Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/8 bl. 5-8
  • Die hoë prys van dobbelary

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die hoë prys van dobbelary
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer dobbelary handuit ruk
  • Die bedrieglike strik van bygelowigheid
  • Weens die liefde vir geld
  • Verslawing onder tieners en huisvrouens
  • Drome wat nagmerries word
  • Kompulsiewe dobbelaars—altyd verloorders
    Ontwaak!—1995
  • Mag Christene dobbel?
    Ontwaak!—1994
  • Nuwe dobbelaars—Jongmense!
    Ontwaak!—1995
  • Is dobbel werklik so sleg?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/8 bl. 5-8

Die hoë prys van dobbelary

Bobby is dood aangetref in ’n motor wat in ’n straat in die noorde van Londen geparkeer was. Hy was maar 23 jaar oud en het selfmoord gepleeg.

Die bejaarde man het ’n geruime tyd op straat geslaap voordat hy na ’n welsynsentrum gegaan het. Hy was baie swak, aangesien hy vier dae lank niks geëet het en ook nie sy voorskrifmedisyne vir ’n hartkwaal geneem het nie.

Emilio, ’n vader van vyf kinders, was ’n gebroke man. Sy vrou en kinders het hom verlaat. Nou het hulle selfs geweier om met hom te praat.

’NSELFMOORDENAAR, ’n swerwer en ’n verwerpte vader: drie tragiese gevalle wat oënskynlik nie met mekaar verband hou nie, maar niks buitengewoons in die hedendaagse samelewing is nie. Maar al drie tragedies het in een opsig met mekaar ooreengestem—verslawing aan dobbelary.

Baie kompulsiewe dobbelaars weier om te erken dat hulle ’n probleem het, en gesinslede steek dikwels die probleem weg om die sosiale stigma te vermy. Maar miljoene huisgesinne oor die hele wêreld ondervind daagliks smart en wanhoop weens hierdie verwoestende verslawing.

Niemand weet hoeveel kompulsiewe dobbelaars daar is nie. Tienmiljoen word as ’n matige skatting vir die Verenigde State beskou. Die getalle is onrusbarend en hulle styg oral namate al hoe meer dobbelgeleenthede in die een land na die ander geskep word. Kompulsiewe dobbelary is al beskryf as “die verslawing wat die vinnigste toeneem”.

Baie van die nuwe verslaafdes het begin deur net nou en dan te dobbel om “hulle geluk te beproef”. Toe is hulle meegesleep in die nagmerrie van dobbelverslawing.

Wanneer dobbelary handuit ruk

Wat veroorsaak dat mense wat net nou en dan dobbel kompulsiewe dobbelaars word? Die redes verskil, maar dobbelaars bereik op die een of ander manier ’n punt in hulle lewe wanneer hulle voel dat hulle nie sonder dobbelary kan lewe nie. (Sien venster op bladsy 7.) Sommige ontdek in dobbelary ’n soort opwinding wat in hulle lewe ontbreek. Een dobbelaar het verduidelik: “Ek gee nie werklik om of ek wen of verloor nie. Wanneer ek geld verwed, veral as ek meer as die mense om my verwed, voel ek dat ek die belangrikste mens in die wêreld is. Mense respekteer my. Ek voel so opgewonde!”

Ander wend hulle tot dobbelary omdat hulle eensaam of depressief is. Ester, ’n moeder van vier kinders, was met ’n soldaat getroud wat dikwels uithuisig was. Sy was eensaam en het begin om op dobbelmasjiene in vermaaklikheidsentrums te speel. Kort voor lank het sy etlike ure per dag gespeel. Die huishougeld was spoedig op en die probleme het toegeneem. Sy het probeer om haar verliese vir haar man weg te steek, terwyl sy desperaat geld by banke en ander mense probeer leen het om haar verslawing van 550 rand per dag te onderhou.

Daar is ook diegene wie se obsessie deur ’n groot wenslag aan die gang gesit is. Robert Custer, ’n kenner op die gebied van kompulsiewe dobbelary, verduidelik: “Dit is gewoonlik diegene wat vroeg en gereeld in hulle dobbelloopbaan wen wat die kompulsiewe dobbelaars word.” Daarna raak die begeerte om aan te hou dobbel oorweldigend.

Die bedrieglike strik van bygelowigheid

Baie dobbelaars word eerder deur intuïsie as deur logika gelei. As ’n voornemende dobbelaar deur sy gesonde verstand alleen gelei sou word, sou ’n paar eenvoudige berekenings hom van dobbelary laat afsien. Ter toeligting: In die Verenigde State is die kanse om deur weerlig doodgeslaan te word omtrent 1 uit 1700 000. Die kanse om ’n staatslotery te wen is minstens twee keer minder.

Wie verwag nou om deur weerlig getref te word? Net ’n gebore pessimis. Tog droom feitlik almal wat ’n loterykaartjie koop dat sy lootjie getrek sal word. Om ’n lotery te wen, is nou wel ’n aantrekliker vooruitsig as om deur weerlig getref te word, maar die rede waarom baie mense hulle hoop op feitlik onmoontlike kanse stel, is omdat hulle bygelowig is. Hulle keuse van hulle gunsteling-“gelukkige nommer” oortuig hulle dat hulle ondanks die skraal kanse tog sal wen.—Sien venster op bladsy 8.

Claudio Alsina, ’n Spaanse wiskundige, het daarop gewys dat die kanse om te wen presies dieselfde sou bly as casino’s en loterye letters in plaas van nommers in gelukspeletjies sou gebruik, maar dat die betowering—en waarskynlik ’n aansienlike deel van die wins—sou verdwyn. Dit is merkwaardig watter bekoring sekere nommers vir mense inhou. Die nommers 9, 7, 6 en 0 is baie gewild by sommige mense, terwyl ander hulle “gelukkige nommer” uit sulke dinge soos ’n verjaarsdag of ’n horoskoop kies. En daar is diegene wat hulle deur die een of ander buitengewone gebeurtenis laat lei.

’n Man het eendag ’n onaangename verrassing gehad toe hy by die Monte Carlo-casino aangekom het. ’n Duif wat oor hom gevlieg het, het sy hoed bemors. Hy het daardie selfde dag R41000 gewen. Hy was oortuig dat die duiwemis ’n goeie voorbode was, en het nooit weer by die casino ingegaan sonder dat hy eers buite rondgestap het in die hoop dat hy nog ’n “teken uit die hemel” sal ontvang nie. Bygelowigheid bring baie dobbelaars dus onder die wanindruk dat hulle nooit weer sal verloor nie. Maar dit gaan dikwels gepaard met die genadelose greep van ’n obsessie wat hulle beheer en hulle uiteindelik kan verteer.

Weens die liefde vir geld

Mense dobbel om geld, en indien moontlik, baie geld te wen. Maar in die geval van die kompulsiewe dobbelaar kry die geld wat hy wen ’n spesiale betowering. In die dobbelaar se oë, verduidelik Robert Custer, “is geld aansien. . . . Geld is vriendskap. . . . Geld is medisyne.” En waarom is geld vir hom so belangrik?

In dobbelkringe bewonder mense die groot wenner of die groot spandeerder. Hulle wil naby hom wees. Die geld wat die dobbelaar gewen het, sê dus vir hom dat hy tel, dat hy slim is. Die geld laat hom ook van sy probleme vergeet, help hom om te ontspan en laat hom vroliker voel. Volgens navorser Jay Livingston is kompulsiewe dobbelaars van dobbelary afhanklik om in al hulle emosionele behoeftes te voorsien. Dit is ’n tragiese fout.

Wanneer hy na die werklikheid terugkeer en hy aanhoudend verloor, raak geld nog belangriker. Nou is hy desperaat om die geld wat hy verloor het terug te kry. Hoe kan hy nou genoeg geld bymekaarskraap om sy skuldeisers te betaal en weer die geluk aan sy kant te kry? Kort voor lank ontaard sy lewe in ’n aanhoudende soektog na geld.

So ’n ongelukkige situasie is vir miljoene dobbelaars ’n deel van die lewe. Hulle kom uit albei geslagte, uit alle ouderdomsgroepe en uit alle lewensterreine. En dit kan met enigiemand gebeur, soos ons kan sien uit die onlangse skerp toename in dobbelverslawing onder tieners en huisvrouens.

Verslawing onder tieners en huisvrouens

Jongmense word maklik die slagoffers van die fassinerende dobbelmasjiene of ander gelukspeletjies wat hulle die kans bied om vinnig geld te maak. ’n Opname in ’n stad in Engeland het getoon dat 4 uit 5 van die 14-jariges gereeld op dobbelmasjiene speel en dat die meeste reeds begin het toe hulle 9 was. Sommige draai stokkies om te gaan dobbel. ’n Opname onder Amerikaanse hoërskoolleerlinge het getoon dat 6 persent “tekens van waarskynlike patologiese dobbelary toon”.

Manuel Melgarejo, die president van ’n selfverbeteringsgroep in Madrid, Spanje, wat uit gewese dobbelaars bestaan, het aan Ontwaak! verduidelik dat ’n jongmens wat baie vatbaar vir indrukke is ná net een aansienlike wenslag op ’n dobbelmasjien aan dobbelary verslaaf kan raak. Dobbelary word oornag ’n tydverdryf en ’n voorliefde. Weldra sal die jong verslaafde dalk sy familie se erfstukke verkoop of by sy gesin steel en hom dalk selfs tot geringe diefstal of prostitusie wend om geld vir sy verslawing te bekom.

Kenners merk ook op dat daar ’n merkbare toename in die aantal huisvrouens is wat kompulsiewe dobbelaars is. In die Verenigde State maak vroue nou byvoorbeeld ongeveer 30 persent van alle kompulsiewe dobbelaars uit, maar daar word geskat dat dit teen die jaar 2000 tot 50 persent sou gestyg het.

María, ’n moeder uit die arbeidersklas met twee dogters, is tipies van baie huisvrouens wat kompulsiewe dobbelaars geword het. Sy het gedurende die afgelope sewe jaar R96000—hoofsaaklik huishougeld—op bingo en op dobbelmasjiene uitgegee. “Die geld is vir altyd weg”, sug sy. “Ek sien net uit na die dag wanneer ek met [R140] in my beursie in ’n kafee kan ingaan en die krag kan hê om dit op my kinders uit te gee [pleks van dit in ’n dobbelmasjien te druk].”

Drome wat nagmerries word

Dobbelary word op drome gegrond. Drome van rykdom is vir sommige dobbelaars iets tydeliks, maar vir die kompulsiewe dobbelaar word daardie drome sy obsessie, ’n obsessie wat hy tot bankrotskap, gevangenskap of selfs die dood toe onophoudelik najaag.

Dobbelary beloof om in regmatige behoeftes te voorsien—’n aangename tydverdryf, ’n bietjie opwinding, ’n bietjie ekstra geld of ontvlugting aan daaglikse bekommernisse—maar die verskuilde prys kan buitensporig hoog wees, soos kompulsiewe dobbelaars tot hulle smart ontdek het. Kan hierdie behoeftes elders bevredig word?

[Venster op bladsy 7]

Beeld van ’n kompulsiewe dobbelaar

DIE dobbelaar hou aan dobbel ongeag hoeveel hy verloor. As hy wel wen, gebruik hy die geld om weer te dobbel. Hoewel die kompulsiewe dobbelaar dalk beweer dat hy kan ophou net wanneer hy wil, sal hy, wanneer hy geld in sy sak het, binne ’n kwessie van ’n paar dae sy geld weer op iets verwed. Hy het ’n patologiese drang om te dobbel.

Hy gaan voortdurend skuld aan. Wanneer hy sy skuldeisers nie kan betaal nie, leen hy desperaat geld om die dringendste skuld te kan betaal en te kan aanhou dobbel. Vroeër of later raak hy oneerlik. Hy gebruik dalk selfs sy werkgewer se geld om te dobbel. Gewoonlik word hy uiteindelik afgedank.

Niks, selfs nie eers sy vrou en kinders nie, is belangriker as sy dobbelary nie. Sy gewoonte lei onvermydelik tot huweliksprobleme en kan uiteindelik daartoe lei dat hy en sy vrou uitmekaar gaan of van mekaar skei.

Intense skuldgevoelens laat hom al hoe meer in homself gekeer raak. Sy verhouding met ander mense gaan agteruit. Hy ly mettertyd aan hewige depressie en probeer moontlik selfs selfmoord pleeg; hy kan geen ander uitweg uit sy dilemma sien nie.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Die man wat die bank in Monte Carlo laat spring het

CHARLES WELLS, ’n Engelsman, het in Julie 1891 die Monte Carlo-casino besoek. In ’n kwessie van ’n paar dae het hy met tienduisend frank ’n miljoen frank gewen, en hy het dit verbasend genoeg vier maande later weer gedoen. Baie ander dobbelaars het probeer uitvind wat sy “stelsel” is, maar hulle kon nie. Wells het altyd volgehou dat hy nie ’n stelsel het nie. Trouens, hy het die volgende jaar al sy geld verloor en hy was brandarm toe hy gesterf het. Dit is ironies dat die casino groot publisiteit uit hierdie episode verkry het. Die casino het ’n internasionale bekendheid verwerf wat dit nooit verloor het nie.

Die misvatting oor Monte Carlo

Baie dobbelaars glo dat dobbelmasjiene of rouletteskywe ’n geheue het. As ’n sekere nommervolgorde dus tot op ’n sekere tydstip verskyn het, dink die roulettespeler dat die skyf waarskynlik sal aanhou om nommers te kies wat met daardie volgorde ooreenstem. Sommige wat op die dobbelmasjiene speel, aanvaar dit eweneens as vanselfsprekend dat die pryspot spoedig gewen moet word as dit ’n geruime tyd nie op ’n spesifieke masjien gewen is nie. Sulke verkeerde opvattings word die misvatting oor Monte Carlo genoem.

Die rouletteskyf sowel as die meganisme wat die dobbelmasjiene se pryspot toeken, werk geheel en al op toeval. Wat voorheen gebeur het, is dus irrelevant. Soos The New Encyclopædia Britannica sê, het “elke spel [in hierdie gelukspeletjies] dieselfde kans as enige van die ander om ’n bepaalde uitslag op te lewer”. Die kanse om te wen is derhalwe elke keer presies dieselfde. Maar die misvatting oor Monte Carlo het baie dobbelaars al geruïneer, terwyl dit die casino’s se geldkoffers volgemaak het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel