Geveerde wonders van die Bogoriameer
Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia
DIE Bogoriameer, wat in ’n smal kom geleë is, word deur toringhoë kranse oorheers. Sommige sê dit is die mooiste meer in die hele Kenia, en terwyl ons drie in ons bakkie soontoe afry, kon ons maklik sien waarom hulle so sê. As gevolg van al die alge het dit ’n glinsterende, ertjiegroen kleur. Hierdie klein plantjies floreer weens volop sonlig en die hitte van die talryke warm bronne wat in die meer inloop. Die Bogoriameer is gevolglik ’n gesogte voedingsplek vir die tientalle pienk, algvretende flaminke wat dit versier.
Maar flaminke is maar net die eerste van baie geveerde wonders wat ek, Paul en sy vrou Paula op hierdie kampeeruitstappie sal sien. Ons ry stadig al langs die rotsagtige droë westelike oewer. Strale stoom spuit hulle wit pluime die lug in. Reg oorkant, bo-op ’n rots wat naby die oewer bo die water uitsteek, sit ’n ander voël wat by die algweelde baat vind: die visarend van Afrika.
“Daar is geen visse in hierdie alkaliese meer nie”, verduidelik Paul. “Waarom dink jy is die arende dan hier?” vra hy. Die antwoord kom oorgevlieg—nog ’n visarend, wat ’n flamink in sy skerp kloue het! Nou begryp ek waarom hierdie pienk skoonhede op ’n veilige afstand bly van dié roofvoëls wat daar rondsit!
Die visarend kan maklik op ’n afstand uitgeken word. Sy spierwit kop, rug, bors en stert steek skerp af teen sy kastaiingbruin onderlyf en swart vlerke. Wanneer die arend by alkaliese mere voorkom waarin daar geen visse is nie, eet hy feitlik uitsluitlik flaminke—twee arende maak elke tweede of derde dag een dood. In varswatermere is die visarend egter ’n ware viseter. Maar stel jou voor jy loop langs die oewer van ’n varswatermeer in Afrika en ’n vis vir aandete val voor jou uit die lug uit! Onmoontlik? Glad nie. Hierdie witkopvisser het glipperige kloue en is daarvoor bekend dat hy sy visvangs laat val—tot die plaaslike inwoners se vreugde!
Die visarend is nietemin ’n uitmuntende vlieër wat verstommende lugvertonings van akrobatiese toertjies lewer. Twee sal soms 60 meter hoog sweef en dan onverwags mekaar se kloue gryp. Met hul vlerke styf uitgestrek, sal hulle ’n opwindende tolvlug begin, wat slegs nege meter bo die water eindig! Wanneer hulle ophou tol, begin hulle weer sweef deur die stygende warmlugstrome te benut.
Gevleuelde dansers
Die stowwerige, klipperige pad om die meer se suidelike kant raak al hoe bergagtiger en is moeilik om op te ry. Onderwyl ons die laaste entjie ry, gaan ons verby twee mahems wat rustig insekte van die lang grashalms afpik. Dit is reeds laatmiddag, en met ’n sug van verligting bereik ons ons bestemming—Vyeboomkamp. Dit is op die meer se suidoostelikste punt geleë en is ’n welkome oase vir moeë reisigers.
Ná ’n nag se rus sit ons om die oggendvuurtjie en drink warm koffie. Dan is hy skielik daar! Slegs ’n meter of so bokant ons hang ’n paradysvlieëvangermannetjie in die lug, besig om sy nes in ’n boom te bou wat skaars ’n meter van ons kampeerterrein af is. “Wat ’n pragtige, lang, wit stert!” roep Paula uit. Dit is inderdaad lank. Die mannetjie is slegs 18 tot 19 sentimeter lank sonder sy stertvere. Maar sy twee stertvere kan ’n verstommende 40 sentimeter lank word. Hoewel die paradysvlieëvanger betreklik klein is, is hy ’n goeie vegter. Selfs wanneer veel groter roofvoëls dit te naby die gesin se nes waag, skroom die mannetjie nie om aan te val nie!
“Dit gaan moeilik wees om ’n goeie foto hiervan te kry”, sê Paul terwyl hy sy kamera regkry. Die bedrywige nesbouer sit nie lank op een plek nie en vlieg heen en weer na ’n verlate, blaarbedekte spinnerak bo in ’n boom. Sy doel? Om die klewerige stowwe te vergader wat hy gebruik om sy nes mee te bou. Terwyl hy gretig na die beste dele van die spinnerak soek, fladder hy eers hier, dan daar, terwyl hy terselfdertyd vinnige sywaartse liggaamsbewegings uitvoer wat daardie skouspelagtige stert vinnig laat rondwip. Ons geniet sy spoggerige dans! Sodra hy sy uitgesoekte stukkies gevind het, keer hy terug na die nesmaakplek, met sy sierlike stert wat soos ’n golf agter hom vloei.
Later die oggend gewaar ons nog ’n paar mahems. Hulle het besluit om in die grasveld voor ons kamp, tussen die meer en die vyeboombos, te kom kos soek. Die mahem met sy stokkerige swart bene, is een van Oos-Afrika se grootste voëls en is byna ’n meter lank. Sy verekleed is ’n pragtige kombinasie van wit, bruinrooi, swart en grys. Maar die merkwaardige kenmerke is bo sy nek. Aan weerskante van die fluweelagtige swart voorkop is ’n wit-en-helderrooi gesigslel—groot vlesige lobbe. En sy kroon? ’n Vorstelike kuif van strooikleurige, stekelrige vere. Geen wonder dat hy gekies is as aangrensende Uganda se nasionale voël nie!
“Het jy al ooit gesien hoe ’n mahem dans?” roep Paul my oor ’n afstand toe. Ek vat dadelik koers in sy rigting. “Wat dink jy daarvan?” fluister hy terwyl ons nader aan hulle beweeg. Die twee kraanvoëls staan teenoor mekaar, met daardie elegante koppe wat knik en buig asof hulle aan die een of ander vreemde koninklike plegtigheid deelneem. Met albei vlerke oop en hoog bo die rug gelig, ’n spanwydte van meer as ’n meter, dans en pirouetteer hulle etlike minute op ’n statige wyse.
“Is dit die paringsdans?” fluister ek.
“Nee, hulle doen dit net wanneer hulle wil”, antwoord hy. “In westelike Kenia het ek ’n groep van honderd of meer sien dans.”
Tydens die paartyd lewer die mannetjie éérs ’n vertoning. (Hoe kan hy ooit verwag om haar met bloot sy alledaagse dans te beïndruk?) Hy staan ineengekrimp en vooroor gebuig, met net sy een vlerk gelig, en dan gooi hy trots sy kop terug en, met sy snawel hemelwaarts gelig, uiter hy die diep bulderende paringsroep. Inderdaad indrukwekkend!
’n Laaste wonder
Teësinnig begin ons om ons goed bymekaar te kry en gereed te maak om te vertrek, min wetende dat daar nog een geveerde wonder op ons wag. Meteens skiet ’n gevleuelde wese met die eienaardigste voorkoms deur die lug. Dit is ’n paradysvinkmannetjie. Hy stel sy 28 sentimeter lange stert, wat hy spesiaal tydens paartyd het, ten toon. Die stert het ’n groot, vertikale uitbolling wat dit na ’n rok met ’n busseltjie laat lyk. Aangesien die voël so ’n swaar ‘vertikale stabilisator’ het, is dit geen wonder dat hy, hoewel hy in ’n reguit lyn vlieg, met golfbewegings vlieg nie. Dit lyk soos ’n vliegtuig wat aanhoudend deursak! Nogtans stryk die voël op die een of ander manier akkuraat neer; hy val letterlik uit die lug.
Ons uitstappie was verreweg te kort om alles in hierdie gebied te sien wat daar te sien is. Maar dit het ons waardering vir ons Skepper versterk en laat ons met verlange uitsien na die tyd wanneer al die skepsele op aarde vreedsaam in ’n wêreldwye, volmaak ekologiese balans sal saamleef.—Hosea 2:17.
[Kaarte op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KENIA
Bogoriameer
Nairobi
[Prente op bladsy 24]
Mahem
Flaminke
Paradysvink
Visarende