Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/22 bl. 14-17
  • ’n Mens begin al in die baarmoeder leer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Mens begin al in die baarmoeder leer
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Lewe—’n gawe van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wanneer begin ’n mens se lewe?
    Ontwaak!—1990
  • Die baarmoeder—ons wonderlike eerste tuiste
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/22 bl. 14-17

’n Mens begin al in die baarmoeder leer

VIR Aristoteles was die baba se brein by geboorte ’n tabula rasa, ’n leë lei. Meer as tweeduisend jaar later het baie dit as weinig meer beskou. “Wanneer die baba gebore word”, het ’n mediese professor aan die Universiteit van Pennsilvanië in 1895 geskryf, “is dit nouliks intelligenter as ’n leë dop.” Volkskunde het hiermee verskil en het beweer dat ’n suigeling in die baarmoeder leer en bewus is van gebeure buite die baarmoeder. Die wetenskap sê nou dat Aristoteles en die professor verkeerd is en dat volkskundiges reg is.

Die brein het ’n klein begin, maar hoe ontsagwekkend is dit tog wanneer dit ten volle ontwikkel het! Die ontwikkeling daarvan begin gedurende die derde week van swangerskap as ’n dun lagie selle wat die neurale plaat genoem word. Neuroloog Richard M. Restak verduidelik vir ons wat teen die einde van die swangerskap daarmee gebeur: “Maar van daardie klein begin sal die wonderlikste orgaan in die bekende heelal ontwikkel.” Die proses begin met om en by 125 000 selle en vermeerder teen 250 000 per minuut. Restak voeg by: “Hulle sal uiteindelik vermeerder tot ongeveer honderdmiljard neurone wat die basiese eenheid van alle funksies van die brein is.”

Terwyl die brein groei, word verbindings tussen sy neurone gevorm. Teen die agtste week ontwikkel hierdie verbindings, wat sinapse genoem word, en daar is gou miljoene van hulle wat die menigvuldige funksies van die fetale brein aanvaar. Dit is ook in hierdie stadium—die einde van die tweede maand van swangerskap—dat “alles wat in die ten volle ontwikkelde mens gevind sal word . . . reeds gevestig is”, sê die alombekende boek A Child Is Born. Al sy liggaamsdele is teenwoordig, en dit is nie meer ’n embrio nie. Die fetale stadium van groei en die vervolmaking van detail het begin. Die aborteurs het nietemin die vermetelheid om vir ons te sê dat dit nie lewe nie.

Die vroegste bewegings van die fetus begin op sewe en ’n half weke. Teen die 13de week funksioneer die smaakknoppies, en as suiker later by die vrugwater gevoeg word, verdubbel die sluktempo. Maar as iets bygevoeg word wat sleg smaak, sluk die fetus baie minder en trek hy sy gesig om sy misnoeë te kenne te gee. Teen die 15de en 16de week haal hy asem en kan hy selfs hik, suig, sluk, gaap, sy oë beweeg—en in die daaropvolgende weke vind REM-slaap plaas. Restak sê dat “die fetus al in sekere mate binne-in die uterus kan hoor, sien, proe, ruik en voel.” Maar die aborteurs verseker ons dat dit nog nie ’n lewende skepsel is nie.

Die pasgebore baba onthou dinge waarmee hy in die baarmoeder kennis gemaak het—byvoorbeeld, sy moeder se hartklop. Hy het dit gehoor wanneer hy aan die slaap geraak het, wakker geword het, gerus het, en het op die ritmiese klop daarvan beweeg. Dit was gedurig by hom, en het hom ’n gevoel van kalmte en veiligheid gegee. Navorsers het die kalmerende uitwerking daarvan in ’n eksperiment in ’n kraamsaal bewys. Die babas vir wie ’n opname van ’n menslike hartklop gespeel is, het minder gehuil en het beter gevaar as dié daarsonder. Dit is interessant dat opnames van “geluide binne-in die uterus en ander geluide (veeleisende suigelinge) kalmeer wanneer dit op vlakke gespeel word wat ooreenkom met dié wat in die uterus voorkom”.

Die fetale brein is nie net by die bedrywighede binne die baarmoeder betrokke nie maar dit neem ook kennis van en onthou dinge wat buite aangaan. “Vivaldi is een van die ongebore kind se gunstelingkomponiste”, sê dr. Thomas Verny. “Mozart is nog een. Elke keer as een van hulle majestueuse komposisies op ’n platespeler gespeel is, berig dr. Clements, het fetusse se hartklop sonder uitsondering bestendig geword en het hulle nie meer so baie geskop nie. . . . Daarenteen het alle soorte rock die meeste fetusse baie onrustig gestem.”

Dr. Anthony DeCasper, ’n sielkundige aan die Universiteit van Noord-Carolina, het ’n nie-voedsame fopspeen ontwerp wat die tempo en druk van ’n baba se gesuig monitor. Deur sy suigpatroon te verander, leer die baba om te kies watter van die geluide wat opgeneem is hy graag wil hoor—byvoorbeeld sekere stemme en verhale. ’n Pasgebore baba wat net ’n uur of twee oud was, kon die stem van sy pa uitken, wat met kort kalmerende woorde met hom gepraat het terwyl hy in die baarmoeder was. Die kind het nie net na die stem geluister nie, maar het ook op ’n emosionele wyse daarop gereageer en opgehou met huil, omdat hy veilig gevoel het. Hy het op dieselfde manier gekies om na sy ma se stem, sowel as na haar hartklop, te luister waaraan hy in die baarmoeder gewoond geraak het.

DeCasper het in ’n ander eksperiment 16 swanger vroue ’n kinderverhaal met die titel The Cat in the Hat hardop laat lees. Hulle het dit twee keer per dag vir die laaste ses en ’n half weke van hulle swangerskap gelees. Kort nadat die babas gebore is, is hulle aan die suigapparaat gekoppel, en opnames van twee verhale, The Cat in the Hat en The King, the Mice and the Cheese, is vir hulle gespeel. Die babas het telkens deur hulle suigtempo’s verkies om na The Cat in the Hat, die verhaal wat hulle in die baarmoeder gehoor het, te luister. Hulle het dit herhaaldelik gekies, pleks van The King, the Mice and the Cheese, wat hulle nie in die uterus gehoor het nie. Kinders van alle ouderdomme doen dit ook. Hulle wil altyd hulle gunstelingverhaal, pleks van ’n nuwe een, oor en oor hoor.

DeCasper het tot die slotsom gekom: “Dit lyk asof gehoorvoorkeure na geboorte beïnvloed word deur dit wat voor geboorte gehoor word.” Dr. Restak, wat oor hierdie bevindinge verslag gedoen het, sê: “Die baba leer in die baarmoeder, herken sy ma se stem, selfs haar stembuiging en die boek wat sy lees.” Sy gevolgtrekking: “Met ander woorde, fetusse is in staat om deur gehoorwaarneming dinge in die uterus te leer maande voordat hulle dit werklik nodig het of voordat daar van hulle verwag kan word om dit te gebruik.”

Die baba het baie in die baarmoeder geleer. Dit is goed toegerus om te leer. Al die voorgaande toon dat die brein selfs in die baarmoeder verbasend is. Terwyl dit daar is, verkry dit sy volle getal neurone. Volgens die neurowetenskaplikes het “’n pasgebore baba se brein by geboorte meer neurone om netwerke mee te vorm as wat dit ooit weer sal hê”. Hierdie nuwe lewe in die baarmoeder is van sy begin af agt maande lank baie besig om hierdie miljarde neurone te maak en miljarde verbindings tussen hulle te skep, wat dit vir die baba moontlik maak om te beweeg, asem te haal, te suig, te sluk, te proe, te urineer, te hoor, te sien, te leer en te onthou. Hoe kan enige intelligente mens sê dat hierdie skepsel nie lewe nie?

Baie wetenskaplikes en miljoene ander glo logieserwys dat lewe in die baarmoeder by bevrugting begin. In sy boek The Mind sê dr. Restak: “Die ware begin en mees kritieke gebeurtenis in ons lewe is ongetwyfeld die oomblik van ons bevrugting. Die Chinese erken dit deur ouderdom van daardie oomblik af te bereken; ’n baba word by geboorte as een jaar oud beskou.”

Baie verkies vandag om te glo dat babas tot en met hulle geboorte nie as ’n lewe, ’n mens, beskou kan word nie, maar God se Woord verskil hiermee. As die baba met opset afgedryf word, is God se gebod: ‘’n Lewe vir ’n lewe.’ Dit word deur Exodus 21:22, 23 beklemtoon: “As manne met mekaar veg en hulle ’n swanger vrou werklik beseer en haar kinders te voorskyn kom, maar daar geen noodlottige ongeval is nie, moet daar sekerlik skadevergoeding van hom geëis word volgens wat die eienaar van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur die tussenkoms van die regters gee. Maar as daar ’n noodlottige ongeval is, dan moet jy gee siel vir siel [of, “lewe vir lewe”, AB].”—NW.

Terwyl die baba nog in die baarmoeder is, beskou Jehovah dit as ’n lewende persoon. Dat dit wel so is, is duidelik uit al sy bedrywighede in die uterus. Die wetenskap weet nou dat al sy liggaamsdele teen die einde van die tweede maand aanwesig is en funksioneer, dat hy voel, leer en onthou. Die pasgebore baba se verstand is dus beslis nie ’n ‘leë lei’ soos Aristoteles gesê het nie, en dit is ook nie waar dat die baba ‘nouliks intelligenter as ’n leë dop’ is, soos die universiteitsprofessor gesê het nie. Hy het al die neurone wat hy ooit sal hê, en hulle is gereed om al die nuwe waarnemings en geluide en gevoelens te registreer waardeur hy nou omring word. Hy is gereed vir die lewe! Of is hy?

Die ma kan baie doen om die welsyn van die baba in haar baarmoeder te verseker, of sy kan hom skade aandoen. Haar gedagtes kan hom ten goede of ten kwade beïnvloed. Nie dat die fetus die ma se gedagtes sal dink nie; maar dít waaroor sy dink, veroorsaak emosies, en die fetus word geraak deur die emosionele gesteldheid wat daardie gedagtes veroorsaak, of dit nou veiligheid, kalmte en gerustheid of angs, vrees en woede is. Nog erger, aansteeklike siektes kan deur die plasenta van die moeder na die fetus oorgedra word. Seksueel oordraagbare siektes, selfs vigs, kan oorgedra word. Moeders wat gedurende swangerskap tabak, dagga, alkohol, morfien, kokaïen, heroïen en ander dwelmmiddels gebruik, kan geboorte gee aan babas wat aan dwelmmiddels verslaaf is, verstandelik vertraag is, breinskade het, misvormde liggame het, maklik beroertes en stuipe kan kry en weens ander verskriklike gevolge ly.

Die baba in die baarmoeder is nie so afgesluit van die buitewêreld soos baie eers gedink het nie. Terwyl hy in die baarmoeder is, kan hy liefdevol vertroetel word of ’n wrede onreg aangedoen word. Watter behandeling wag op hom wanneer hy die baarmoeder verlaat? Hy begin in die baarmoeder te leer, maar wat sal sy leerondervindinge wees wanneer hy in die wêreld inkom? Gelukkig getroude, liefdevolle ouers sal daardie ondervindinge hopelik goeie ondervindinge maak.

[Lokteks op bladsy 14]

“Die wonderlikste orgaan in die bekende heelal”

[Lokteks op bladsy 14]

Agt weke, en al sy dele is teenwoordig

[Lokteks op bladsy 15]

Hoe kan enige intelligente mens sê dat hierdie skepsel nie lewe nie?

[Lokteks op bladsy 17]

Baie wetenskaplikes glo dat lewe by bevrugting begin

[Prent op bladsy 16]

Op agt weke, vier sentimeter lank, en al sy liggaamsdele is teenwoordig

[Erkenning]

Photo: Lennart Nilsson for A Child is Born - 1976 ed./Dell Publishing Co. (also page 2)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel