Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/22 bl. 6-8
  • Kompulsiewe dobbelaars—altyd verloorders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kompulsiewe dobbelaars—altyd verloorders
  • Ontwaak!—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Nuwe dobbelaars—Jongmense!
    Ontwaak!—1995
  • Mag Christene dobbel?
    Ontwaak!—1994
  • Die hoë prys van dobbelary
    Ontwaak!—1992
  • Wat is daarmee verkeerd om te dobbel?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/22 bl. 6-8

Kompulsiewe dobbelaars—altyd verloorders

“KOMPULSIEWE dobbelary is ’n siekte, net soos alkoholisme en dwelmverslawing siektes is”, het professor Jean Ades van Frankryk gesê. “Dis ’n verslawing sonder ’n dwelm”, het hy gesê, en “al hoe meer mense kom agter dat hulle verslaaf is”. Selfs nadat kompulsiewe dobbelaars groot bedrae geld verloor het, is hulle dikwels daarmee behep om vir hulle verliese te probeer vergoed deur selfs meer te dobbel. “Die meeste verloorders herstel gou van hulle teleurstelling. Maar vir party is die dobbeldrif so onbeheerbaar dat dit hulle lewe kan verwoes”, het een koerantman in Frankryk geskryf. “Hulle bly hulleself belowe dat hulle die gewoonte gaan afleer, maar dit kry altyd die oorhand oor hulle. Hulle is dobbelslawe.”

Een Suid-Afrikaanse dobbelaar het erken: “As jy ’n dobbelslaaf is en jy gaan sit by die roulettewiel of die blackjack-tafel maak niks anders saak nie. Adrenalien bruis deur jou are, en jy sal elke sent wat jy het op nog net een draai van die wiel, of die volgende kaart, verwed. . . . Deur van my adrenalienreserwes gebruik te maak, kon ek ’n paar dae en nagte aaneen wakker bly terwyl ek die kaarte en nommers dopgehou en op daardie immerontwykende superuitbetaling gewag het.” Toe het hy afgesluit: “Daar is baie ander soos ek wat nie by ’n paar honderd of selfs ’n paar duisend rand kan ophou nie. Ons sal aanhou dobbel totdat alles wat ons het weg is en ons gesinsverhoudinge onherstelbaar geskaad is.”

Henry R. Lesieur, ’n professor in sosiologie aan die St. John’s-universiteit, New York, het geskryf dat die dobbelsug so sterk is dat baie dobbelaars, of hulle nou wen of verloor, “dae lank nie sal slaap, eet of eers badkamer toe sal gaan nie. As jy dobbel, verdring dit alle ander bekommernisse. Gedurende die wagtyd is daar ook ’n sensasie wat gewoonlik deur natgeswete hande, ’n vinnige hartklop en naarheid gekenmerk word.”

Een voormalige dobbelslaaf erken dat om te wen nie die dryfkrag agter sy langdurige gewoonte was nie, maar dit was eerder die sensasie, die opwinding van dobbelary self. “Dobbelary veroorsaak buitengewoon intense emosies”, het hy gesê. “Wanneer die roulettewiel draai, wanneer jy op die Geluk wag om sy antwoord te gee, is daar ’n oomblik wanneer jou kop duisel en jy amper flou word.” Die Franse dobbelaar André stem saam: “Wanneer jy FF10 000 [R7 500] op ’n perd het en daar nog 100 meter oor is, kan iemand maar vir jou sê dat jou vrou of jou ma dood is, en jy sal geen flenter omgee nie.”

André beskryf hoe hy selfs ná swaar verliese kon aanhou dobbel. Hy het geld geleen by banke, vriende en woekeraars met buitensporige rentekoerse. Hy het tjeks gesteel en poskantoorspaarboekies vervals. Hy het eensame vroue tydens sy besoeke aan casino’s verlei en het dan met hulle kredietkaarte verdwyn. “Teen daardie tyd”, het ’n Franse koerantman geskryf, het André “nie eers meer omgegee of hy ooit uit sy benarde finansiële posisie sal kan kom nie. Sy obsessie was al wat hom aan die gang gehou het.” Hy het hom tot misdaad gewend en is tronk toe gestuur. Sy huwelik was aan skerwe.

In baie gevalle hou kompulsiewe dobbelaars, soos dwelmslawe en alkoholiste, aan om te dobbel al kos dit hulle hulle werk, hulle onderneming, hulle gesondheid en uiteindelik hulle gesin.

Baie stede in Frankryk het onlangs hulle deure vir dobbelary oopgemaak. Waar ander sakeondernemings misluk het, doen pandjieswinkels goeie besigheid. Eienaars sê dat dobbelaars dikwels al hulle geld verloor en dan ringe, horlosies, klere en ander waardevolle artikels verpand vir petrolgeld om by die huis te kom. Nuwe pandjieswinkels het in party kusdorpe in die Verenigde State oopgemaak; soms kan drie of vier of meer langs mekaar gevind word.

Party het hulle selfs tot ’n lewe van misdaad gewend om hulle dobbelgewoonte te onderhou. Volgens professor Lesieur het studies wat tot op hede gedoen is “aan die lig gebring dat kompulsiewe dobbelaars hulle aan ’n groot verskeidenheid misdrywe skuldig maak . . . tjekvervalsing, geldverduistering, diefstal, gewapende roof, beroepsweddery, bedrog, swendelary en die verkoop van gesteelde goedere”. Hierby kom ook die witboordjiemisdaad waar dobbelaars van hulle werkgewers steel. Volgens Gerry T. Fulcher, direkteur van die Stigting vir die Opvoeding en Behandeling van Kompulsiewe Dobbelaars, het 85 persent van die duisende geïdentifiseerde kompulsiewe dobbelaars erken dat hulle van hulle werkgewers steel. “Trouens, kompulsiewe dobbelary is, bloot vanuit ’n finansiële oogpunt gesien, potensieel erger as alkoholisme en dwelmmisbruik saam”, het hy gesê.

Verdere studies het bevind dat ongeveer twee derdes van die kompulsiewe dobbelaars wat nie opgesluit is nie en 97 persent van dié wat opgesluit is, erken dat hulle hulle aan misdrywe skuldig gemaak het om geld te kry vir hulle dobbelary of om dobbelverwante skuld te betaal. In dorpe in die Verenigde State aan die kus van die Golf van Mexiko, waar gewettigde dobbelary algemeen is, was daar 16 bankrowe in 1993, vier keer meer as die vorige jaar. Een man het altesaam agt banke van $89 000 (R323 000) beroof om sy dobbelgewoonte voort te sit. Ander banke is deur gewapende dobbelaars beroof wat groot bedrae aan skuldeisers moes terugbetaal.

“Wanneer kompulsiewe dobbelaars probeer ophou, ondervind hulle onttrekkingsimptome, net soos rokers en dwelmslawe”, sê The New York Times. Dobbelaars erken egter dat dit moeiliker kan wees om met die dobbelgewoonte te breek as met ander gewoontes. “Party van ons het ook ondervinding van alkoholisme en dwelmmisbruik”, het een gesê, “en ons almal stem saam dat kompulsiewe dobbelary baie erger as ander verslawings is.” Dr. Howard Shaffer, van die Sentrum vir Verslawingstudies by die Harvard-universiteit, het gesê dat ten minste 30 persent van die kompulsiewe dobbelaars wat probeer ophou “tekens van prikkelbaarheid toon of las het van maagaandoenings, slaapafwykings, abnormaal hoë bloeddruk en polsslag”.

Selfs al hou hulle aan wed, het dr. Valerie Lorenz, direkteur van die Nasionale Sentrum vir Patalogiese Dobbelary in Baltimore, Maryland, VSA, gesê, “kan [kompulsiewe] dobbelaars mediese probleme ondervind: chroniese hoofpyne, migraine, asemhalingsprobleme, hartkrampe, onreëlmatige hartklop en gevoelloosheid in hulle arms en bene”.

Dan is daar selfmoorde. Wat kan erger wees as iets wat algemeen as ’n “nienoodlottige verslawing” bekend staan en tog die dood veroorsaak? Byvoorbeeld, in een Amerikaanse distrik waar dobbelcasino’s onlangs oopgemaak het, “het die selfmoordsyfer om ’n onverklaarbare rede verdubbel”, het The New York Times Magazine berig, “hoewel geen gesondheidsbeampte bereid was om die toename met dobbelary te verbind nie”. In Suid-Afrika het drie dobbelaars in een week selfmoord gepleeg. Die aantal selfmoorde wat werklik die gevolg is van dobbelary en skuld wat daaraan te wyte is, hetsy wettig of onwettig, is nie bekend nie.

Selfmoord is ’n tragiese manier om die wurggreep van dobbelary te verbreek. Let in die volgende artikel op hoe party ’n beter uitweg gevind het.

[Lokteks op bladsy 6]

Pandjieswinkels floreer—en so ook misdaad

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel