Moet Christene dobbel?
MOET ’n Christen dobbel om iets verniet te kry? Nee, want God se Woord spoor hom aan om te werk sodat hy vir homself en sy gesin kan sorg: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. . . . Sulke mense beveel en vermaan ons . . . om rustig te werk en hulle eie brood te eet.”—2 Thessalonicense 3:10, 12.
’n Sosioloog het gesê dat loterye ‘’n manier is waarop ’n groot aantal arm mense ’n paar mense ryk maak’, en dit is waar van dobbelary in die algemeen. Sal ’n Christen homself wil verryk ten koste van diegene wat dit beswaarlik kan bekostig? Christene moet ‘hulle naaste liefhê soos hulleself’ (Markus 12:31). Maar dobbelary moedig mense aan om selfsugtig pleks van liefdevol, onverskillig pleks van medelydend te wees.
Dobbelary word dikwels gemotiveer deur hebsug—gierigheid—’n gees wat nie met die Christelike godsdiens vereenselwig kan word nie. Paulus het in Romeine 7:7 gesê: “Jy mag nie begeer nie.” Die woord “begeer” beteken “sterk verlang na, vurig begeer”. Beskryf dit nie die dobbelaar se onbeteuelde begeerte om sy naaste se geld te wen nie? So ’n begeerte is strydig met die Christelike ideaal om mededeelsaam en vrygewig te wees.
Die Bybel sê: “Die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle . . . hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:10). Dit beskryf die situasie waarin die kompulsiewe dobbelaar hom bevind, verslaaf aan ’n gewoonte wat hom keer op keer pynlik deurboor.
Jesus het gesê dat mense aan “hul vrugte” geken kan word (Mattheüs 7:20). Buiten die smart wat kompulsiewe dobbelaars en hul gesinne ondervind, word dobbelary al lank met oneerlikheid en misdaad geassosieer. The New Encyclopædia Britannica sê: “’n Groot deel van die stigma wat aan dobbelary kleef, is te wyte aan die oneerlikheid van sy promotors.” Georganiseerde misdaad is al met wettige en onwettige dobbelary gekoppel. Sou ’n Christen hierdie bedryf, selfs indirek, wou ondersteun?
Soos in die tweede artikel van hierdie reeks verduidelik is, is dobbelary dikwels ’n bygelowige najaging van gelukkige nommers, gelukkige dae of gelukskote. Die geluksgodin word al eeue lank gepaai deur dobbelaars wat baie graag haar guns wil verwerf. Die Romeine het haar Fortuna genoem, en daar is mettertyd 26 tempels ter ere van haar in die stad Rome opgerig.
Die profeet Jesaja het van ’n soortgelyke god met die naam gadh gepraat wat deur afvallige Israeliete aanbid is. Hy het geskryf: “Julle wat die HERE verlaat, . . . wat ’n tafel dek vir die geluksgod [Hebreeus, gadh]” (Jesaja 65:11). Dit was die gebruik om die laaste dag van die jaar ’n tafel met verskillende disse daarop vir die geluksgod te dek. Die mense uit die ou tyd het gehoop om op hierdie manier geluk gedurende die komende jaar te verseker.
Diegene wat naïef op gadh, of die geluksgodin, vertrou het om hulle probleme op te los, het nie God se goedkeuring weggedra nie. Om op geluk te vertrou, was so goed as om die ware God, Jehovah, te verlaat. Pleks van hulle vertroue in die onbetroubare illusie van die geluksgodin te stel, moet Christene op die ware God, Jehovah, vertrou, die Een wat belowe om ons rykdom van baie groter waarde te gee, die Een wat ons nooit in die steek sal laat nie.