Die taai kakkerlak
HOEWEL miljoene al die vrolike Mexikaanse volksliedjie “La Cucaracha” (Die kakkerlak) gehoor het, is daar min huisvrouens wat met daardie liedjie sal lostrek wanneer hulle die klein insekte haastig sien skuiling soek in die kombuis. Die meeste mense beskou kakkerlakke as ’n plaag. Hulle is nie mooi nie, ten minste nie vir ons nie. Hulle dra siektes. Hulle skerp reuk is afstootlik.
Maar ten spyte van die feit dat mense so min van hulle hou, kom kakkerlakke in groot getalle voor. Omdat hulle so vinnig aanteel, en omdat hulle min natuurlike vyande het en die vermoë het om hulle aan te pas en hulself te beskerm, word ’n verstommende bevolking vinnig voortgebring. Die gewone Duitse kakkerlak kan byvoorbeeld maklik meer as 35 000 kleintjies per jaar hê. Dit is die gemiddelde, nie die maksimum nie, wat meer as 100 000 per jaar kan wees. Hoe so? Die Duitse kakkerlak se oöteka, of eierpakkie, kan tot 48 eiers bevat. Die kakkerlakwyfie bring sewe oöteka voort gedurende haar gemiddelde leeftyd van 140 dae. As niks met die kakkerlakke skeef loop nie, en elke wyfie in elke geslag dieselfde getal oöteka voortbring, word tienduisende kakkerlakke in ’n buitengewoon kort tydjie voortgebring.
Die meeste van die meer as 3500 kakkerlakspesies lewe buite in die natuur, waar mense hulle nie sien nie. Maar ’n paar, soos die Duitse variëteit, verkies dit om in die mens se geboue te woon. Die feit dat hulle na lande vernoem is (Amerikaans, Australies, Duits, Oosters, ensovoorts), beteken in werklikheid niks nie. Daar word gesê dat Europeërs die kakkerlak na naburige lande vernoem het. Die Romeine het hom lucifuga genoem weens sy gewoonte om vir lig te vlug. Die Afrikaanse woord “kakkerlak” is afkomstig van die Portugese woord cacalacca.
Sommige entomoloë sê dat kakkerlakke ’n gelukkige gesinslewe het. Daar is al gesien hoe volwasse kakkerlakke kleintjies abba. Ma’s wat die kleintjies help om uit die eierpakkies uit te kom, is al opgemerk. Nadat die eiers uitgebroei het, word die kleintjies dikwels bymekaar gehou en deur die ma versorg, en ’n kolonie larwes, of kleintjies, sal gewoonlik by ’n paar ouer kakkerlakke aangetref word.
Nie kieskeurige eters nie
Kakkerlakke leef van byna enigiets. Hulle sal enigiets eet wat mense eet, asook baie ander dinge, soos leer, hare, muurpapier en dierekarkasse. Hulle eet ook boeke—veral as daar sweet aan die boeke is—en sal die boekomslae eet om by die gom uit te kom. In sommige wêrelddele kan perkament nie vir regsdokumente gebruik word nie omdat dit dikwels deur kakkerlakke beskadig of vernietig word. Hulle hou van vuil areas en vuilgoed maar kan selfs die skoonste plekke infesteer.
Kakkerlakke het eintlik nie baie kos nodig nie. ’n Stuk of twaalf van hulle kan ’n week lank aan die lewe bly van die gom van net een posseël. Omdat water vir hulle belangriker is, word hulle dikwels in kombuise of badkamers aangetref.
Kakkerlakke is al daarvan beskuldig dat hulle draers van bakterieë of virusse is wat infeksiehepatitis, voedselvergiftiging, infeksies in die urinekanaal, velinfeksies, allergieë en disenterie veroorsaak—om net ’n paar te noem. Terwyl hulle rondbeweeg, besmet hulle kos en kombuisgerei en laat hulle ’n onaangename reuk agter, wat die kombinasie is van hulle ontlasting, die vloeistof wat hulle reukkliere afskei en ’n donkerkleurige vloeistof wat hulle opbring om hulle kos sag te maak voordat hulle dit eet. Bakke wat besmet is, moet deeglik gewas word en dan met warm water afgespoel word; anders sal die onaangename reuk terugkeer wanneer warm kos in die bak gesit word.
Goeie eienskappe?
Is daar enigiets goeds omtrent ’n kakkerlak? Eintlik is hy nogal ’n komplekse klein skepseltjie. Die kakkerlak se sinsorgane kan verandering in lugdruk en temperatuur bespeur, asook water opspoor en hom waarsku as roofdiere aankom. Die kakkerlak se voelers het 40 000 senueindpunte wat vir hom voel, proe en ruik. Die kakkerlak se grootste sinsorgane is die saamgestelde oë, wat uit talle klein lense bestaan, en tog sien die kakkerlak voorwerpe nie duidelik nie. Hy is nietemin baie sensitief vir beweging en merk baie vinnig op as daar selfs die geringste verandering in ligintensiteit is. Die cerci—die twee mikvormige aanhangsels aan die end van die agterlyf—bespeur trillings, asook klank of lugbeweging, en sit die insek se ontsnappingsreaksie om in die naaste kraak of bars in te skarrel aan die gang. As ’n kakkerlak skrik, kan hy binne 0,054 sekondes reageer en weghardloop!
’n Kakkerlak haal asem deur spirakels, openings wat soos patryspoorte lyk aan weerskante van sy lyf. Bloed word deur ’n groot buis gepomp wat deur sy hele lyf loop. ’n Kakkerlak wat onthoof is, kan nog langer as ’n dag bly lewe—lank genoeg vir ’n wyfie om haar eiers veilig te lê. Die Amerikaanse kakkerlak kan tot ses weke lank sonder kos of water lewe.
Beslis ’n verbasende skepseltjie, maar hoe strek hy die mens tot nut? Wel, een ding is dat hy as ’n vyand van weeluise bekend staan. En vanweë sy grootte en die feit dat dit maklik is om hom te teel, word die Amerikaanse kakkerlak dikwels in laboratoriums vir wetenskaplike navorsing gebruik. Japannese navorsers het byvoorbeeld vroeër ’n kakkerlakekstrak met welslae gebruik om lewersiekte in laboratoriummuise te behandel en hulle was optimisties dat dit op mense ook sou werk. Sommige vissermanne gebruik die Oosterse kakkerlak as aas wanneer hulle blouwangsonvisse vang. Maar hierdie kêreltjie is hoofsaaklik ’n aasvreter en hy doen die werk waarvoor hy geskep is: om afval, vullis en dooie karkasse aan die aarde terug te besorg.
Hoe om hulle uit jou huis uit te kry
“Hoe het hierdie insekte in my huis ingekom?” vra die huisvrou. Wel, hulle—of hulle eiers—het moontlik in kruideniersakke, sakke aartappels of uie of in koeldrankkartonnetjies ingekom. Hulle het miskien ingevlieg. Aangesien ’n kakkerlak homself kan plat maak, kon hulle onderdeur jou voordeur ingeloop het. En as jy of jou gaste ’n geïnfesteerde plek besoek het, kon hulle op skoene of klere saamgery het. In woonstelle kan hulle deur krake in mure of vloere inkom of deur middel van die “kakkerlaksnelweë”—die gewone water- en stoompype.
Hoe kan jy hulle sover kry om uit te trek en uit te bly? Dit is noodsaaklik dat jy die huis sorgvuldig skoonmaak. Plekke waar hulle waarskynlik sal wegkruip, soos krake en barste in vloere, vloerlyste en luggate, moet dikwels skoongemaak word. Al die areas rondom stowe, yskaste en kaste moet skoongehou word. Kos wat gemors is en krummels moet deeglik en dadelik opgevee word. Ongewaste skottelgoed moet nie oornag in ’n wasbak of ’n kas gelaat word nie. Kos moet in goed verseëlde houers gebêre word. Aangesien kakkerlakke aan droë honde- of kattekos kan smul, is dit die beste om dit in ’n houer met ’n deksel te bêre en om nie meer kos uit te sit as wat die troeteldier sal eet nie. Deursoek kruideniersakke en koeldrankhouers wat in die huis inkom vir versteekte insekte en hulle eiers. Verwyder afval en vullis daagliks uit die huis. Herstel alle krane wat lek. Maar onthou: Hoewel Señor Cucaracha onwelkom in die kombuis sal voel omdat die kombuis skoongehou word, sal jy dalk vind dat jy hom in jou woonkamer innooi as jy jou maaltye daar eet.
’n Plaagdoder sal moontlik nodig wees as ’n vertrek erg geïnfesteer is. Maar te veel spuitstof is moontlik ook nie ’n goeie ding nie. Die kakkerlakke sal dit óf vermy, óf daarteen immuun raak. Lees die etiket dus deeglik en volg die instruksies noukeurig. Skenk aandag aan die voorsorgmaatreëls en wees veral versigtig ter wille van kinders, die bejaardes of enigiemand wat ’n asemhalingsprobleem het.
Ernstige infestasie vereis dikwels deskundige hulp. Aangesien dit 30 dae duur voordat kakkerlakeiers uitbroei, sal maandelikse bestrydingsdienste miskien ’n ruk lank nodig wees. Die volgende dinge sal help as jy wel ’n deskundige inroep. Maak die kombuis deeglik skoon voordat hy kom en maak seker dat kos en skottelgoed uit die kaste verwyder is. Skottelgoed en kombuisgerei kan tydelik op ’n tafel gesit word en met ’n stuk plastiek beskerm word. Kos kan in die oond of in die yskas gebêre word. As die plaagbestrydingsdeskundige wenke gee of veranderings aanbeveel, moet jy sorg dat jy op hulle ag slaan.
Die stryd teen kakkerlakke duur al lank. En die kakkerlakke veg terug. Hulle het ’n weerstand opgebou teen die meeste plaagdoders wat deur die jare heen gebruik is. Wetenskaplikes wend hulle nou tot biologiese wapens. ’n Nuwe middel, ’n sintetiese hormoon wat hidropreen genoem word, voorkom dat die kakkerlakke voortplant deur hulle in die onvolwasse stadium te hou. Hoewel hulle steriel is, bly daardie geslag nogtans lewe. Die resultate kan dus nie onmiddellik gesien word tensy hidropreen saam met ’n ander plaagdoder gebruik word nie.
Ons sal natuurlik nog moet sien of hierdie plaag uit huishoudings uitgeroei sal word. Sover het la cucaracha nog uitgehou en verbasend goed gevaar.
[Venster op bladsy 23]
Raak van kakkerlakke in jou huis ontslae
◻ Hou die hele kombuis skoon. Skenk aandag aan al die plekke rondom en onder stowe, kaste en yskaste.
◻ Maak alle moontlike wegkruipplekke dikwels skoon—soos krake en barste in vloere, vloerlyste en luggate. Waar moontlik moet krake en barste in kombuise en badkamers toegestop word.
◻ Verwyder afval en vullis daagliks.
◻ Bêre kos in goed verseëlde houers.
◻ Kos wat gemors is en krummels moet dadelik en deeglik opgevee word.
◻ Deursoek alle sakke en houers wat in die huis inkom vir insekte en hulle eiers.
◻ Hou vogtigheid dop. Herstel alle waterlekplekke en moenie skottelgoed oornag in water laat lê nie.
◻ Gebruik ’n goeie lokaas vir kakkerlakke.