Waarom verduur Afrika soveel lyding?
JACOB, wat 42 jaar oud is, is ’n siek man. Hy het vigs. Hy het sy vrou ook met vigs besmet. “My vrou weet dat ek haar besmet het”, erken Jacob.
Maar hoe het Jacob die dodelike virus gekry? Hy verduidelik: “Ek het alleen in Harare gewoon en van Zambië af, deur Zimbabwe, al die pad na Botswana en Swaziland toe gery. My vrou en ons kinders het in Manicaland [in Zimbabwe] gewoon. En as bestuurders het ons dinge gedoen waaroor ons versigtiger moes gewees het.”
Die promiskue plaag
Dit is vandag hoofsaaklik promiskue seksuele gedrag wat vigs in Afrika laat versprei. Om dit eenvoudig te stel, “seksreëls geld in die meeste gevalle nie meer nie”, verduidelik vigs-navorser, Dawn Mokhobo. Die tydskrif African Affairs sê dat “daar in Afrika suid van die Sahara aansienlike waarde aan kinders maar weinig aan die huwelik geheg word. ’n Sekslewe buite die huwelik, selfs . . . as dit tot swangerskap lei, word nie sterk afgekeur nie.” Volgens die Nature begin die kenmerkende roete wat die infeksie volg met die prostituut. Die berig sê: “Vroulike prostitute dra die epidemie aan die meeste monogame vrouens oor deur kontak met die vrouens se promiskue mans.”
Min is bereid om hulle gedrag te verander. Die Panos Document oor vigs in Afrika vertel die volgende ondervinding van ’n mediese navorser in Zaïre: “Nadat ek en ’n paar Zaïrese mediese kollegas een aand op die platteland bloedtoetse gedoen het, het hulle saam met party van die plaaslike meisies gegaan. Hulle het by die meisies geslaap, en net een van hulle het ’n kondoom gebruik.” Toe hy hulle oor die risiko uitgevra het, “het hulle gelag en gesê dat jy nie kan ophou om die lewe te geniet net omdat jy ’n siekte kan kry nie”. Ja, baie beskou onverskillige seks as ’n manier “om die lewe te geniet”—as pret, vermaak.
Soos in baie ander dele van die wêreld is veral jongmense geneig tot promiskuïteit. ’n Opname wat onlangs onder 377 jongmense in Suid-Afrika gedoen is, het getoon dat meer as 75 persent van hulle al geslagsomgang gehad het. ’n Sendeling in Suid-Sentraal-Afrika het eweneens opgemerk dat daar “min meisies van 15 is wat nog nie swanger is nie”. Hy voeg by: “Jy sien ’n jong, ongetroude meisie en jy dink: ‘Volgende jaar hierdie tyd sal sy swanger wees.’”
Maar wat Afrika betref, is daar ander faktore wat vigs vinniger laat versprei.
Ontwrigte gesinne
“Solank groot getalle mans in hulle twintiger- en dertigerjare weg van hulle vrouens en gesinne af moet werk—of dit nou in stedelike fabrieke, myne, plantasies of op vragmotorroetes is—sal vigs meedoënloos versprei”, sê die tydskrif Africa South. Trekarbeiders in Afrika lei ’n moeilike lewe. Aangesien hulle weg van hulle vrou en gesin af is, sukkel baie om verblyf en werk in die stede te kry. Volgens die tydskrif African Affairs ervaar die trekarbeider “frustrasie en ’n gevoel van onbekwaamheid” weens die druk om hom en ’n gesin by die huis te onderhou. Die tydskrif voeg by dat dit die trekarbeider dikwels aanspoor om “sy verantwoordelikheidsbesef heeltemal oorboord te gooi”.
Vragmotorroetes is al veral uitgesonder as dodelike kanale waardeur vigs versprei. Soos een vragmotorbestuurder dit gestel het: “Ek moet seker maak dat ek, waar ek ook al gaan, ’n vriendin het om na my te kyk.” ’n Tipiese teelaarde vir vigs is ’n woongebied van ’n agterbuurt in Oos-Afrika waar 600 prostitute hulle beroep uitoefen. Baie van hulle klante is vragmotorbestuurders wat inloer vir wat hulle ’n teepouse noem. Daar is geskat dat meer as 80 persent van hierdie prostitute met HIV besmet is. Intussen gaan die besmette vragmotorbestuurders na hulle volgende “teepouse” en eindelik terug na hulle huise toe—terwyl hulle in die proses die dodelike siekte wat hulle dra, versprei.
Dan is daar burgeroorlog en politieke onmin—toestande wat miljoene vlugtelinge oplewer. “Waar daar politieke en burgeroorlog is”, sê vigs-deskundige Alan Whiteside, “gaan normale sosiale gedrag agteruit. . . . Vlugtelinge wat van plek tot plek gaan, besmet moontlik baie ander en sal waarskynlik ook meer seksmaats hê.”
’n Mediese ramp
Afrika, wat in geldnood verkeer, kan nie sy mediese probleme baasraak nie. “Die jaarlikse bedrag geld wat per persoon vir gesondheidsorg begroot word, is in baie Afrikalande minder as wat ’n enkele bloedtoets vir die vigs-virus kos”, verduidelik die brosjure Understanding & Preventing AIDS. Keith Edelston, skrywer van die boek AIDS—Countdown to Doomsday, verduidelik eweneens dat “selfs seep om toerusting te steriliseer of gewone huishoudelike ontsmettingsmiddels om gemors op te vee dikwels net nie beskikbaar is nie”.
