Lewe—’n gawe van God
ONS hart pomp vier-en-twintig uur ’n dag kosbare bloed deur ons liggaam. Ons raak aan die slaap, en ons longe hou aan om uit te sit en saam te trek. Ons eet ’n maaltyd, en die voedsel word outomaties verteer. Dit alles vind elke dag plaas met min of geen bewustelike inspanning van ons kant af nie. Hierdie geheimsinnige en wonderlike prosesse, wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar, is ’n deel van die gawe wat ons lewe noem. In sekere sin is dit ’n gawe wat ons ’n wonderwerk kan noem.
Beskou die proses van bevrugting en geboorte by die mens. Hoewel die liggaam gewoonlik vreemde weefsel verwerp, maak die baarmoeder ’n uitsondering in die geval van ’n bevrugte eiersel. In plaas daarvan om die groeiende embrio as vreemde weefsel te verwerp, voed en beskerm dit die embrio totdat dit gereed is om as ’n baba te voorskyn te kom. Sonder die baarmoeder se vermoë om hierdie kritieke uitsondering te maak op die reël dat vreemde weefsel verwerp word, sal geboorte onmoontlik wees.
Selfs dan sou ’n pasgebore baba se lewe kort wees as dit nie was vir ’n ontwikkeling wat in die baarmoeder plaasvind wanneer ’n fetus maar ongeveer vier maande oud is nie. Op daardie stadium begin hy sy duim suig wat die spiere oefen waarmee hy later aan sy moeder se borste sal kan drink. En dit is maar net een van die baie lewensbelangrike stappe wat lank voor ’n baba se geboorte bepaal word.
Terwyl die fetus in die baarmoeder is, is daar ’n opening in die wand van sy hart. Hierdie opening sluit outomaties by geboorte. Daarbenewens vernou ’n groot bloedvat, wat by die longe verbybeweeg terwyl die fetus in die baarmoeder is, outomaties by geboorte; bloed vloei nou na die longe waar dit met die baba se eerste asemteug met suurstof verbind.
Dit is alles maar net die begin. Deur die hele lewe heen sal ’n reeks fyn ontwerpte stelsels (soos die asemhaling-, bloedsomloop-, senuwee- en buisloseklierstelsels) hulle funksies uitvoer en koördineer met ’n doeltreffendheid wat die mens verstom—en dit alles sodat lewe kan voortduur. Dit is dan geen wonder nie dat ’n eertydse skrywer met verwysing na God gesê het: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.”—Psalm 139:14.
Dit is duidelik dat die skrywer van daardie pragtige woorde nie geglo het dat die lewe die resultaat van blinde, evolusionêre toeval of van ’n ongeluk is nie. As dit die geval was, sou ons geen werklike verpligtinge of verantwoordelikhede gehad het oor hoe ons ons lewe gebruik nie. Die meganismes van die lewensprosesse weerspieël egter duidelik dat dit ontwerp is, en ’n ontwerp vereis ’n ontwerper. Die Bybel verstrek hierdie beginsel: “Want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Daarom is dit noodsaaklik om te “weet dat Jehovah God is. Hy het ons gemaak, en nie ons onsself nie” (Psalm 100:3, NW). Ja, die lewe is meer as ’n gunstige ongeluk; dit is ’n gawe van God self.—Psalm 36:10.
Aangesien dit die geval is, watter verpligtinge het ons teenoor die Gewer van die lewe? Hoe verwag hy van ons om ons lewe te gebruik? Hierdie en verwante vrae sal in die volgende artikel bespreek word.