Die Bybelse beskouing
Rampe—Straf God ons só?
IN DIE Filippyne, ’n land wat herhaaldelik deur natuurrampe geteister word, het baie mense al gewonder: ‘Beproef God die mens met sulke rampe?’ In 1991, ná die mees verwoestende vulkaniese uitbarsting in hierdie eeu, het die opskrif van een Filippynse koerant gevra: “Uitbarsting: Straf God ons só?”
Rubriekskrywer Nelly Favis-Villafuerte het hierdie beskouing uitgespreek toe sy geskryf het: “Maar vir Christene wat in die Bybel glo—is daar net een verduideliking: die vulkaniese uitbarsting van die berg Pinatubo is ’n goddelike beproewing wat ons weer eens daaraan herinner dat daar ’n ontsagwekkende en oppermagtige God is wat oorheersende mag in die aangeleenthede en lotsbestemming van mense en nasies het.” Na aanleiding van hierdie stelling kan ons vra:
Oordeel die almagtige God gemeenskappe vandag?
Daar kan nie ontken word dat God dit wel in die verlede gedoen het nie. Die voorbeelde wat in die Skrif opgeteken is oor die Vloed van Noag se dag, die vernietiging van Sodom en Gomorra en die twee geleenthede toe Jerusalem, die stad waarmee Sy groot naam geassosieer is, totaal vernietig is, toon dat die almagtige God doelbewuste oordeel kan voltrek aan diegene wat aanhoudend versuim om sy standaarde te handhaaf.—Genesis 7:11, 17-24; 19:24, 25; 2 Kronieke 36:17-21; Mattheüs 24:1, 2.
Maar wat van vandag? Christus Jesus het in Mattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21 voorspel dat daar ’n tyd van wêreldwye ellende sou wees. Hy het in hierdie hoofstukke profetiese waarskuwings gegee van gebeure en toestande wat verband sou hou met die einde van hierdie stelsel van dinge sodat denkers kon besef dat hy onsigbaar vanuit die hemel regeer. Hierdie profesieë word vandag vervul. Ons moet egter in gedagte hou dat Jehovah God met elkeen van die bogenoemde oordele duidelike, herhaaldelike waarskuwings gegee het voor die vernietiging gekom het (Amos 3:7). In die geval van natuurrampe wat in ons dag plaasvind, kom die waarskuwings, wat op wetenskaplike waarnemings gegrond is, egter van sekulêre owerhede af.
Die dissipel Jakobus deel ons verder mee in die eerste hoofstuk van sy brief, vers 13: “God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” As gevolg van die wêreldwye bevolkingsaanwas leef die mens nou naby baie potensiële gevare. Die behoefte aan ruimte om te leef en voedsel te kweek, lei tot die ontbossing van woude, en dit vererger soms die intensiteit van sommige natuurrampe wat deur oormatige reënval en vinnige afvloei veroorsaak word.
Dit is derhalwe nie korrek om te sê dat natuurrampe regstreeks deur die almagtige God gestuur word om die mense te straf wat in die gebiede woon wat getref is nie. Trouens, dit is voor die hand liggend dat talle onskuldiges, soos jong kinders, die meeste tydens rampe ly. Maar al veroorsaak die almagtige God nie sulke rampe nie, kan ons nogtans vra:
Kan ons iets daaruit leer?
Ja. Vir diegene wat in sulke rampgebiede woon, is daar die toets van hoeveel waarde hulle aan hulle materiële besittings heg in vergelyking met die lewe self. Mense het al op sulke tye onnodige, lewensgevaarlike risiko’s geneem net om ’n paar besittings te red. Ons moet onthou dat Jesus gesê het: “Iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). Materiële dinge kan vervang word, maar niemand kan sy lewe terugkry nie.—Mattheüs 6:19, 20, 25-34.
Natuurrampe laat mense ook nadink oor hoe hulle hulle lewe lei. Die apostel Paulus het Christene aangespoor om noukeurig op hulle lewenswyse te let: “Wees dus versigtig hoe julle wandel, nie soos onverstandiges nie maar soos verstandiges, en maak die beste van die krisis, want die dae is goddeloos” (Efesiërs 5:15, 16, Byington). Elke beproewing wat ’n mens in sy lewe deurmaak, herinner hom aan hoe belangrik dit is om sterk geloof te hê.
’n Derde les wat ons uit natuurrampe leer, is dat ons meer meegevoel, of empatie, vir ander moet aankweek. Binne die rampgebied moet ’n mens liefdevolle besorgdheid teenoor jou medelyers toon pleks van die standpunt in te neem dat elkeen vir homself moet sorg. Dit is veral van toepassing op diegene wat met die verantwoordelikheid toevertrou is om vir ander te sorg. Die profeet Jesaja het mense, wat hy “vorste” genoem het, beskryf as “’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, [en] soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag”.—Jesaja 32:1, 2.
Wanneer ’n mens empatie tydens rampe toon, is daar baie geleenthede om dít wat jy het met ander te deel, in woord en in daad. Die vulkaniese uitbarsting van die berg Pinatubo en die daaropvolgende rampe het byvoorbeeld tallose geleenthede gebied om diegene te help wat weens die ramp moes vlug. Baie het nie eers geld gehad vir hulle daaglikse voedsel nie. Mense kon dus hulle onselfsugtigheid betoon deur ander te help. Maar baie het steeds gewonder:
Sal daar ’n finale oordeel van die mensdom wees?
Ja, daar sal een wees, soos dit duidelik in God se Woord getoon word (Mattheüs 24:37-42; 2 Petrus 3:5-7). Voordat daardie oordeel kom, moet ’n wêreldwye waarskuwingswerk gedoen word, soos Jesus verder voorspel het: “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”—Markus 13:10.
Elkeen van ons moet ons dus afvra: ‘Wat sal ek doen?’ Ons spoor jou aan om tyd af te staan en uit te vind wat die Bybel elkeen van ons aanspoor om te doen as ons daardie wêreldwye ramp wil oorleef.