Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 2/8 bl. 15-17
  • Die dag toe dit sand gereën het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dag toe dit sand gereën het
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ooggetuieverslag
  • Wat gebeur het
  • Die gevolge en noodleniging
  • Lahars—’n voortdurende gevaar
  • Lahars—die nadraai van berg Pinatubo
    Ontwaak!—1996
  • Is jy bewus van die tye waarin ons lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die wonder van sand
    Ontwaak!—2003
  • Hulle lewe is gered omdat hulle op ’n waarskuwing ag geslaan het
    Hou aan waak!
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 2/8 bl. 15-17

Die dag toe dit sand gereën het

Deur Ontwaak!-medewerker in die Filippyne

SATERDAG, 15 Junie 1991, is ’n dag wat die meeste inwoners van Sentraal-Luzon nie maklik sal vergeet nie. Hoe ongelooflik dit ook al klink, dit was die dag toe sand soos reën geval het op die geil groen heuwels en ryslande van die provinsies Pampanga, Tarlac en Zambales in die Filippyne. Wat werklik daardie dag gebeur het en watter uitwerking dit gehad het op die meer as tweemiljoen inwoners van hierdie gebied, waaronder ongeveer 2900 Getuies van Jehovah, is hartverskeurend maar tog interessant.

Min mense het gesterf, aangesien vulkanoloë wat die seismiese aktiwiteite van die berg Pinatubo monitor vroegtydige waarskuwings gegee het. Duisende lede van die inheemse Aetastam het die berg voor die hewigste uitbarstings van die vulkaan verlaat, en alle inwoners binne ’n omtrek van 20 kilometer van die berg Pinatubo is aangespoor om in ander gebiede skuiling te soek. Net twee dae voor die eerste groot uitbarsting op 12 Junie het die Amerikaanse lugmag die meeste van hulle personeellede van die Clark-lugmagbasis aan die voet van die berg Pinatubo na die vlootbasis naby Olongapo City geneem, die grootste operasie van dié aard sedert die Tweede Wêreldoorlog. Beroepsgeoloog Richard J. Purser het hoë lof vir die waarskuwings gehad toe hy in ’n ope brief aan die Filippynse volk gesê het: “Phivolcs [die Filippynse instituut vir vulkanologie en seismologie] was julle tot dusver van groot hulp en hulle raad was duidelik en verstandig en wetenskaplik korrek.”

Ooggetuieverslag

Esther Manrique, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies wat ongeveer 30 kilometer van die berg Pinatubo af in Subic, Zambales, woon, vertel hoe dit was om deur die dae te lewe toe dit sand gereën het. Sy sê: “Dit het alles Woensdagoggend, 12 Junie, begin. Terwyl ons velddiens gedoen het, het die meeste mense na ’n verbasende gesig gestaar. ’n Wolk, in die vorm van ’n paddastoel, soos dié van ’n atoombomontploffing, het bo die berg Pinatubo gevorm. Na ’n paar minute het dit begin reën—maar pleks van water het daar sandkorrels geval.

“Donderdag het dit weer sand gereën. Ongeveer twee-uur Vrydagmiddag het dit skielik donker geword, en sand en modder het oor die hele gebied gereën. Werkers en skoolkinders is onmiddellik huis toe gestuur. Diegene wat sonder ’n sambreel geloop het, het soos wandelende rotse gelyk omdat hulle vol sand en modder was.”

Omstreeks sewe-uur Saterdagoggend het die lug ongeveer ’n uur lank donker geword. Celestino Layug van Porac, Pampanga, het gepraat van ’n buitengewone verskynsel wat hy daardie aand gesien het: “Die weerlig Saterdagaand was iets wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Buiten die gewone wit en blouerige skakerings kon rooi en rooskleure ook gesien word. Aardbewings het terselfdertyd herhaaldelik voorgekom.”

Wat gebeur het

Geoloog Richard Purser het geskryf: “As Hollywood die draaiboek geskryf het, sou almal die toneel waarin 10 groot uitbarstings, 3 tektoniese aardbewings en ’n hewige tifoon op dieselfde aand plaasvind as heeltemal ongeloofwaardig verwerp het. Die waarheid kan inderdaad vreemder as ’n storie wees.” Na aanleiding van die grootte van die krater het die direkteur van Phivolcs, Raymundo Punongbayan, in ’n televisie-onderhoud geskat dat ongeveer twee kubieke kilometer vulkaniese materiaal in die atmosfeer uitgewerp is.

Hoeveel krag was nodig om hierdie ontsaglike hoeveelheid materiaal uit te werp? Geoloog Purser het gesê: “Die energie wat nodig is om tweemiljard kubieke meter (vyfmiljard ton) gemiddeld 17,5 kilometer na bo uit te werp, is gelyk aan ’n kernwapen van 25 megaton (dit wil sê, 1500 keer kragtiger as die Hirosjima-bom).”

Al die as en sand het natuurlik nie in die Filippyne geval nie. Daar was berigte van ligte asreëns anderkant die Suid-Chinese See in Viëtnam en Kambodja sowel as in Singapoer en Maleisië. Selfs in China het dit ’n uitwerking op die weerstoestande gehad. “Weerkundiges wie se woorde Woensdag in die amptelike pers [van China] aangehaal is, het gesê dat rook, as en atmosferiese gasse normale weerpatrone ontwrig het sodat droogte die geil suidelike provinsies in die gesig staar, terwyl stortreëns die noorde geteister het.”

