Kyk na die plekke wat ons ’n tuiste noem
“Oos wes, tuis bes.”
HOE lyk jou huis? Is dit ’n huis wat goed gebou is deur professionele bouers wat moderne boumateriale gebruik het? Of is dit ’n huis wat deur sy eienaars gebou is van plaaslike materiale? Kom ons kyk vir ’n oomblik na plekke wat mense oor die hele wêreld hulle tuiste noem.
Die eerste plek wat ons besoek, is die land El Salvador, waar ons Jorge en sy ouers in die dorpie Texistepegue ontmoet. Terwyl ons op toer deur Jorge se huis gaan, let ons op dat die vloer net die kaal grond is. Die dakstutte is van boomstompe gemaak wat in die grond geplant is. Die rousteenmure is met modder gepleister. Die pandak steek verby die mure om skaduwee te bied en om die mure teen reën te beskerm. Maar pleks van teëls te gebruik, maak baie mense in El Salvador die dak van lang gras, wat 15 sentimeter dik opmekaar gestapel word.
Party van die arm plattelanders in Colombia woon in huise wat amper dieselfde is. Tussen die hoekpale wat in die grond geplant is, vorm gesplete bamboes wat met modder gepleister is die mure. Die dak bestaan uit palmblare wat op stutpale gesit word.
In Tacuarembó, Uruguay, word party huise met roustene gebou wat van ’n mengsel van perdemis, grond en water gemaak is. Die mengsel word in houtgietvorms gegiet wat op ’n plat oppervlak gelos word sodat dit in die son kan droog. Die verharde stene word vir die mure gebruik, en ’n grasdak rus op stutdakpale. Pleks van glas in die vensteropenings te sit, word houtluike gebruik en die kaal grond vorm die vloere.
Party arm gesinne in die binneland van Uruguay woon in sooihuise. Sulke wonings is, soos rousteenhuise, koel in die somer en warm in die winter. Sooiblokke word in ’n ineensluitende patroon gelê sodat dit ’n muur met ’n dikte van 0,6 meter en ’n hoogte van 1,8 meter vorm. Riete word aan die dakstutte vasgebind sodat dit ’n grasdak met ’n dikte van 18 sentimeter vorm. Ten einde die buitemure ’n harde, gladde oppervlak te gee, pleister party huiseienaars hulle met ’n mengsel van modder en koeimis. Afskortings binne die huis word van ’n raamwerk van boompies gemaak wat met goiingsakke bedek word wat aan mekaar gewerk is. Soms word modder oor die goiingsakke gepleister.
Party Uruguane in die binneland wat in gebiede naby riviere en moerasse bly, woon in riethuise, wat omraam word met vars gesnyde boomtakke waaraan bondels riete styf vasgebind is. Hoe word dit gedoen? Die riete word in lengtes van 1,5 tot 1,8 meter gesny en word in die son gedroog totdat hulle vogvry is. Dan word hulle in bondels met ’n deursnee van ongeveer 23 sentimeter gebind, en eindelik word hulle aan die raamwerk vasgebind om die huis se mure en dak te vorm.
Drywende huise
Naby die dorp Iquitos, Peru, bou iemand wat arm is sy huis op die Amasonerivier. Hoe voorkom hy egter dat die huis wegdrywe? Hy sny groot, ligte houtstompe wat hy in die woud kry om ’n vlot te vorm en hy anker dit met pale wat in die rivierbodem vasgesit word. Nadat hy die vlot aan die pale vasgemaak het, bou hy sy huis daarop—’n konstruksie met een vertrek met bamboesmure en ’n grasdak. Die huis het sy eie soort lugreëling—lug beweeg deur die openings tussen die bamboesstukke in die mure. Dikwels word ’n hele muur weens die intense tropiese hitte weggelaat.
Die slaapplekke bestaan gewoonlik uit ’n houtbed, hangmatte of vloermatte. Hoewel hierdie huis primitief is in vergelyking met die meeste huise in Iquitos, is dit vir armer mense ’n tuiste.
Op die pragtige Titicaca-meer in Peru word riethuise op drywende eilande gebou. Die eilande word ook van riete gemaak en bestaan uit talle verskillende groottes, waarvan party so klein soos ’n tennisbaan is. Daar is volop riete in hierdie meer wat meer as 3800 meter bo seevlak is.
Die vindingryke bewoners bind bondels riete saam sodat dit die mure en dakke van hulle huise vorm, wat op die vlottende platform gebou word. Een keer per jaar vervang die mense die heel boonste laag riete op die platform, wat vir die verrotting van die heel onderste laag vergoed. Die platform is ongeveer 1,8 meter dik en die bodem vrot geleidelik af.
’n Ander soort drywende huis, een wat party Chinese ’n tuiste noem, kan in Hong Kong aangetref word. Dit is nie iets ongewoons dat ’n klein watertaxi wat passasiers teen vergoeding in Hong Kong se Aberdeen-hawe vervoer ook die gesin wat die taxi bestuur se drywende tuiste is nie. Dit is waar die gesin kook, eet en slaap. Ander Chinese gesinne bly hulle hele lewe lank op vissersvaartuie wat jonke genoem word en wat vir hulle ’n tuiste geword het.
In Europa is daar baie riviere en kanale wat deur vragskuite gebruik word om handelsware te vervoer. Party gesinne wat hierdie vragskuite bestuur, omskep die een punt in woonvertrekke en sodoende word die vragskuit hulle drywende huis.
Woonstelle in die Borneose styl
Op die eiland Borneo bou die mense wat as Ibans, of See-Dajaks, bekend staan gemeenskapshuise wat hulle weergawe van woonstelgeboue is. Hierdie lang, lae konstruksies, wat op talle pale gestut word wat in die grond geplant is, is hoog op terrasvormige rivierbanke geleë. In elke gemeenskapshuis woon daar ’n hele gemeenskap, ’n dorp onder een dak.
Die huis se lengte verskil volgens die grootte van die gemeenskap, wat van tien tot eenhonderd mense kan wees. Namate meer gesinne deur huwelike gevorm word, word die gemeenskapshuis eenvoudig verleng om hulle te huisves.
Elke gesin het sy eie woonvertrek. Hoe kom gesinslede in hulle woonplek? Deur middel van ’n oop galery wat deur die hele lengte van die huis loop. ’n Grasdakoorhang oor die galery bied skaduwee en beskerming teen die reën. Wanneer die bewoners tuis is, bring hulle die meeste van hulle tyd in hierdie galery deur, waar hulle by mekaar kuier of handwerk doen, soos om mandjies te maak of sarongs te weef.
Die gesin kook, eet en slaap in hulle woonvertrek. Bo die woonvertrekke en die galery is daar ’n solder wat as pakplek vir plaasgereedskap en rys dien. Dit dien ook as slaapvertrek vir ongetroude meisies. Jong ongetroude mans slaap op matte buite op die galeryvloer.
Hierdie gemeenskapshuise het, in teenstelling met die woonstelblokke in Westerse stede, geen badkamers of toilette nie. Daar word in die nabygeleë rivier gebad en allerhande afval word tussen die vloerlatte deur na die grond vier meter ondertoe laat val, waar varke en hoenders help om daarvan ontslae te raak.
Ondergrondse huise
Gedurende die 19de eeu het baie van die pioniersetlaars in die Verenigde State hout- of sooihuise gebou, maar party het hulle huise ondergronds gebou. Hulle het ’n grot met een vertrek in die wal van ’n sloot gegrawe en die dak gelyk met die wal gemaak. ’n Skoorsteenpyp is deur die dak gesteek sodat dit as ’n luggat kon dien vir rook wat deur die vure vir kokery en verhitting veroorsaak is. Hierdie ondergrondse huise was wel donker, maar hulle was ook warm in die winter. En dit was niks ongewoons dat mans wat op hulle eie gewoon het die grot met hulle perde of osse gedeel het nie.
Vandag bou die Yami’s op Orchid-eiland naby Taiwan steeds tradisionele huise wat meestal ondergronds is. Die wande van die oop gat word met klippe uitgevoer, en ’n afvoersloot verhoed dat dit tydens reënstorms vol water word. Houtbalke stut die daksparre en die grasdak. Bo die grond het elke huis ’n klein, afsonderlike geboutjie sonder mure met ’n platform wat effens gelig is en wat deur nog ’n grasdak bedek word. Hierdie beskutte platform word die gesin se koeltoring, waar hulle die tropiese hitte op die middaguur kan vryspring. Daar is egter ander mense wie se huise heeltemal ondergronds is.
’n Paar jaar gelede het die idee om grotte as huise te gebruik in ’n ander wêrelddeel ’n nuwe wending geneem. In die Loire-vallei in Frankryk het grotbewoning onder ’n aantal ryk gesinne gewild geraak. Daar kon jy ’n grot aantref wat in ’n sitkamer, ’n eetkamer en ’n kombuis omgeskep is—’n reeks kamers agter mekaar wat tot diep binne-in die krans gestrek het. ’n Ander huis was ontwerp met ’n aantal grotte wat langs mekaar was. Elke grot het vensters en ’n glasdeur gehad wat in die grotopening gebou was sodat lig kon inkom. Die gesinne wat in hierdie grotte gewoon het, het aansienlike onkoste aangegaan om hulle met lopende water, elektrisiteit en ander geriewe te moderniseer, wat lugreëling ingesluit het om klammigheid en muf te bekamp.
Die huise wat ons hier bespreek het, verskil dalk van joune. Maar vir die mense wat in hierdie verskillende wêrelddele woon, is dit ’n tuiste.