Ek is so bly ek lewe!
“EK IS so bly ek lewe!” het Bernice, ’n gesonde negejarige meisie wat in Suid-Duitsland woon, geesdriftig uitgeroep. Sy het spesiale rede om bly te wees.
Eendag terwyl Bernice nog in haar moeder se baarmoeder gegroei het, het haar suster siek geword. Sy het Duitse masels gehad! Die moeder was baie ontsteld, aangesien hierdie aansteeklike siekte tydens swangerskap aan ’n ongebore baba oorgedra kan word en ernstige gebreke in die kind kan veroorsaak.
Nadat die dokter bloedtoetse laat doen het, het hy die moeder onmiddellik sterk aangeraai om die swangerskap te beëindig. Op grond van die bloedtoetse was hy vas oortuig dat die moeder en die ongebore baba Duitse masels het. Die toetse het ook getoon dat die baba na alle waarskynlikheid met ernstige gebreke gebore sou word.
Maar die ouers het geglo dat aborsie strydig met God se wette is. As Getuies van Jehovah het hulle so ’n prosedure van die hand gewys. Die dokter het nogtans daarop aangedring en ’n afgryslike prentjie geskilder van wat die gevolge van hulle weiering kon wees. Hy het ook hulle aandag gevestig op die probleme wat daarmee gepaardgaan om ’n ernstig gestremde kind groot te maak. Maar die ouers het standvastig geweier en hulle Bybelse beskouing oor aborsie verduidelik. Hulle was bereid om enige situasie wat kon ontstaan te trotseer en die kind lief te hê ongeag wat moontlik sou gebeur.
Die dokter was diep beïndruk. Hy het erken dat hyself nie ten gunste van aborsie is nie en glo dat dit sedelik verkeerd is. Maar hy was verplig om die feite en die gevolge baie duidelik aan hulle voor te lê.
Nege jaar later moes Bernice, ’n normale en gesonde kind, ’n dokter besoek. ’n Bloedtoets het getoon dat sy nog nooit Duitse masels gehad het nie. Die diagnose wat voor haar geboorte gedoen is, was blykbaar verkeerd. Hoe goed is dit tog dat die ouers standvastig in hulle geloof gebly het! Dit is geen wonder nie dat Bernice kan sê: “Ek is so bly ek lewe!”