Daar sou op 11 Julie in Hawaii ’n langverwagte sonsverduistering wees. Maar die fyn stof wat as gevolg van die berg Pinatubo se uitbarsting in die aarde se atmosfeer opgehoop het, het vir party wetenskaplikes teleurstelling tot gevolg gehad. Donald Hall, direkteur van die Instituut vir Astronomie aan die Universiteit van Hawaii, het gesê: “Dit is absoluut hartverskeurend dat die vulkaan, nadat dit 600 of 700 jaar lank rustend was, nie nog ’n week of twee gewag het voor dit uitgebars het nie.”

Die gevolge en noodleniging

Ten minste 18 dorpe en 2 stede naby die berg Pinatubo moes langdurige as- en sandneerslae verduur. Duisende geboue, waaronder agt Koninkryksale van Jehovah se Getuies, is erg beskadig toe die dakke onder die gewig van sand, sowel as water van ’n tifoon, ineengestort het.a Die President van die Filippyne, Corazon Aquino, het op 22 Julie in haar amptelike verklaring oor die toestande in die land verduidelik: “Die uitbarsting van die berg Pinatubo is die grootste in hierdie eeu. . . . Dit is so verwoestend dat dit 80 000 hektaar van ons vrugbare landbougrond verwoes en die handel van ten minste drie provinsies vernietig het. . . . Dit was so ’n kragtige uitbarsting dat dit die grootste militêre basis in die Stille Oseaan uitgewis het.”

Duisende mense, waaronder honderde Getuies van Jehovah, moes uit hulle huise en van hulle bestaansmiddele af vlug. Terwyl die eerste oproepe om hulp die takkantoor van die Wagtoringgenootskap laat op 15 Junie bereik het, is vlugtelingesentrums in nabygeleë Koninkryksale en in twee Byeenkomssale opgerig. Op Maandagoggend, 17 Junie, het twee groepe Getuies van die takkantoor ’n inspeksietoer van die verwoeste gebiede begin. Toe hulle verslae die volgende dag ontvang is, is reisende bedienaars opdrag gegee om die Getuies wat getref is langer te besoek en vir hulle ekstra kos, water en medisyne te neem. Terselfdertyd is noodlenigingsfondse by die takkantoor ontvang van Getuies in die Manila-stadsgebied sowel as in ander dele van die land wat nie deur die uitbarsting geraak is nie. Mense wat nie Getuies van Jehovah is nie, het gesien hoe bystand verleen word. Een persoon het glo gesê: “Julle Getuies is baie bedagsaam want julle tree onmiddellik op.”

Lahars—’n voortdurende gevaar

Die bevolking van Sentraal-Luzon het gou ’n nuwe woord, lahar, by hulle woordeskat gevoeg, wat ’n modderstroom beteken wat baie vulkaniese puin bevat. Die bolope van ten minste 13 strome en riviere is op die berg Pinatubo geleë. Hoewel dit nie ’n baie hoë berg is nie, net 1760 meter hoog, is die opeenhoping van tweemiljard kubieke meter sand en as op sy hange verwoestend vir die gebiede wat langs die riviere geleë is. Modderstrome het in werklikheid op Saterdag, 15 Junie, die dag van die grootste uitbarsting, reeds deur Porac, Guagua, Bacolor en Angeles City gevloei. Die lahar wat met die Abacan-rivier langs in Angeles City afgestroom het, het drie brûe verwoes en die snelweg versper, terwyl die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies sowel as honderde huise in Bacolor met modder gevul is. Teen die einde van Julie is meer as 36 000 huise verwoes en nog 61 000 beskadig, maar die einde was nog nie in sig nie.

Hoewel verskriklike verwoesting gesaai is in die gebied wat geraak is en die gevaar van verdere verwoesting baie groot is, is die merkwaardige gees van die Filippynse volk wat sulke rampspoed kalm die hoof bied prysenswaardig. Die Manila Bulletin het in sy hoofartikel van 29 Junie 1991 kommentaar hieroor gelewer: “Ten spyte van die feit dat niemand die Pinatubo-uitbarsting verwag het nie, lyk dit asof die mense in die gebied, die regeringsinstansies en die publiek die situasie kan hanteer. Soos dit die geval was tydens die vorige aardbewing, aanskou ons nou die vermoë van ons mense om rampspoed die hoof te bied. Ons kan hulle moed en vasberadenheid net bewonder.”

[Voetnoot]

a In die Filippyne is hierdie tifoon Diding genoem, en dit het met winde van 130 kilometer per uur gepaardgegaan toe dit Sentraal-Luzon op 15 Junie 1991 getref het.

[Kaarte op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

FILIPPYNE

China

[Kaart]

FILIPPYNE

Die berg Pinatubo

Olongapo City

Manila

Suid-Chinese See

[Prente op bladsy 16]

Die dakke van Koninkryksale het onder die gewig van as, sand en reën ineengestort

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel