Van ons lesers
Heelal Ek moet julle vir die verbasende inligting in die reeks “Die geheime van die heelal word ontrafel” (22 Maart 1992) bedank. Maar met watter gesag kan ons sê dat rooireuse, pulsars en gravitasiekolke stadiums in die lewe [en dood] van sterre is? Jesaja 40:26 sê van sterre dat ‘nie een gemis word nie’.
E. W., Sierra Leone
Hierdie Bybelteks bespreek nie die kwessie of sterre ’n rampspoedige einde het nie. Dit beklemtoon eerder God se ondeurgrondelike kennis en wysheid. As die Skepper weet God waar elke individuele ster is. Wat hom betref, word nie een “gemis” nie. (Sien “Die Wagtoring” van 15 September 1989, bladsy 31.)—RED.
Tienerromanse Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Wat is daarmee verkeerd om met mekaar te gesels?” (22 Augustus 1992). Ek en ’n seun in my gemeente het vir mekaar geskryf. Ons het mekaar ook gebel. Maar aangesien nie een van ons oud genoeg is om te trou nie, het ons reeds besluit om nie meer so lank met mekaar te gesels nie. Ek was bly om te lees dat ons die regte besluit geneem het.
M. N., Japan
Dit was asof julle my gedagtes kon lees! Ek het dit ernstig oorweeg om met ’n paar seuns te korrespondeer. Ek het myself seker geflous om te dink dat hierdie briewe net sou wees om hulle aan te moedig. Julle artikel het net betyds gekom.
D. B., Verenigde State
Ek is 12 jaar oud en skryf aan baie mense. Een van hulle is ’n seun. Ek het nooit gedink dat ek romantiese gevoelens vir hom sou hê nie, maar eendag het hy geskryf en gesê dat hy my liefhet! Julle artikel het net op die regte tyd gekom!
E. V., Verenigde State
Gewrigsontsteking Julle artikel “Leer om gewrigsontsteking te aanvaar” (8 Junie 1992) is met groot belangstelling gelees. Maar as ’n gewrigsontstekinglyer het ek nie gedink dat dit die verskillende vernietigende gevolge wat hierdie siekte kan hê ten volle uitgebeeld het nie: spanning, pyn, moegheid, slaapsteurnisse en depressie. Julle het ’n prentjie van misvormde hande gehad asof dit die ernstigste soort gewrigsontsteking is. Sigbare gebreke is nie al wat ons die hoof moet bied nie. My regterkantste ribbekas is onder in my regterkantste bekkenbeen, en net omdat niemand die gebrek kan sien nie, erken mense dit nie. Julle artikel het ons aangemoedig om “’n positiewe beskouing aan te kweek”, maar dit is soms moeilik om dit sonder ander se hulp te doen.
M. J., Verenigde State
Ons waardeer hierdie openhartige kommentare. Ons kort artikel het inderdaad ’n beperkte bespreking bevat. Dit was boonop hoofsaaklik op gewrigsontstekingslagoffers gerig, wat die gevolge van hierdie siekte maar alte goed ken. Ons stem egter saam dat dit goed sal wees as vriende en familielede bewus is van die vernietigende gevolge van gewrigsontsteking en daarna sal streef om behulpsaam en aanmoedigend te wees.—RED.
Baie dankie dat julle die artikel gepubliseer het. Ek is 31 jaar oud en verduur intense pyn weens gewrigsontsteking. Moegheid het depressie, droefheid en frustrasie tot gevolg gehad. Maar ek kan dit die hoof bied omdat ek die geestelike gesondheid geniet wat vir my so kosbaar is.
T. R., Verenigde State
Ek het ’n hele ruk gewag dat julle hierdie onderwerp moet bespreek, en ek was baie bly om dit te lees. Ek verduur die pyn wat met rumatoïede artritis gepaardgaan sedert ek nege was. Ondanks die feit dat ons ons soms in die geselskap van ander bevind wat ons probleme nie ten volle verstaan nie, toon Jehovah sy belangstelling en bemoedig hy ons deur artikels soos hierdie.
P. C., Italië