Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiens? Nie belangrik nie
  • Die gevolge van vigs
  • Orde in die kosmos
  • Die kerk se mislukking erken
  • ‘Die dwelmmiddel wat die meeste gebruik word’
  • Pasop vir lood
  • Jerusalem se ondergrondse waterleiding
  • Spoorsnyers word skaars
  • Nooit te oud nie
  • Dogters is ongewens
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Waarom verduur Afrika soveel lyding?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Godsdiens? Nie belangrik nie

Godsdiens is in die lewe van die meeste Europeërs op verre na nie so belangrik soos hulle gesin, loopbaan, vriende en ontspanning nie. Dit is wat die Katolieke dagblad La Croix van Parys sê in ’n verslag oor die bevindings van ’n onlangse studie wat onder meer as 20 Europese nasies gedoen is en die waardes en godsdiens van vandag se Europeërs ondersoek het. “Tradisionele godsdiens, sowel as die invloed van die Kerk in die alledaagse lewe, verloor onteenseglik sy houvas”, het die artikel gesê. Volgens die navorsers “kan die afname in die belangrikheid van godsdiens toegeskryf word aan die merkbare versuim van die kerke om mense te help om hulle daaglikse probleme die hoof te bied”. La Croix berig dat hoewel die meeste mense tradisionele kerkleerstellings verwerp, “het meer as 50 persent van diegene met wie onderhoude gevoer is, met die uitsondering van diegene in Swede, gesê dat hulle wel in God glo”.

Die gevolge van vigs

Die Franse tydskrif La Presse Médicale sê dat dr. Michael Merson, die direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie se wêreldwye vigs-program, bekommerd is dat die vigs-pandemie ernstige sosiale en ekonomiese gevolge kan hê. Tydens sy toespraak by die Wêreldbank se spesiale sitting oor vigs wat in Bangkok, Thailand, gehou is, het dr. Merson gewaarsku dat “die dood van ten minste ’n vyfde van die wêreld se jongmense en middeljarige volwassenes binne ’n kort tydperk in baie lande sosiale omwentelinge, ekonomiese ontwrigting en selfs politieke onbestendigheid sal meebring”. Baie van die produktiefste lede van Afrika se bevolking, asook hele gesinne in baie plattelandse dorpies, het reeds aan die siekte gesterf. Meer as sesmiljoen Afrikane sal na verwagting in die volgende tien jaar aan vigs sterf. Matige skattings dui daarop dat sowat 9 tot 11 miljoen mense wêreldwyd met HIV, wat vigs veroorsaak, besmet is—’n syfer wat volgens gesaghebbendes op hierdie gebied binne die volgende agt jaar sal verdriedubbel.

Orde in die kosmos

Paul Davies, ’n professor in teoretiese fisika aan die Universiteit van Newcastle-upon-Tyne, Engeland, het ’n paar dinge in sy nuwe boek The Mind of God gesê wat vir ’n wetenskaplike hoogs kontroversieel is. Hy kom tot die slotsom dat die mens se bestaan nie blote toeval is nie, maar dat “ons werklik bedoel is om hier te wees”. Hy skryf: “Ek het deur my wetenskaplike werk al hoe sterker begin glo dat die fisiese heelal met ’n vernuf saamgestel is wat so verstommend is dat ek dit nie net as ’n blote feit kan aanvaar nie. Dit lyk vir my of die verduideliking daarvoor baie dieper moet lê. Dit is ’n kwessie van voorkeur en definisie as ’n mens daardie dieper verduideliking ‘God’ wil noem.”

