Jongmense vra . . .
Waarom moet ek hard leer op skool?
‘Die meeste dinge wat ons op skool leer, is in elk geval net teorie. Daar is niks wat juis van praktiese waarde is nie.’
‘Huiswerk interesseer my nie. Ek stel meer belang in ander dinge, soos sport of om saam met my vriende uit te gaan.’
‘Waarom moet ek my daarop toelê om hard te werk op skool as ek weet dat ek die voltydse bediening gaan betree?’
OPMERKINGS soos dié word dikwels deur jongmense gemaak wanneer hulle oor skool of huiswerk praat. Miskien stem jy met hulle saam.
’n Mens moet toegee dat as jongmense tussen leerwerk en ontspanning moes kies die meeste van hulle waarskynlik die laasgenoemde sal kies. Sommige wens dalk selfs dat hulle nooit hoef te leer nie. Hulle dink nie dat dit so belangrik is om te leer nie; hulle kan hulle nie indink dat dit enigsins ’n verskil in hulle lewe sal maak nie. Aan die ander kant is jy miskien iemand wat goed wil doen op skool maar wat nie veel entoesiasme vir jou skoolwerk het nie. ‘Ek is net nie ’n leergierige soort mens nie’, redeneer jy.
Jy kan ’n sukses van skool maak, ongeag jou gevoelens, belangstellings of vermoëns. Maar jy moet gemotiveerd wees om dit te doen. En as jy die voordele ondersoek wat dit vir jou kan inhou as jy hard leer, sal dit vir jou selfs ’n groter aansporing wees.
Breinoefening
Baie van die dinge wat jy op skool leer, lyk miskien nie nou of jy dit in jou lewe gaan nodig kry nie. Tensy jy ’n loopbaan as wetenskaplike beplan, sal jy waarskynlik nie in die toekoms die fisikaformules gebruik wat jou onderwyser jou moontlik laat leer het nie. Daarbenewens is dit onwaarskynlik dat dit vir jou as volwassene nodig sal wees om elke dag werkwoordverbuigings te doen of die hoeke van ’n gelykbenige driehoek te bereken. ‘Wat help dit dus om al hierdie dinge te leer?’ vra jy.
Om een ding te noem, die skool bied jou die geleentheid om ’n goeie algemene kennis oor talle uiteenlopende onderwerpe, soos geskiedenis, letterkunde, wetenskap, aardrykskunde en wiskunde, op te doen. Hierdie breë grondslag van kennis sal jou begrip van die wêreld om jou verryk en sal ’n fondament vorm waarop meer spesifieke inligting gebou kan word. “Vir die verstandige is kennis maklik”, sê Spreuke 14:6.
In sy boek Savoir étudier (Hoe om te studeer) verduidelik Robert Bosquet verder dat die verstand se potensiaal om te leer “progressief ontdek en gebruik moet word”. Hy sê verder: “Almal weet dat ’n sportkampioen sy beste prestasie eers sal behaal ná ’n lang oefentydperk waartydens hy ontdek hoe hy sy vermoëns ten volle kan benut. . . . Wanneer jy weet hoe om te studeer, doen jy juis dit: jy gebruik jou volle potensiaal en verkry die beste resultate met die minste tyd en inspanning.”
Huiswerk kan dus ’n breinoefening genoem word. “Die brein is . . . ’n eindelose netwerk van onderlinge verbindings”, sê die boek How to Study, “en hoe ingewikkelder dit raak en hoe meer onderlinge verbindings daar is, hoe doeltreffender werk dit.” Skooltake kan jou help om jou konsentrasievermoë te verbeter, om beter te redeneer, dinge te memoriseer, probleme te analiseer en logiese gevolgtrekkings te maak.
Emosionele en geestelike groei
Jou skooljare is ook ’n tyd van emosionele en geestelike groei. Jy ontwikkel gewoontes en gesindhede wat grotendeels sal bepaal watter soort volwassene jy sal wees. Sal jy hardwerkend, vlytig, gedissiplineerd en vaardig wees—iemand wat ’n werkgewer in diens sal wil neem? Dit sal lewenslange voordele tot gevolg hê as jy jouself nou leer om goeie werk- en studiegewoontes te hê. (Vergelyk Spreuke 22:6.) Dit kan onder andere ’n ingrypende invloed hê op hoe jy in die toekoms op ekonomiese gebied sal vaar, asook op jou werksvooruitsigte. Baie firmas beskou ’n aansoeker se skoolrapport as ’n aanduiding van sy toekomstige arbeidspotensiaal.
Jou studiegewoontes kan ook ’n uitwerking hê op jou geestelike vordering. Jesus het geleer dat ’n mens God met jou “hele verstand” moet aanbid (Markus 12:30). Dit behels dat God se knegte, jonk en oud, hulle verstand ywerig moet inspan om die kennis in te neem wat Jehovah aan hulle beskikbaar stel en om te verstaan hoe hulle dit in hulle lewe moet toepas.—Johannes 17:3; 1 Timotheüs 4:7.
“Ek sien dit in ander jongmense van my ouderdom”, sê Sylvie, ’n jong vrou in Frankryk. “Die studiegewoontes wat hulle op skool gehad het, word oorgedra na hulle persoonlike studiegewoontes wat geestelike dinge betref. Diegene wat nie geleer het om van studie op skool te hou nie, het ook nie veel in persoonlike Bybelstudie belanggestel nie.” Spreuke 10:4 sê: “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.” Dit is in geestelike sin in Sylvie se geval bewaarheid. Haar goeie studiegewoontes het dit vir haar makliker gemaak om ’n dieper insig in die Bybel te kry. Dit het haar vir haar loopbaan as voltydse evangeliedienaar voorberei.—Vergelyk Psalm 1:2, 3.
Leer hoe om te studeer
Maar gestel jy is nie van nature ’n student nie. Jy moet besef dat die vernaamste verskil tussen ’n goeie student en ’n slegte student gewoonlik vlytigheid is—nie intelligensie nie. “Ek was nie van nature slim soos sommige ander skoliere nie”, erken Sylvie. “Om goed te doen op skool, moes ek werklik baie hard werk net om redelik goeie punte te behaal.” Hoewel skool nie vir Sylvie maklik was nie, het sy haar vlytig ingespan; sy het nie net geleer hoe om te studeer nie, maar ook hoe om dit te geniet. “Omdat dit ’n gewoonte geword het”, sê sy, “was dit nie so ’n groot beslommernis om te leer of om navorsing oor ’n onderwerp te doen nie. Dit het ’n tweede natuur geword.”
Harry Maddox sê in sy boek How to Study: “Dit is nie genoeg om net die vermoë te hê nie. Talle hoogs intelligente skoliere druip . . . omdat hulle nie hard genoeg werk nie of omdat hulle nooit geleer het hoe om doeltreffend te studeer nie.” Hy sê verder: “Dit is die moeite werd om doeltreffende studiemetodes aan te leer nie net vir jou onmiddellike studiedoeleindes nie, maar omdat jou werkgewoontes die res van jou lewe by jou sal bly.”
Mense geniet dit gewoonlik om dinge te doen wat hulle goed kan doen—en hulle is geneig om dinge te vermy waarmee hulle nie so goed is nie. Jy hou dus moontlik nie van skoolwerk nie omdat jy nie jou studievaardighede voldoende ontwikkel het om jou werk genotvol te maak nie. As dit die geval is, kan jy jou gerus daarop toelê om te leer hoe om te studeer. Nuttige inligting word gegee in hoofstuk 18 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.a
Kyk verder as jou skooljare
Baie skoliere skeep hulle skoolwerk af bloot omdat hulle liewer iets anders sou wou doen—soos om plesier na te jaag. Maar Spreuke 21:17 waarsku: “Wie van vrolikheid hou, is ’n man van gebrek.” Vermaak en ontspanning het wel hulle plek (Prediker 3:1, 4). Maar studie behoort een van jou prioriteite te wees terwyl jy op skool is. Die punte wat jy behaal, sal grootliks afhang van hoe hard jy bereid is om te leer. Spreuke 14:23 sê: “In enige moeitevolle arbeid is voordeel.”
Dit beteken nie dat jy noodwendig sal hou van elke vak of van elke skooltaak wat jy kry nie. Maar jy kan probeer om jou skoolopleiding as ’n positiewe middel tot ’n doel te beskou—om kennis op te doen en vaardighede aan te leer wat jou sal help om ’n nuttige en produktiewe lewe te lei. Opvoedkundige vereistes en ekonomiese toestande verskil weliswaar grootliks van land tot land. Nogtans verlaat talle jongmense die skool sonder dat hulle selfs die mees basiese leervaardighede bemeester het; hulle ontdek dat hulle onvoorbereid of onbevoeg is om die meeste soorte werk te doen. En waarom? Omdat hulle nie hard gewerk het terwyl hulle op skool was nie.
Moet tog nie toelaat dat jy in hierdie strik beland nie! Kyk verder as jou skooljare en neem jou voor om jouself te onderhou nadat jy die skool verlaat. Jy sal heel moontlik eendag selfs die verantwoordelikheid hê om vir ’n gesin te sorg. (1 Timotheüs 5:8; vergelyk Spreuke 24:27, NW.) Soos baie jongmense onder Jehovah se Getuies beplan jy dalk ook ’n loopbaan as voltydse evangeliedienaar. Jy sal steeds jouself en miskien selfs ’n gesin moet onderhou. Dink dus vooruit. Probeer om lank voordat jy matrikuleer uit te vind watter soort deeltydse werk daar in jou omgewing beskikbaar is. As jy jou op jou skoolwerk toelê, kan dit jou help om die vaardighede te ontwikkel wat nodig is om sulke werk te kry.
Wat jou toekomsplanne ook al is, dit is verstandig om hard te leer op skool. Dit is nie te sê dat jy noodwendig eerste in jou klas sal staan nie. Maar jy kan leer om studie te geniet. Jy kan boonop kennis opdoen en vaardighede en gewoontes ontwikkel wat jou deur jou hele lewe tot voordeel sal strek.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 18]
Die leervaardighede wat jy op skool ontwikkel, sal jou lewenslank tot voordeel strek