Die gebruik in sommige Afrikalande om een spuitnaald vir baie pasiënte te gebruik, het Edelston laat waarsku: “Wees versigtig as jy inspuitings . . . in Afrika . . . nodig het. Dring aan op ’n nuwe spuit en naald wat, terwyl jy toekyk, uit ’n kiemvrye omhulsel gehaal word.”
Weens die gevaar van toevallige besmetting neem die aantal mediese beroepsmense kwaai af. Twee dokters wat aan ’n Suid-Afrikaanse hospitaal verbonde was, is deur ’n naald gekrap terwyl hulle vigs-pasiënte behandel het. Hulle is besmet en het gesterf. As gevolg daarvan het ses buitelandse dokters uit daardie hospitaal bedank.
Onder hierdie omstandighede verbaas dit ’n mens nie dat talle die gebruik heroorweeg om een van die venynigste verspreiders van vigs—bloed—oor te tap nie! “Besmette bloed bly ’n belangrike manier van verspreiding”, sê die South African Medical Journal, en dit voeg by dat “daar in Sentraal-Afrika steeds feitlik geen toetse is om dit in die bloed op te spoor nie en dat ten minste 60% van skenkers se bloed besmet is”.
Afrika, wat reeds deur baie tragedies geteister word, ly dus weer. En onder die tragiesste gevolge van die vigs-plaag in Afrika is dit wat met vroue en kinders gebeur.
Die onskuldiges wat ly
Lucy is ’n onskuldige vigs-slagoffer. Haar promiskue man het haar besmet. Lucy, wat op 23 ’n weduwee is, worstel nou met haar gevoelens. “Ek probeer nog rasionaliseer of ek die herinnering aan hom moet liefhê of hom moet haat omdat hy my besmet het”, sê sy. Lucy se gevoelens kenmerk die geweldige pyn en lyding wat vigs oor sy onskuldige slagoffers bring.
“Hoewel HIV naastenby ewe veel vroue as mans in ontwikkelende lande sal aantas”, sê die tydskrif The World Today, “sal die uitwerking daarvan op vroue waarskynlik . . . buite verhouding erg wees.” Dit is veral waar van Afrika waar vroue—wat erg benadeel word deur ongeletterdheid, armoede en die feit dat hulle mans trekarbeiders is—in stilte ly.
Maar vigs het sy tragiesste uitwerking op kinders. UNICEF (die Verenigde Nasies se Kinderfonds) skat dat aangesien 2,9 miljoen vroue in Afrika gedurende hierdie dekade aan vigs gaan sterf tot 5,5 miljoen kinders wees gelaat sal word. ’n Amptenaar van een land waarin daar ten minste 40 000 vigs-weeskinders is, sê dat daar reeds “dorpe is . . . wat slegs uit kinders bestaan”.
Besmette moeders met hulle besmette kinders is tipies van die dilemma. Die South African Medical Journal verduidelik dat “’n algemene vraag onder moeders van babas wie se bloed HIV-teenliggaampies bevat, is: ‘Wie sal eerste sterf?’”
Dit is geen wonder dat baie vroue voel hulle is weerloos teen vigs nie. ’n Zambiese dokter, M. Phiri, sê: “Die vroue kom hierheen en vra of daar iets is wat hulle kan drink om te voorkom dat hulle die siekte kry . . . Daar bestaan hierdie vrees dat terwyl hulle hulleself moontlik oppas hulle maat, hulle man, dalk nie so getrou is nie. Dit maak hulle bekommerd.”
Wat kan ’n getroude persoon dus doen indien hy of sy ontdek dat sy of haar maat promisku was? As die weg van vergifnis en huweliksversoening gevolg word, moet die skuldige maat instem om mediese toetse te ondergaan vir die moontlikheid dat hy HIV het. (Vergelyk Mattheüs 19:9; 1 Korinthiërs 7:1-5.) Huweliksmaats wat in so ’n situasie verkeer, kan besluit om, totdat die resultate bekend is, nie geslagsomgang te hê nie of ten minste beskermingsmaatreëls teen besmetting te tref.
Weens die lang inkubasietydperk van vigs moet jongmense wat aan trou dink ook versigtig wees voor hulle hulle verbind om met iemand te trou wat ’n sedelik twyfelagtige verlede het, selfs as hy of sy tans volgens Christelike standaarde lewe. Aangaande hierdie risikogroep stel ’n Tanzaniese vigs-deskundige, dr. S. M. Tibangayuka, voor dat jongmense die voorsorg moet tref om “voor hulle trou ’n toets vir HIV te ondergaan”.
Onskuldige slagoffers, wat huweliksmaats en kinders insluit, sal in werklikheid ly solank daar vigs in Afrika en, trouens, in die res van die wêreld is.
[Prent op bladsy 7]
Daar is baie redes waarom vigs so verskriklik onder mense in Afrika maai
[Erkenning]
WHO/E. Hooper