Wat beteken Paasfees vir God?
DAAR word gesê dat Paasfees—die “koningin van feeste!” festum festorum!—die opstanding van Christus vier. Maar wat het Jesus oor die herdenking van sy opstanding gesê? Het die apostels ons beveel om dit te vier? Is die viering van Paasfees ’n godgegewe opdrag of ’n mensgemaakte tradisie? Jy kan maklik die antwoorde op hierdie vrae kry deur twee inligtingsbronne te ondersoek—die geskiedenis en die Bybel.
Die geskiedenis vertel
Eerstens, wat vertel die geskiedenis? Die geskiedskrywer Sokrates Scholasticus van die vyfde eeu G.J. het in sy Ecclesiastical History gesê: “Dit lyk vir my asof Paasfees uit die een of ander ou gebruik in die kerk opgeneem is, net soos baie ander gebruike ingestel is.”
Die boek Curiosities of Popular Customs verduidelik dat dit die beleid van die “Kerk [was] om ’n Christelike betekenis te heg aan die bestaande heidense seremonies wat nie uitgeroei kon word nie. In die geval van Paasfees was die omvorming verbasend maklik. Vreugde oor die opkoms van die natuurlike son, en die natuur se ontwaking uit die winterdood, het vreugde oor die opkoms van die Son van regverdigheid geword, oor die opstanding van Christus uit die graf. Van die heidense vierings wat omstreeks 1 Mei plaasgevind het, is ook verskuif om met die viering van Paasfees saam te val. Baie nuwe gebruike is bygevoeg.”
In sy boek Celebrations stem Robert J. Myers hiermee saam en sê hy dat “baie van die heidense wedergeboorte-ritusse wat met die lentenagewening gevier is deel geword het van die fees”. Hierdie bewerings word deur The New Encyclopædia Britannica ondersteun: “Soos met Kersfees, weerspieël gewilde gebruike ook tydens Paasfees talle antieke heidense oorleweringe—in hierdie geval hou dit verband met vrugbaarheidsritusse van die lente, waarvan die Paaseier en die Paashaas of -konyn die simbole is.”
Van heidense oorsprong?
Dit is dus duidelik dat Paasfees, soos dit vandag gevier word, van heidense ritusse en gebruike deurtrek is. Maar dit beteken nie dat die viering van Paasfees geen verband hou met party Bybelse gebeure nie.
Daar word byvoorbeeld na Paasfees verwys as die opvolger van die Joodse Pasga, ’n Bybelse gebeurtenis. Die boek Curiosities of Popular Customs sê dat “Paasfees in die vroeë Kerk op presies dieselfde tyd as die Pasga gevier is omdat die twee feeste in werklikheid ’n identiese oorsprong het”. Daarom is dit nie verbasend nie dat die woord vir Paasfees en die woord vir Pasga in ’n aantal tale, soos Frans, Grieks, Italiaans, Spaans en ander presies of amper dieselfde is.
Maar die vroeë Christene het nie ’n jaarlikse fees as ’n Christelike weergawe van die Joodse Pasga gevier nie. Die Abingdon Dictionary of Living Religions sê aangaande Paasfees: “Die primitiewe viering was eintlik die herdenking (14 Nisan, volgens die Joodse maankalender) van Jesus se kruisiging.”
Die Bybel sê dat Jesus op die aand voor sy dood in ’n groot kamer saam met sy dissipels vergader het om die Joodse Pasga te vier (Markus 14:12-16). Dit was hierna, na sy laaste Pasga, dat Jesus die viering ingestel het wat as die Here se Aandmaal bekend staan. Toe het hy sy dissipels beveel: “Doen dit tot my gedagtenis.”—Lukas 22:19.
Hierdie Aandmaal van die Here, wat een keer per jaar gevier moes word, was ter herdenking van Jesus se dood. Die apostel Paulus het aangaande hierdie herdenking gesê: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here.”—1 Korinthiërs 11:25, 26.
Verdraaiing van die Bybelleer
In gehoorsaamheid aan hierdie skriftuurlike opdrag het ware Christene hierdie geleentheid elke jaar op 14 Nisan herdenk. Maar mettertyd het mense ook begin om Jesus se opstanding te vier. The New Encyclopædia Britannica verduidelik dat die “vroegste Christene die Here se Pasga op dieselfde tyd as die Jode gevier het, naamlik gedurende die nag van die eerste volmaan (pasgamaan) van die eerste maand van die lente (14-15 Nisan). Teen die middel van die 2de eeu het die meeste kerke hierdie viering verskuif na die Sondag ná die Joodse fees.”
Die boek Seasonal Feasts and Festivals sê: “Dit was blykbaar eers teen die einde van die vierde eeu in Jerusalem dat Goeie Vrydag en Paassondag as verskillende geleenthede gevier is.”
Party geleerdes meen dat die toenemende vyandigheid tussen verklaarde Christene en die Jode veroorsaak het dat party leiers van die Christendom nie wou hê dat hulle belangrikste vakansiedag met die presiese datum van die belangrikste Joodse vakansiedag saamval nie. Hierdie gesindheid het tot ’n verandering gelei. Mettertyd het die meeste lede van die Christendom begin om die opstanding van Jesus op die eerste Sondag ná die volmaan te vier wat op die lentenagewening volg, en hulle het dit hulle belangrikste godsdiensviering gemaak. Trouens, hulle het die viering van Jesus se dood tot ’n laer posisie verlaag.
Volgens hierdie bronne het die Christendom se Paasfees dus die oorspronklike herdenking van Jesus se dood verdring.
Die Bybel vertel
Wat het die Bybel oor Paasfees te sê? Daar is natuurlik voldoende bewys in die Skrif dat Jesus opgewek is. Die opstanding van Christus is ’n grondleerstelling van die ware Christelike godsdiens. Die apostel Paulus het dit ongetwyfeld geglo. Hy het gesê: “As Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes.”—1 Korinthiërs 15:14, 17.
Nogtans sinspeel die Bybel nêrens eers op ’n jaarlikse viering van Jesus se opstanding nie. Die geskiedskrywer Sokrates Scholasticus het erken: “Die Verlosser en sy apostels het ons met geen wet gelas om hierdie fees te onderhou nie: ons word ook nie in die Nuwe Testament met enige boete, straf of vloek gedreig as ons dit nie onderhou nie.” Meer onlangs het die tydskrif The Christian Century in ’n artikel oor Paasfees gesê: ‘Vroeë Christene het die opstanding in die tweede eeu begin vier.’ Paasfees is dus ingestel lank ná die dood van al die apostels en nadat die Bybel voltooi is. Dit is geen geheim dat die Paasfeestradisie ’n mensgemaakte en nie ’n godgegewe instelling is nie.
Maar party mense vra dalk: ‘Wat is daarmee verkeerd om Jesus se opstanding te gedenk?’ Die Bybel vereis weliswaar nie dat Christene Paasfees vier nie. Maar is daar enigiets in die Bybel wat dit verbied?
Reine en onbesmette godsdiens
Dit is waar dat daar geen spesifieke verbod in die Bybel is op die viering van Jesus se opstanding nie. Maar die Bybel waarsku Christene wel teen die vermenging van ware aanbidding met mensgemaakte tradisies. Dit is veral van toepassing op tradisies soos Paasfees, wat met heidense gebruike en die antieke ritusse van valse godsdienste deurvleg is.
Alan W. Watts het in die voorwoord by sy boek met 123 bladsye oor Paasfees gesê: “Die volle verhaal van Paasfees is ’n baie ingewikkelde vermenging van die geskiedenis en die mitologie—in so ’n mate dat die moeilike taak om tussen die twee te onderskei geensins in die bestek van ’n kort boek gedoen kan word nie.” Sal God dan, aangesien dit die geval is met Paasfees, ons aanbidding aanvaar as dit so ’n vermenging van heidense gebruike insluit? Nee. God aanvaar slegs “reine en onbesmette godsdiens”. En dit beteken om “jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld”, wat die wêreldse gebruike sal insluit wat met Paasfees geassosieer word.—Jakobus 1:27.
Die apostel Paulus het Christene gewaarsku teen mensgemaakte tradisies wat in die gemeente ingebring kan word toe hy gesê het: “Pasop dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
Jesus het self die Joodse tradisies veroordeel wat skriftuurlike waarhede verdraai en ware aanbidding besmet het. Jesus se woorde aan die godsdiensleiers van sy dag is in Markus 7:6-8 opgeteken: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas.”
In 2 Korinthiërs 6:14-17 waarsku die Bybel ons: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.”
Die herdenking van sy dood
Daarbenewens sluit die reëling vir ons verlossing, volgens die Bybel, in dat Jesus sy volmaakte lewe opgeoffer het, dat hy opgewek is en dat hy die waarde van sy offer vir God in die hemel aangebied het. Al hierdie elemente is belangrik (Hebreërs 7:25; 9:11-14). Jesus het sy volgelinge beveel om sy dood te herdenk. Dit is die enigste gebeurtenis wat die Skrif Christene beveel om te herdenk.
Vanjaar sal miljoene Getuies van Jehovah op 17 April (14 Nisan) 1992, ná sononder, bymekaarkom om Jesus se dood te herdenk. Die viering sal ’n toespraak insluit wat die betekenis van Christus se offerdood verduidelik. Dit sal jou help om te besef hoe groot Jehovah God se liefde vir die mensdom was toe hy sy eniggebore Seun geoffer het sodat jy die vooruitsig op ewige lewe kan geniet. Vergader saam met ons op die belangrikste dag van 1992!
[Lokteks op bladsy 6]
Heidense vierings is verskuif om met die viering van Paasfees saam te val
[Lokteks op bladsy 8]
Die Bybel sinspeel nêrens eers op ’n jaarlikse herdenking of viering van Jesus se opstanding nie
[Venster op bladsy 6]
Wat is die oorsprong van die Engelse woord “Easter”?
▪ “Die naam, wat slegs deur Engels- en Duitssprekende mense gebruik word, is na alle waarskynlikheid afgelei van die naam van ’n godin van die heidense Saksers, Ostara, Osterr, of Eastre. Sy was die verpersoonliking van die Ooste, van die oggend, van die lente.”—Curiosities of Popular Customs, deur William S. Walsh.
▪ “Ons word deur ’n ou Engelse kroniekskrywer, die Agbare Bede, meegedeel dat die woord ‘Easter’ oorspronklik die naam was van ’n Angel-Saksiese godin van die dagbreek, bekend as Eostre of Ostara, wie se vernaamste fees met die lentenagewening gevier is. Ons het slegs Bede se woord daarvoor omdat geen verslag van so ’n godin elders te vinde is nie, maar dit is onwaarskynlik dat Bede, as ’n vroom Christen, uit sy pad sou gaan om ’n heidense oorsprong vir Paasfees te versin. Maar hetsy daar so ’n godin was of nie, daar is heel waarskynlik die een of ander historiese verband tussen die woorde ‘Easter’ en ‘East’ (Oos), waar die son opkom.”—Easter—Its Story and Meaning, deur Alan W. Watts.
▪ “Die algemene beskouing is dat die benaming vir die fees van Christus se Opstanding sy oorsprong by die Angel-Saksiese Eastre, ’n lentegodin, het. Maar onlangse studies deur Knobloch . . . gee ’n ander verduideliking.”—New Catholic Encyclopedia.
▪ “Die Engelse naam Easter, soos die Duitse naam Ostern, is waarskynlik afgelei van Eostur, die Noorse woord vir die lenteseisoen, en nie van Eostre, die naam van ’n Angel-Saksiese godin nie.”—The Encyclopedia of Religion.
[Tabel op bladsy 8]
PAASFEES PASGA
Deens påske påske
Duits Ostern Passah
Fins pääsiäinen pääsiäinen (juutalaisten)
Frans Pâques La Pâque
Grieks Paskha Paskha
Italiaans Pasqua Pasqua ebraica
Nederlands Pasen joods paasfeest
Spaans Pascua florida Pascua
Swahili Pasaka Pasaka
[Prent op bladsy 7]
Antieke ritusse van heidense oorsprong is ’n Christelike betekenis gegee en by die feestelikhede van Paasfees gevoeg
[Prent op bladsy 9]
Jesus het die Here se Aandmaal met sy dissipels ingestel