“Onthou Pearl Harbor!”
DIT was ’n pragtige Sondagoggend op die eiland Oahu. Adeline, ’n Japannees-Hawaise meisie in standerd vier, was in haar agterplaas in die middestad van Honolulu. Sy het vliegtuie gesien en rook in die rigting van Pearl Harbor sien opkom. Was dit nog ’n driloefening?
Die mense op Oahu was so gewoond aan krygsoefeninge en skyngeskutvuur dat selfs vise-admiraal William S. Pye van die Amerikaanse Suidseevloot by sy woonstelvenster uitgekyk en aan sy vrou gesê het: “Dit is snaaks dat die leër op ’n Sondagoggend skyfskietoefening het.” Daardie Sondagoggend was 7 Desember 1941.
’n Dertienjarige seun wat die aankomende vliegtuie gehoor het, het by die venster uitgeloer. “Pa”, het hy aan sy vader gesê, wat die bevelvoerder van die vloot se lugstasie by Kaneohe was, “daardie vliegtuie het rooi sirkels op hulle.” ’n Kykie na die rooi skyf, die opkomende son, op die vliegtuie van die Japannese Imperialistiese Vloot was genoeg om die hele verhaal te vertel—’n verrassingsaanval!
Admiraal H. E. Kimmel, bevelvoerder van die Amerikaanse Suidseevloot in Pearl Harbor, het ’n verslag oor die aanval oor die telefoon ontvang. Sy gesig was “so wit soos die uniform wat hy aangehad het” terwyl hy verbysterd na die vyandelike vliegtuie gekyk het wat soos perdebye gezoem het terwyl hulle sy vloot gebombardeer het. “Ek het dadelik geweet”, het hy vertel, “dat iets verskrikliks aan die gang was, dat dit nie ’n toevallige aanval deur net ’n paar verdwaalde vliegtuie was nie. Die lug was vol vyandelike vliegtuie.”
“Tora, Tora, Tora”
’n Paar minute voordat torpedo-ontploffings en bomontploffings die kalmte van Pearl Harbor versteur het, het ’n offisier aan boord van ’n Japannese duikbomwerper die eiland Oahu gesien. “Hierdie eiland is te vreedsaam om aan te val”, het hy gedink.
Maar die opening in die wolke is deur kommandeur Mitsoeo Foetsjida, die vlugleier van die aanvalsmag, as iets heeltemal anders vertolk. “God moet met ons wees”, het hy gedink. “Dit moet God se hand wees wat die wolke reg bo Pearl Harbor weggetrek het.”
Foetsjida het om 7:49 vm. die aanvalsteken gegee: “To, To, To”, wat “Val aan!” in Japannees beteken. Vol vertroue dat hy die Amerikaanse troepe heeltemal verras het, het hy die bevel gegee om die boodskap dat die verrassingsaanval gedoen is in Morse-skrif oor te dra— met die beroemde kodewoorde “Tora, Tora, Tora” (“Tier, Tier, Tier”).
Die verrassingsaanval word uitgevoer
Hoe kon ’n groot taakmag, wat ses vliegdekskepe ingesluit het, ongesiens tot 370 kilometer van Oahu af gevaar het en in die eerste lugaanslag 183 vliegtuie uitgestuur het, wat radarnetwerke ontwyk het en die Amerikaanse vloot in die Stille Oseaan ’n verskriklike slag toegedien het? Om maar een ding te noem, die Japannese taakmag het ondanks die onstuimige wintersee ’n noordelike roete gevolg. Die Amerikaanse patrollies was die swakste noord van Pearl Harbor. En die Japannese vliegdekskepe het streng radiostilte gehandhaaf.
Maar die strategiese eiland is deur radar bewaak sodat enige aankomende vliegtuie opgespoor kon word. Ongeveer sewe-uur op daardie beslissende oggend het twee soldate wat diens gehad het by Opana se Mobiele Radarstasie op die eiland Oahu buitengewoon groot radarbeeldjies op die ossilloskoop gesien, wat “waarskynlik meer as 50” vliegtuie verteenwoordig het. Maar toe hulle die Inligtingsentrum gewaarsku het, is daar vir hulle gesê om hulle nie daaroor te bekommer nie. Die offisier by die Inligtingsentrum het gedink dat dit ’n vlug van Amerikaanse B-17-bomwerpers was wat daardie oggend van die Amerikaanse vasteland af sou inkom.
Maar het die Amerikaanse regering nie vermoed dat daar ’n aanval sou wees nie? Die Japannese regering het ’n veertiendelige boodskap aan sy verteenwoordigers in Washington, DC, gestuur wat op 7 Desember 1941 presies om 1:00 nm., Oosterse Standaardtyd, aan Cordell Hull, die minister van buitelandse sake, gegee moes word. Dit sou die oggend van 7 Desember by Pearl Harbor wees. Die boodskap het die verklaring bevat dat Japan onderhandelinge oor belangrike politieke sake met die Verenigde State sou staak. Die Amerikaanse regering wat die boodskap onderskep het, het bewus geword van die erns van die situasie. Die aand voor die belangrike dag, het Franklin D. Roosevelt, destyds die president van die Verenigde State, die eerste 13 dele van die onderskepte dokument ontvang. Nadat hy dit gelees het, het hy in wese gesê: “Dit beteken oorlog.”
Hoewel die Amerikaanse amptenare gemeen het dat vyandelike Japannese optrede voor die deur was, sê The New Encyclopædia Britannica: “Hulle het nie geweet wanneer of waar dit sou gebeur nie.” Die meeste het gedink dat dit iewers in die Verre-Ooste, miskien Thailand, sou wees.
Die afspraak om 1:00 nm. moes vertraag word omdat die Japannese ambassade se sekretaresses die boodskap nie so vinnig in Engels kon tik nie. Toe die Japannese ambassadeur die dokument aan Hull oorhandig het, was dit 2:20 nm. in Washington. Pearl Harbor was teen daardie tyd onder vuur en deur die tweede lugaanslag bedreig. Nuus van die aanval het Hull reeds bereik. Hy het die verteenwoordigers nie eers ’n stoel aangebied nie; hy het die dokument gelees en hulle met ’n kopknik koud die deur gewys.
Die vertraging in die aflewering van die beplande ultimatum het die Amerikaanse woede teen Japan verskerp. Selfs party Japannese het gemeen dat hierdie omstandighede die aanval op Pearl Harbor van ’n strategiese verrassingsaanval in ’n sluipaanval verander het. “Die woorde ‘ONTHOU PEARL HARBOR’ het ’n vloek geword wat die veglus van die Amerikaners aangewakker het”, het Mitsoeo Foetsjida, die vlugbevelvoerder van die eerste lugaanslag, geskryf. Hy het erken: “Die aanval was ’n skande oor Japan wat selfs nie na sy nederlaag in die oorlog verdwyn het nie.”
Franklin D. Roosevelt het 7 Desember “’n datum wat deur ’n skanddaad gekenmerk sal word”, genoem. Op daardie dag is agt Amerikaanse slagskepe en tien ander vaartuie in Pearl Harbor gekelder of erg beskadig, en meer as 140 vliegtuie is vernietig. Die Japannese het, buiten vyf dwergduikbote, 29 vliegtuie uit die ongeveer 360 vegvliegtuie en bomwerpers wat in die twee lugaanslae gebruik is, verloor. Meer as 2330 Amerikaners het gesterf, en 1140 is gewond.
Met die uitroep “Onthou Pearl Harbor!” is die Amerikaanse openbare mening teen Japan verenig. “Met net een teenstem in die Raad van Verteenwoordigers”, sê die boek Pearl Harbor as History—Japanese-American Relations 1931-1941, “was die Kongres (soos die Amerikaanse volk in die algemeen) met president Roosevelt verenig in die vaste voorneme om die vyand te verslaan.” Hulle wou wraak neem vir die aanval, en dit was vir hulle meer as genoeg rede om met vyandelikhede teen die Land van die Opkomende Son te begin.
’n Verrassingsaanval vir wêreldvrede?
Hoe het die Japannese heersers hulle vyandelike optrede geregverdig? Hoe ongelooflik dit ook al mag klink, het hulle beweer dat dit wêreldvrede moes bewerkstellig deur die ‘hele wêreld in een groot familie’, of hakkou itsjioe, te verenig. Dit het die strydkreet geword wat die Japannese aangespoor het om bloed te vergiet. “Die basiese doelwit van Japan se nasionale beleid”, het die Japannese kabinet in 1940 gesê, “is om wêreldvrede permanent te bewerkstellig in ooreenstemming met die verhewe gees van hakkou itsjioe waarop die land gegrondves is, en om, as die eerste stap, ’n nuwe orde in Groot-Oos-Asië op te rig.”
Benewens die strydkreet hakkou itsjioe het die bevryding van Asië van die Westerse moondhede die ander groot doelwit van die Japannese oorlogspoging geword. Beide doelwitte is as die wil van die keiser beskou. Om hierdie verowering van die wêreld te bewerkstellig, het militariste die nasie in ’n oorlog met China en toe met die Westerse moondhede, waaronder die Verenigde State, ingelei.
Isorokoe Jamamoto, opperbevelhebber van Japan se Vloot, het egter realisties tot die slotsom gekom dat daar geen manier was waarop Japannese magte die Verenigde State kon oorweldig nie. Hy het net een manier gesien waarop Japannese oorheersing in Asië behou kon word. Die Imperialistiese Vloot moes “die hoofvloot van Amerika aan die begin van die oorlog verbete aanval en vernietig, sodat die moreel van die Amerikaanse Vloot en sy mense” so “’n knak sou kry dat dit nie herstel kon word nie”, het hy geredeneer. Die idee van ’n verrassingsaanval op Pearl Harbor het dus posgevat.
[Prent op bladsy 4]
Aanval op Pearl Harbor
[Erkenning]
U.S. Navy/U.S. National Archives photo