Die bloekomboom—Hoe nuttig is hy?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
PARTY is reuse—meer as 90 meter hoog—en is van die hoogste bome in die wêreld. Ander is kort en krom, en staan laag gebuig oor die verskroeide aarde. Hulle blare is wonderlik ontwerp, en hulle bloeisels is ’n lus vir die oë. Jy het waarskynlik al self op die een of ander manier iets van hierdie boom gebruik.
’n Paar het beskrywende name, soos die Alpynse essehout en die Tasmaniese eikeboom, maar die meeste staan net bekend as die gewone bloekomboom, hoewel hulle ook gombome genoem word. Regte gom is egter tegnies gesproke ’n wateroplosbare stof wat uit koolhidrate bestaan, en geen bloekomboom vervaardig dit nie. Die naam gomboom is dus eintlik ’n verkeerde benaming. Die bome word meer akkuraat geïdentifiseer as die genus Eucalyptus, en daar is meer as 600 soorte in hierdie familie wat hulle oorsprong in Australië het.
Bloekombome floreer in die tropiese hitte van die Australiese Noordelike Gebied sowel as in die dorre vlaktes van die Agterveld. Maar hulle floreer ook in die Antarktiese winde van suidelike Tasmanië en die mistige toestande van die kusbergreekse. Hulle is so volop dat een 19de-eeuse ontdekkingsreisiger en dierkundige gekla het: “Ons kan nooit die einde van die bloekombome sien nie: myl na myl is daar hoegenaamd nie die geringste verandering in die landskap nie.”
Sedert die Europese setlaars in die 19de eeu na Australië gestroom het, het die aantal bloekombome drasties verminder. Na raming is 300 000 vierkante kilometer van hierdie bome uitgehaal omdat die bome glo vooruitgang sou verhinder. Maar nie almal het so min agting vir hierdie kosbare hulpbron getoon nie. Gedurende die 19de eeu het die bloekomfamilie die wêreld begin oorneem.
’n Keiser en ’n dokter
In die 1880’s het keiser Menelik II van Abessinië, nou Etiopië, skadubome en ’n beskikbare bron van vuurmaakhout nodig gehad vir sy kaal, nuwe hoofstad, Addis Ababa. Nie een van Afrika se inheemse bome was geskik vir hierdie ontboste gebied nie. Die keiser se deskundiges het derhalwe êrens anders gaan soek om ’n boom te kry wat floreer onder ’n skroeiende son wat ten minste net so genadeloos soos hulle s’n is. “Addis Ababa” beteken “Nuwe Blom”, en hierdie naam is dalk ter ere van die bloekomboom gegee, ’n nuttige invoerproduk wat ’n groot rol in Etiopië se ekonomie speel.
Iemand anders wat tot die hedendaagse verspreiding van die bloekomboom bygedra het, is dr. Edmundo Navarro de Andrade. Omdat hy vasbeslote was om weer bome in die vinnig verdwynende woude van Brasilië aan te plant, het hy in 1910 bloekombome van Australië af begin invoer. Weens sy pogings is 38 miljoen van hulle geplant. Vandag is daar meer as tweemiljard aangeplante bloekombome in Brasilië.
Buiten Brasilië se inheemse reënwoude, maak die land dus aanspraak op die grootste aantal bloekombome buite Australië. Brasilië se ekonomie het soveel baat hierby gevind dat dr. Navarro ’n spesiale medalje vir uitnemende diens ontvang het omdat hy hierdie waardevolle bate aan sy land bekend gestel het.
’n Boom van die lewe
Sommige bloekombome, soos die mallee-bloekom, kan goed in die gebarste droë aarde bestaan deur groot hoeveelhede water in hulle wortels te berg. Australiese Aborigines en vroeë ontdekkingsreisigers het in die dorre Agterveld oorleef deur hierdie ondergrondse waterbottels te benut. Lengtes van die oppervlakwortels is uitgegrawe en in kort stukke gebreek. Wanneer lug aan die eenkant van ’n stuk wortel ingeblaas word, kan ’n ligbruin vloeistof daaruit verkry word. Hoewel dit nou nie die lekkerste drankie is nie, word daar geraam dat 1,5 liter van hierdie lewensreddende vloeistof uit ’n nege meter lange wortel verkry kan word.
Ander lede van die familie floreer in moerasagtige toestande en suig water gulsig uit nat grond op. Weens hierdie eienskap het die Italianers bloekombome gebruik wat in moerasagtige gebiede floreer om die Pontynse moerasse te laat opdroog wat eens van die muskiete gewemel het. Hierdie gebied is nou in waardevolle landbougrond omskep.
Meer as 50 lande regoor Afrika, die Amerikas, Asië en Europa het bloekombome ingevoer weens hulle kommersiële en estetiese waarde. Meubelmakers stel hulle helderrooi en goudkleurige hout hoog op prys. Een kenner sê: “Die bloekomboom lewer van die swaarste, hardste en duursaamste hout wat aan ons bekend is. Die houtgehalte, tesame met die vinnige groeitempo . . . , maak hierdie genus die waardevolste bron van hardehout in die wêreld.”
Waterdigte variëteite van die boom word gebruik vir skepe, hawehoofde, telefoonpale, heinings en plaveiblokke. Daarbenewens lewer pragtige bloekombloeisels van die geelkis- en ysterbasbome soet nektar, wat deur bye in ’n besonderse heerlike heuning omskep word. In onlangse jare is 4,5 miljoen ton bloekomhoutspaanders van Australië af uitgevoer, met ’n jaarlikse inkomste van eenmiljard rand.
Kino, olie en tannien
’n Bloedrooi, gomagtige stof wat kino genoem word, drup van die bas en hout van die bloekomboom. Sekere soorte kino word gebruik om hout teen skeepswurms te beskerm. Kino word ook gebruik in die vervaardiging van ’n geneesmiddel wat help om bloeding te stop. Die bas van ander spesies lewer tannien, wat gebruik word om leer te looi en kledingstowwe te kleur.
Die blare is wonderlik ontwerp en ’n reserwe van waardevolle olie. Hulle hang soos lustelose vingers aan ’n slap hand, met hulle punt wat na die basis van die boom wys. Hierdie ontwerp help die blare om soos ’n groot tregter op te tree. Kosbare vog versamel op die blaaroppervlak, en dan drup dit van die leeragtige punte na die wagtende wortelstelsel.
Bloekomolie, wat ’n sterk, verfrissende geur het, word van die blaar verkry deur ’n stoom- en distilleerproses. Dit word byvoorbeeld oor die algemeen gebruik in parfuum, seep, medisyne, lekkergoed en skoonmaakmiddels. In sy natuurlike omgewing verdamp die olie van die blaar af en vul dit die lug met klein druppeltjies wat die sonlig weerkaats en die bloekomwoud ’n kenmerkende blou kleur gee. Die Blue Mountains, wat die westelike eindpunt van die stad Sydney vorm, is weens hierdie verskynsel hulle buitengewone naam gegee.
Die tuiste van ’n paar kieskeurige eters
Die beroemdste inwoner van die bloekomwoud is die oulike bolletjie pels wat as die koalabeer bekend staan. Hierdie kieskeurige planteter verkies om die punte van om en by 12 soorte bloekomblare te eet. Hierdie kieskeurige dieet sou dodelik wees vir die meeste diere, maar nie vir die koalabeer nie. Waarom nie?
Dit is weens die koalabeer se spesiaal ontwerpte spysverteringstelsel, wat ’n blindederm van een tot twee meter insluit. In vergelyking hiermee is ’n mens se blindederm net 8 tot 15 sentimeter lank. Die koalabeer se unieke blindederm stel die diertjie in staat om al die proteïene, koolhidrate en vet wat hy nodig het, uit hierdie dieet te kry.
’n Minder bekende Australiese inwoner wat soos die koalabeer ’n streng dieet van bloekomblare het, is die grootste van die swewende buidelrotte. Hierdie harige buideldier is ongeveer die grootte van ’n huiskat. Hy het ’n wollerige stert van byna 40 sentimeter en ’n vlies wat tussen sy voor- en agterpote strek. Deur van hierdie vlesige vlerke gebruik te maak, kan ’n buidelrot van ’n tak af spring, tot 100 meter ver sweef, 90 grade draai terwyl hy vlieg en dan die volgende tak veilig vasgryp.
Bosbrande en nuwe groei
Bosbrande, soos hulle in Australië bekend staan, is ’n bedreiging vir die bloekomwoude. Die bome is nogtans so ontwerp dat hulle die brande oorleef. Hoe so?
Wel, net onder die boom se bas, al met sy stam en takke langs, lê rustende blaarknoppies. Wanneer die boom se bas en blare deur vuur afgestroop word, begin hierdie knoppies groei. Hulle bedek die swart boomstam met ’n laag vars, groen blare. As gevolg hiervan is die moederboom in staat om aan te hou lewe. Bowendien begin die boom se sade wat rustend op die grond lê dikwels om te ontkiem, wat tot nuwe groei lei.
’n Boom wat waardeer moet word
Het jy al jou keel gestreel met ’n geneesmiddel wat bloekomekstrak in het of ’n lekker gesuig wat van bloekomheuning gemaak is? Is jy al deur ’n boot vervoer wat van die boom se hout gemaak is, of het jy al in ’n huis gebly wat daarvan gemaak is of is jy al deur die hout van ’n bloekomboom warm gemaak? Jy het moontlik al op die een of ander manier by hierdie merkwaardige boom baat gevind. As jy dus volgende keer ’n wollerige koalabeer sien—of die foto van een bewonder—mag dit jou herinner aan die wonderlike ontwerp van die boom wat die koalabeer sy tuiste noem.
Die veelsydige, geharde bloekom is voorwaar ’n boom met baie gebruike.
[Prente op bladsy 16, 17]
Bloekombome is van die hoogste bome in die wêreld
[Prent op bladsy 17]
Bye gebruik bloekomnektar om die lekkerste heuning te maak
[Prent op bladsy 18]
Bloekombome “lewer van die swaarste, hardste en duursaamste hout”
[Prente op bladsy 18]
Koalabere (links) en die swewende buidelrot (bo) leef van bloekomblare
[Erkenning]
© Alan Root/Okapia/PR
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Geoff Law/The Wilderness Society
[Foto-erkenning op bladsy 17]
Courtesy of the Mount Annan Botanic Gardens