Van ons lesers
Hulp vir die sterwendes Aangesien ek ’n verpleegster in ’n hospitaal se kardiologiese eenheid is, het julle Ontwaak! oor “Hulp vir die sterwendes” (22 Oktober 1991) my geïnteresseer. Maar ek voel tog dat ’n geringe fout reggestel moet word, aangesien julle sê: ‘Baie geneeshere het tot die gevolgtrekking gekom dat dit eties is om voeding en hidrasie [vloeistowwe] weg te neem van sommige pasiënte wat sterwend, ongeneeslik siek of permanent bewusteloos is.’ Ek verseker julle dat dit wreed en uiters pynlik sal wees om ’n siek persoon se voeding en hidrasie te beëindig. Uit persoonlike waarneming kan ek sê dat dit selfs meer lyding sal veroorsaak.
M. S., Frankryk
Die betrokke stelling is uit “The New England Journal of Medicine” aangehaal en weerspieël die denke van baie geneeshere. Dokters glo dat baie pasiënte met ernstige breinskade nie pyn en lyding kan ervaar nie. Verder vereis die toediening van mediese voeding en hidrasie gevorderde mediese vaardigheid en bring dit op sigself ongemak en gevare mee. Party dokters meen dus dat die voordele in sekere situasies nie teen sulke gevare opweeg nie. In elk geval, individuele Christene moet hulle eie gewetensbesluite neem wanneer dit by sulke pynlike en emosionele sake kom.—RED.
Ek het twintig jaar gelede die besluit geneem om lewensondersteuning vir my dag oue seuntjie te staak. Hy is vroeggebore en was breindood. Ek het by die huis aan hom geboorte gegee omdat ons nie betyds by die hospitaal kon kom nie. Ek kan nie die smart en skuldgevoelens wat ek jare lank gehad het, beskryf nie. Maar toe ek die artikels gelees het, kon ek my in my las van 20 jaar berus.
S. M., Verenigde State
Oos-Europese byeenkomste Ek is diep geraak deur die reeks artikels “Liefhebbers van godvrugtige vryheid juig in Oos-Europa” (22 Desember 1991). Omdat ek as een van Jehovah se Getuies grootgemaak is, was ek geneig om die geestelike voedsel wat ons ontvang as vanselfsprekend te aanvaar. Maar toe ek lees hoe Getuies in Oos-Europa vir die eerste keer publikasies wat ons reeds etlike jare het in hulle moedertaal ontvang het, het ek meer waardering gekry vir die voorreg wat ek het om deel van so ’n wonderlike organisasie te wees.
T. O., Japan
Lees Ek is 13 jaar oud. Die artikel “Verruim jou horison deur te lees” (22 Julie 1991) was net wat ek nodig gehad het. Ek het voorheen een woord op ’n slag gelees. My gedagtes het dikwels gedwaal sodat ek die materiaal weer moes lees om dit te verstaan. Julle wonderlike wenke het my baie gehelp.
A. K., Pole
Rehabilitasie van misdadigers Ek het ’n seun in die tronk wat ’n intekening op Ontwaak! het, en ek het vurig gebid vir artikels wat dalk sy hart sal raak. Ek het die artikels “Die krag van die waarheid om te rehabiliteer” (22 Julie 1991) en “Ek was ’n inbreker van beroep” (8 September 1991) so waardeer. Ek het hulle gelees met trane van diepe waardering vir God wat wil hê “dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Hopelik sal my seun dit eendag doen.
A. F., Verenigde State
Krieket Krieket is een van ons geliefkoosde tydverdrywe hier op die Karibiese Eilande. Maar ek was werklik verbaas om die artikel “Krieket of bofbal—Wat is die verskil?” (8 November 1991) te sien. Ek sou nooit kon droom om so ’n artikel in die tydskrif te sien nie! Dit was baie leersaam, en ek kon baie eksemplare van Ontwaak! by ander mense laat deur net hierdie artikel te gebruik.
J. D., Jamaika