Paasfees of die Gedenkmaal—Watter een moet jy vier?
NAMATE die oggendson op 7 April sy gloed oor die horison uitstraal, sal miljoene hulle heiligste dag van die jaar verwelkom—Paasfees. Die naam het vroeër betrekking gehad op ’n fees- en vastyd van 120 dae wat begin het met ’n vakansiedag genaamd Septuagesima en geëindig het op wat Drie-eenheidsdag genoem word. Vandag verwys die naam na ’n enkele dag wat Jesus se opstanding herdenk—Paassondag.
Miljoene ander sal egter op ’n aand vroeër daardie week vergader om die herdenking van Christus se dood, ook bekend as die Here se Aandmaal, te vier. Dit is ’n viering wat Jesus self ingestel het op die laaste nag wat hy op die aarde was. Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.”—Lukas 22:19.
Watter een moet jy vier?
Die oorsprong van Paasfees
Die Engelse naam Easter, wat in baie lande gebruik word, verskyn nie in die Bybel nie. Die boek Medieval Holidays and Festivals deel ons mee dat “die vakansiedag na die heidense Godin van die Dagbreek en van die Lente, Eostre, vernoem is”. En wie was hierdie godin? “Dit was Eostre wat, volgens oorlewering, die poorte van Walhalla oopgemaak het om Baldur te ontvang, wat weens sy reinheid die Witgod genoem is en ook die Songod, omdat sy voorhoof lig aan die mensdom verskaf het”, antwoord The American Book of Days. Dit sê voorts: “Daar bestaan geen twyfel dat die Kerk in sy vroeë dae die ou heidense gebruike aangeneem en ’n Christelike betekenis daaraan geheg het nie. Aangesien die fees van Eostre ter viering van die nuwe lewe in die lente was, was dit maklik om dit te verander in ’n viering van Jesus, wie se evangelie hulle verkondig het, se opstanding uit die dode.”
Hierdie aanneming verklaar hoe die paasgebruike, soos paaseiers, die paaskonyn en paasbolletjies, in party lande ontstaan het. Aangaande die gebruik om paasbolletjies te maak, ‘met hulle blinkbruin bokant waarop daar ’n kruis is’, sê die boek Easter and Its Customs: “Die kruis was ’n heidense simbool lank voor dit ’n ewige betekenis weens die gebeure van die eerste Goeie Vrydag verkry het, en brode en koeke is soms in voor-Christelike tye daarmee versier.”
Ons vind nêrens in die Skrif enige verwysing na hierdie dinge nie, en daar is ook geen getuienis dat Jesus se vroeë dissipels daarin geglo het nie. Trouens, die apostel Petrus sê vir ons om ‘’n verlange te ontwikkel na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat ons daardeur tot redding kan groei’ (1 Petrus 2:2). Waarom het die kerke van die Christendom dan simbole wat so duidelik heidens is ’n deel van hulle opvattings en gebruike gemaak?
Die boek Curiosities of Popular Customs antwoord: “Dit was die vroeë Kerk se vaste beleid om ’n Christelike betekenis te heg aan die bestaande heidense seremonies wat nie uitgeroei kon word nie. In die geval van Paasfees was die oorskakeling besonder maklik. Die vreugde oor die natuurlike son wat opgaan en oor die natuur se ontwaking uit die winterdood het verander in blydskap oor die Son van geregtigheid wat opgaan, oor Christus se opstanding uit die graf. Party van die heidense gebruike wat om en by die 1ste Mei plaasgevind het, is ook verskuif om met die viering van Paasfees saam te val.” Pleks van weg te bly van gewilde heidense gebruike en magiese ritusse, het die godsdiensleiers dit vergoelik en ’n “Christelike betekenis” daaraan geheg.
‘Maar kan dit enige kwaad doen?’ wonder jy dalk. Party dink nie so nie. “Wanneer ’n godsdiens soos die Christelike godsdiens van buite af vir ’n volk aangebied word, word party van die volksgebruike wat aan ouer godsdienste ontleen is daardeur aangeneem en ‘gedoop’”, het Alan W. Watts, ’n Episkopaalse kapelaan, in sy boek Easter—Its Story and Meaning gesê. “Dit versamel en weef volksvierings in die liturgie in wat blykbaar dieselfde ewige beginsels afbeeld as wat die Kerk leer.” Vir baie is die feit dat hulle kerk hierdie vierings goedgekeur en hulle as heilig beskou het genoeg rede om dit te aanvaar. Maar belangrike vrae word geïgnoreer. Hoe beskou God hierdie gebruike? Het hy vir ons enige riglyne hieromtrent gegee om te volg?
Kry God se beskouing
“Paassondag, die Fees van Ons Here se Opstanding, is die grootste fees van die Christelike Kerk”, het Christina Hole in haar boek Easter and Its Customs gesê. Ander skrywers stem saam. “Geen heilige dag of fees in die kerklike jaar kan wat belangrikheid betref met Paassondag vergelyk word nie”, sê Robert J. Myers in die boek Celebrations. Dit laat egter ’n paar vrae ontstaan. Waarom is daar geen spesifieke bevel in die Bybel om Paasfees te vier as dit dan so belangrik is nie? Is daar enige verslag wat toon dat Jesus se vroeë dissipels Paassondag gevier het?
Dit is nie dat die Bybel nalaat om riglyne te gee oor wat ons moet en nie moet vier nie. God het uitdruklik vir die eertydse nasie Israel gesê wat om te doen, en soos vroeër genoem is, is spesifieke instruksies aan Christene gegee om aan te hou om die herdenking van Christus se dood te vier (1 Korintiërs 11:23-26; Kolossense 2:16, 17). ’n Vroeë uitgawe van The Encyclopædia Britannica deel ons mee: “Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament of in die geskrifte van die apostoliese Vaders dat Paasfees gevier is nie. Die heiligheid van sekere tye was ’n idee waarmee die eerste Christene nie bekend was nie. . . . Nóg die Here nóg sy apostels het beveel dat hierdie of enige ander fees gevier moet word.”
Party meen dat die vreugde wat met sulke feeste gepaardgaan en die geluk wat dit verskaf genoeg regverdiging is om dit te vier. Ons kan egter iets leer uit die geleentheid toe die Israeliete ’n Egiptiese godsdiensgebruik aangeneem en dit “’n fees vir Jehovah” genoem het. Hulle het ook “gaan sit om te eet en te drink” en ‘het opgestaan om hulle te vermaak’. Maar hulle dade het Jehovah God baie toornig gemaak, en hy het hulle swaar gestraf.—Exodus 32:1-10, 25-28, 35, NW.
God se Woord stel sake baie duidelik. Daar kan geen deelgenootskap tussen die “lig” van ware opvattings en die “duisternis” van Satan se wêreld wees nie; daar kan geen “ooreenstemming” tussen Christus en heidense aanbidding wees nie. Daar word vir ons gesê: “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem.’”—2 Korintiërs 6:14-18.
Aangesien die Bybel Christene slegs beveel om die Gedenkmaal—nie Paasfees nie—te vier, moet dit herdenk word. Hoe kan ons dit dan op waardige wyse vier?
[Prent op bladsy 5]
Die Israeliete se “fees vir Jehovah” het God baie toornig gemaak
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Buiteblad: M. Thonig/H. Armstrong Robers