Die kerk se mislukking erken

Vyftien Rooms-Katolieke biskoppe van die Afrikalande Burundi, Rwanda, Tanzanië, Uganda en Zaire het onlangs erken dat “binnelandse konflikte tot slagtings en vernietiging gelei het en mense genoodsaak het om te vlug” ondanks die feit dat daar baie gedoopte “Christene” in die gebied is. Hulle sê dat etniese en stamonenighede “’n bose kringloop van vrees, wantroue en manipulasie [geskep het] wat in rassistiese ideologieë gewortel is . . . iets wat nie met die Christelike geloof vereenselwig kan word nie”. Soos berig is in die Ecumenical Press Service, die nuusdiens van die Wêreldraad van Kerke, het die biskoppe erken dat die oorsaak van die probleem “is dat die Christelike geloof nie ’n diepgaande invloed op mense se denke het nie”.

‘Die dwelmmiddel wat die meeste gebruik word’

“Kaffeïen is die dwelmmiddel wat wêreldwyd die meeste gebruik word”, sê ’n onlangse nommer van The American Journal of Psychiatry. “Studies toon dat kaffeïenonthouding ’n onttrekkingsindroom van hoofpyn, moegheid en lomerigheid veroorsaak wat binne 12-24 uur begin en omtrent 1 week duur. Die sindroom kan ’n hewige uitwerking hê en dit is waarskynlik een rede waarom mense aanhou koffie drink.” Koffie is egter nie die enigste bron van kaffeïen nie. Tee, koeldranke (soos koladrankies) en baie van die medisyne wat ’n mens oor die toonbank kan koop (dieetpille, uriendrywers, opkikkers, pynstillers, geneesmiddels vir verkoue en allergieë), bevat ook aansienlike hoeveelhede kaffeïen. Gevolglik kan baie mense wat meen dat hulle die kaffeïen in hulle dieet uitgeskakel het onder sekere omstandighede, soos wanneer hulle in ’n hospitaal opgeneem word, steeds onttrekkingsimptome ondervind.

Pasop vir lood

“Loodvergiftiging is die algemeenste omgewingsiekte onder jong kinders en die siekte wat die grootste verwoesting op maatskaplike gebied saai”, sê dr. Vernon N. Houk, direkteur van die Nasionale Sentrum vir Omgewingsgesondheid en Beseringsbeheer van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer. Volgens nuwe standaarde het tussen drie- en viermiljoen kinders onder ses in die Verenigde State genoeg lood in hulle bloed om ernstige gesondheidsprobleme, soos leer- en gedragsprobleme, te veroorsaak. ’n Vername bron van loodvergiftiging onder kinders is die afgeskilferde stukkies asook die stof van loodverf wat in ouer huise gebruik is. Hoewel lood veral vir groeiende kinders skadelik is, is dit ook giftig vir volwassenes. Wynliefhebbers is onlangs aangeraai om nie uit loodkristalglase te drink nie, aangesien die lood in die wyn kan oplos. Waarskuwings is ook uitgereik oor die loodfoelie wat oor die wynbottels se kurkproppe gesit word. Wyndrinkers is aangeraai om die lood wat bo om die randjie van die bottel oorgebly het nadat die foelie verwyder is met ’n nat lap af te vee—verkieslik met iets wat suur bevat, soos suurlemoensap of asyn—voordat hulle die kurkprop verwyder.

Jerusalem se ondergrondse waterleiding

“Argeoloë en geskiedkundiges probeer reeds meer as 100 jaar om ’n verklaring te vind vir die onkonvensionele roetes, hellings en dimensies van die twee ondergrondse watervoorsieningstelsels wat onder die ruïnes van eertydse Jerusalem ontdek is”, sê die tydskrif Science News. “Hoewel die meeste navorsers die ondergrondse waterleiding beskou as die produk van eertydse ingenieurs en bouwerkers wat baie foute begaan het, toon ’n nuwe ondersoek dat inwoners van die heilige stad ’n natuurlike netwerk van ondergrondse kanale en tonnels met kundigheid gewysig het om ’n betroubare waterbron te verseker.” Volgens die Bybel was dit Dawid se kennis van hierdie ondergrondse kanale wat hom gehelp het om die stad sowat 3000 jaar gelede met welslae in te neem (2 Samuel 5:8, NW). Die nuwe studie toon dat daar twee ingange tot hierdie ondergrondse tonnels buite die mure van die eertydse stad was.

Spoorsnyers word skaars

“As ons nie versigtig is nie, . . . sal daar dalk binnekort geen tradisionele spoorsnyers in Suider-Afrika oor wees nie”, skryf Louis Liebenberg in African Wildlife. Die skrywer, ’n kenner op die gebied, is bevrees dat die kuns om spoor te sny, sal uitsterf. Van die beste spoorsnyers het reeds die ouderdom bereik waar hulle oë ingee. Die vernaamste redes waarom die beroep aan die uitsterf is, is dat spoorsnyers net die status van ongeskoolde werkers het en lae lone ontvang. Dit is onwaarskynlik dat dinge sal verbeter “solank as die jonger geslag, wat daarna streef om iets ‘beters’ te bereik as die mense wat ouer as hulle is, op spoorsnyers neersien”. Maar ervare spoorsnyers is onontbeerlik in die bekamping van wilddiefstal en die bestuur van wildreservate, en daarom “moet spoorsny as ’n gespesialiseerde beroep erken word”, sê mnr. Liebenberg. “Om ’n bedrewe spoorsnyer te wees, vereis ’n bogemiddelde intelligensie.”

Nooit te oud nie

Deesdae is Japan se twee gewildste voorbladnooiens Kin (wat “goud” beteken) Narita en Gin (“silwer”) Kanie. Die vernaamste rede vir hulle gewildheid is die feit dat hulle honderd jaar oud en ’n tweeling is. Hulle is gesond, op en wakker en vol grappies. Hulle is in September 1991 deur die burgemeester van Nagoya “ontdek” toe hy hulle op “Respek vir die bejaardes”-dag besoek het. Sedertdien het dié twee al dikwels op televisie sowel as in advertensies en tydskrifte verskyn. In Februarie het Kin en Gin ’n musiekloopbaan begin deur ’n laserskyfopname te maak. Hulle het daardie maand ook die inkomstebelastingkantoor besoek om vir die heel eerste keer ’n belastingopgawe in te dien. Die skielike sukses en rykdom laat hulle koud. Hulle sê die geld is vir hulle van geen nut nie en hulle skenk die meeste daarvan aan welsynsorganisasies.

Dogters is ongewens

In Indië gebruik vroue ultrasoniese tegnologie om te bepaal of hulle fetus manlik of vroulik is. As die fetus vroulik is, ondergaan hulle dikwels ’n aborsie. Dit het tot gevolg dat die verhoudingsgetal tussen die geslagte dramaties verander het. In die staat Haryana is daar byvoorbeeld slegs 874 vroue vir elke 1000 mans. ’n VN-verslag sê dat die “ongesonde verhoudingsgetal tussen die geslagte nie bestaan omdat daar minder dogtertjies gebore (of verwek) word nie, maar omdat minder toegelaat word om gebore te word of te bly lewe”. Dogters word as ’n las beskou. ’n Bruidskat moet gegee word wanneer ’n dogter trou en geskenke wanneer sy ’n kind het. Daar word feesgevier wanneer ’n seuntjie gebore word, maar nie wanneer ’n dogtertjie gebore word nie. ’n Man kan ’n vrou wat nie ’n manlike kind voortbring nie, verlaat of hy kan dalk selfs ’n tweede vrou neem. Die probleem kom ook voor onder Indiërs wat in ander lande woon. The Medical Post van Kanada het onlangs verslag gedoen oor ’n klagte dat “dokters van Brits-Columbië se Oos-Indiese Sikh-gemeenskap vroue help om aborsies te hê as hulle vasstel dat hulle fetus vroulik is sodat hulle weer kan probeer om ’n seuntjie te hê”. Aangesien die geslag van die fetus slegs ná 16 weke met sekerheid bepaal kan word, word manlike fetusse dikwels afgedryf. Die moeder word nooit daarvan vertel nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel