanke voel solied onder ons voete.
Ons staan stil om na die boupale te kyk. Hulle is so glad dat hulle soos sy voel, en hulle blink asof hulle vernis is. “Geen kleurstof of lakvernis is aan enige houtwerk in die huis aangewend nie”, vertel Daikoe san asof hy ons gedagtes lees. “Dit is so glad as moontlik geskaaf.”
In die sitkamer beskou ons die besonderhede van die vertrek. Die dwarsbalk, of raveelbalk, bokant die skuifdeure, of panele, is ’n ingewikkelde houtsnywerk van kersiebloeisels. Reg rondom die kamer is daar skuifpanele van papier wat oor houtrame gespan is. Die skuifdeure teenoor die stoep is van latwerk wat met dun, wit sjodjipapier oorgetrek is. Die deure (wat foesoema genoem word) wat na die portaal of ander kamers oopmaak, word met swaarder papier oorgetrek. Elkeen van hierdie panele, wat as kamerskeidings dien, is met ’n verskillende patroon versier. “Hierdie kamertjies kan in een groot kamer verander word deur eenvoudig hierdie skuifpanele te verwyder”, verduidelik Daikoe san. Hoe prakties tog!
Die tokonoma, of prentealkoof, en sy aangrensende hoekrak, is teen die enigste soliede muur. “Hierdie is die mooiste plek in die huis”, sê Daikoe san, “en die beste hout en vakmanskap gaan hierin.” Vandag hang daar ’n treffende kalligrafierol.
Ons stap deur die res van die huis. Die aangename geur van sederhout, sipreshout, dennehout en die tatami hang liggies in elke kamer. Alles in die huis getuig van subtiele eenvoud en elegansie.
Op pad uit wag die tuin op ons inspeksie. Hoewel dit nie baie groot is nie, is dit vreedsaam en rustig. Dit het ’n dammetjie vol helderkleurige karp en ’n lieflike watervalletjie. Ons vertrek met ’n gevoel van tevredenheid, verwonderd oor die vaardigheid en vindingrykheid wat Daikoe san aan die dag lê wanneer hy ’n huis bou.