Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/22 bl. 15-17
  • Daardie verbasende buideldiere van Australië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daardie verbasende buideldiere van Australië
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Skouspelagtige geboorte
  • Die oulike koala—nog ’n verbasende buideldier
  • ’n Unieke verteringstelsel
  • ’n Buideldier wat spring-spring deur die lewe gaan
    Ontwaak!—2000
  • Bekoor deur die oulike koala
    Ontwaak!—1991
  • “Kangaroe-moedersorg”—’n Oplossing vir ’n lewensgevaarlike probleem?
    Ontwaak!—2002
  • Die bloekomboom—Hoe nuttig is hy?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/22 bl. 15-17

Daardie verbasende buideldiere van Australië

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

WAT is ’n buideldier presies en wat maak buideldiere so verbasend?

’n Buideldier is niks anders as ’n soort soogdier nie, dit wil sê ’n warmbloedige dier wat haar kleintjies met moedersmelk voed. Maar in teenstelling met die meeste soogdiere is daar nie ’n plasenta wat in ’n buideldier se baarmoeder vorm wanneer sy dragtig word nie. Hulle gee geboorte aan piepklein diertjies wat nog nie kan sien nie, en die kleintjies word dan in die uitwendige buidel gesoog en beskerm. ’n Buideldier is dus basies ’n soogdier met ’n buidel, want die Latynse woord marsupium beteken “buidel” of “sak”.

Die kangaroe is in werklikheid net een van omtrent 250 buideldierspesies. Daar is buideldiere in ander lande buiten Australië—maar nie baie nie. Die Noord-Amerikaanse opossum is byvoorbeeld ’n buideldier, en daar kom ander in Suid-Amerika voor. Maar verreweg die meeste van die wêreld se buideldiere kom in die omgewing van Australasië voor, waar daar al sowat 175 verskillende soorte uitgeken is. Daar is altesaam 45 kangaroespesies in Australië, maar die reuserooikangaroe is die bekendste. Hy is die grootste van alle buideldiere, weeg tot 90 kilogram en staan hoër as die meeste mans. Die wyfie is egter heelwat kleiner en is ’n blougrys kleur.

Kangaroes kan met een sprong tot 11 meter ver spring. Daar is vasgestel dat sommige teen ’n spoed van tot 64 kilometer per uur kan beweeg en oor heinings kan spring wat hoër as drie meter is. Hierdie reuserooikangaroe en die kleiner gryskangaroe kom in die meeste dele van die Australiese kontinent voor. Hulle is volop en is ’n opwindende gesig vir toeriste wat deur die halfbeboste gebiede en selfs deur die dorre woestyngebiede van Sentraal-Australië ry. Kangaroes is kuddediere en bly gewoonlik saam in groepe wat troppe genoem word.

’n Skouspelagtige geboorte

Die verbasendste aspek van ’n buideldier se lewe is waarskynlik die geboorte en versorging van die kleintjies. Kangaroes is tipies van die meeste buideldiere. Die klein kangaroetjie word maar 33 tot 38 dae ná paring gebore. Maar die nuwe kangaroetjie is in werklikheid nie veel meer as ’n embrio nie—’n piepklein boontjievormige skepseltjie wat omtrent 0,75 gram weeg, kleiner as die boonste lid van jou pinkie is en amper deurskynend is.

Onmiddellik nadat hy gebore is, “klim” hy uit sy moeder se uterus tot in haar pels. Dan gebruik hy sy klein voorpootjies, wat met kloue toegerus is, en klouter 15 sentimeter tot by sy moeder se buidel. Daar heg hy hom aan een van vier tepels, en dit swel dan in sy mond op. Hy kry al die voeding wat hy nodig het deur hierdie lewensaar, en hy bly die volgende vyf maande in hierdie gemaklike kinderkamer voordat hy sy kop vir die eerste keer uitsteek.

Op ongeveer ses maande waag die klein kangaroetjie dit vir die eerste keer na buite, maar hy keer dikwels terug na die buidel vir voeding en beskerming. Maar uiteindelik besluit die kangaroetjie se moeder dat hy te groot vir die buidel is, en sy keer dan dat hy weer in die buidel inspring. Wanneer hy 18 maande oud is, is hy heeltemal onafhanklik van sy moeder.

Nog ’n verbasende verskynsel is die feit dat die kangaroewyfie tegelykertyd twee soorte melk kan voortbring. Kort ná die geboorte van die eerste kangaroetjie paar sy weer. Die nuwe embrio gaan ’n rustydperk deur totdat die eerste kangaroetjie die buidel vir kort rukkies begin verlaat. Dan word die tweede kangaroetjie as ’n piepklein skepseltjie gebore en heg hom aan ’n ander tepel in die buidel.

Maar sy ouer broer drink nog steeds melk aan sy oorspronklike tepel. Om sake verder te kompliseer, het die nuwe embrioagtige kangaroetjie ’n ander melkformule nodig. Dit is egter nie ’n probleem nie, want sy moeder kan nou uit die tepel waaraan hy drink vir hom melk produseer wat ryk aan suiker is, terwyl sy steeds uit die tepel waaraan sy ouer broer drink vir hom melk produseer wat ryk aan proteïene en vette is!

Hoewel kangaroes nie normaalweg aggressiewe diere is nie, neem die mannetjies soms deel aan iets wat soos ’n boksgeveg lyk. Dit is dikwels maar net twee jonger mannetjies wat hulle krag op die proef stel. Op ander tye veg twee volwasse mannetjies met hulle voorpote—en boks mekaar in werklikheid oor ’n gekose wyfie! Hierdie gevegte kan baie ernstig wees, aangesien mededingende vryers mekaar met hulle voorpote kap en hard en wild met hulle agterpote skop.

Die oulike koala—nog ’n verbasende buideldier

Die koala wat feitlik net so bekend soos die kangaroe is en net so dikwels op toeristebrosjures oor Australië verskyn, is die oulikste van alle buideldiere. Hierdie diertjie is uitsluitlik ’n boombewoner en beweeg hoofsaaklik snags rond. Hy word dikwels vanweë sy voorkoms met ’n beer verwar, en daarom word hy soms verkeerdelik ’n koalabeer genoem. Maar hy is nie eers verlangs aan die beerfamilie verwant nie en is ook nie ’n soort opossum of aap nie. Hy is waarlik uniek. Ja, daar is net een koalaspesie en hy word slegs in die oostelike state van Australië aangetref.

Die koala, met sy sagte, troetelbare voorkoms, helder, ronde oë, sagte, rubberagtige neus en feitlik permanent bekommerde uitdrukking is altyd vir mense bekoorlik. Koalas is nie groot diere nie en hulle word sowat 60 sentimeter hoog en weeg tussen 8 en 14 kilogram.

Die klein koalatjie word op dieselfde wyse as die meeste buideldiere gebore, behalwe dat die opening van die moeder se buidel na agter toe wys. Die pasgebore koalatjie bly ses maande lank in die buidel, en wanneer hy dit uiteindelik na buite waag, klou hy aan sy moeder se rug vas terwyl sy bedrywig in die bome rondklouter op soek na smaaklike blare.

’n Unieke verteringstelsel

Koalas is kieskeurig wat kos betref. Hulle eet net die blare van die bloekomboom. En nie sommer enige blaar is goed genoeg nie. Koalas eet slegs die blare van 50 of 60 van die 600 verskillende bloekomboomspesies wat bestaan. As ander diere hierdie blare sou eet, sou hulle heel waarskynlik sterf weens die olie en die giftige chemiese stowwe wat die blare bevat. ’n Hoogs ingewikkelde verteringstelsel stel die koalas in staat om hulle spesiale voedsel te verteer, maar so ’n unieke dieet is geneig om hulle nogal ’n besondere liggaamsreuk te gee!

Sommige kenners beweer dat koalas glad nie water drink nie, en die woord “koala” kom blykbaar uit die Australiese inboorlingtaal en beteken “ek drink nie”. Tog het noukeurige waarneming aan die lig gebring dat koalas wel af en toe uit hulle bome kom om te drink, en hulle eet soms selfs ’n bietjie grond om hulle dieet, wat ’n tekort aan minerale het, aan te vul.

Hoewel kangaroes in ’n hele aantal dieretuine wêreldwyd te sien is, is daar baie min koalas in dieretuine buite Australië. Maar of jy nou ooit die geleentheid sal hê om hulle self te sien of nie, ons is seker jy sal saamstem dat hulle—hierdie soogdiere met buidels en geen plasentas nie—waarlik verbasende diere is.

[Prent op bladsy 16]

Kangaroewyfie met baba in die buidel

[Prent op bladsy 17]

Koala wat bloekomblare eet

[Erkenning]

Melbourne Zoo Education Service, Victoria, Australia

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel