Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 12/8 bl. 14-16
  • Bekoor deur die oulike koala

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bekoor deur die oulike koala
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie werklik ’n beertjie nie
  • ’n Blaardieet
  • Kan hulle mak gemaak word?
  • Afgemaai, maar nou beskerm
  • Sal die oulike koala oorleef?
  • Daardie verbasende buideldiere van Australië
    Ontwaak!—1992
  • Die bloekomboom—Hoe nuttig is hy?
    Ontwaak!—2001
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1990
  • Kougomkouery—’n hedendaagse dog ou gewoonte
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 12/8 bl. 14-16

Bekoor deur die oulike koala

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

IN VROEËR tye was die ontdekking van interessante en buitengewone diere een van die aangenaamste verrassings in vreemde, onbekende lande. Ná die jaar 1788 was dit beslis in Australië die geval.

Destyds is gevangenes wat van Engeland na Australië gebring is in strafkolonies rondom Port Jackson (nou Sydney) gevestig. Tien jaar later het ’n gevangene wat vrygelaat is ’n ontdekkingsreisiger geword en op ’n reis na die suidelike hooglande, 130 kilometer die binneland in, vertrek. Hy is aangenaam verras toe hy die Australiese koala vir die eerste keer gesien het. Hy het geskryf die koala is ’n “ander dier wat die inboorlinge ‘cullawine’ noem, en dat hy baie lyk na die luidiere in Amerika”.

Wil jy hierdie bekoorlike, wollerige bondeltjie van naderby beskou, ’n diertjie wat tweehonderd jaar later só ’n groot attraksie geword het vir toeriste na die sondeurdrenkte Australië? Jy sal ongetwyfeld graag wil, want die meeste besoekers aan Australië wil eerstens graag ’n kangaroe sien, en dan sê hulle: “Ek moet een van julle oulike teddiebeertjies sien en vashou.”

Nie werklik ’n beertjie nie

Die koala is ongetwyfeld ’n oulike diertjie. Hy word slegs sowat 80 sentimeter lank en lyk werklik soos ’n teddiebeertjie, met ’n knopiesneus en ’n sagte, pragtige pels. Maar jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat hy glad nie ’n lid van die beerfamilie is nie.

O ja, hy word dikwels ’n koala-beer of inheemse Australiese beer genoem. Maar dit is almal foutiewe name. Die koala is nie lid van die beerfamilie nie, hy lyk eerder na ’n wombat, ’n ander Australiese buideldier wat soos ’n bewer lyk.

The Australian Encyclopaedia skilder ’n betowerende prentjie van hierdie bekoorlike en oulike diertjie: “Die koala het ’n stewige liggaam, ’n dik wollerige pels wat grys tot bruinerig aan die bokant en geelwit aan die onderkant is, groot ronde, wollerige ore en ’n lang, leeragtige, amper slurpagtige neus . . . Die diere klim baie rats, maar is lomp op die grond.”

Wanneer hulle volgroeid is, weeg koalas omtrent 14 kilogram. Hulle kan tot 20 jaar in die natuur leef. Party het al tot 12 jaar in gevangenskap geleef.

Die koala is ’n buideldier, soos die Australiese kangaroe, en het ’n geboorteproses wat eie aan buideldiere is. Wanneer hy gebore word, is die piepklein koalababa nog nie ten volle ontwikkel nie, en hy vind sy weg self na die moeder se sakkie, waar hy hom aan een van haar twee tepels heg.

Ses maande later is die kleintjie ten volle ontwikkel en kan hy die sakkie vir kort rukkies verlaat. Maar ná nog sowat twee maande is hy eenvoudig te groot om weer terug te klim. Wat nou gedoen? Dit is nie werklik ’n probleem nie! Hy ry op sy moeder se rug en klou asof sy lewe daarvan afhang terwyl sy in die bome rondklouter.

Hierdie gratis geabbary kan egter nie vir altyd voortduur nie, en ná omtrent nog vyf of ses maande moet die kleinding alleen klaarkom. Maar vir hierdie kort rukkie is dit ’n genotvolle gesig om te sien hoe die mamma-koala heel tevrede haar baba ronddra, wat aan haar wollerige rug klou. Nadat hy sy moeder verlaat het, voer die jong koala ’n redelike afgesonderde bestaan en kom net tydens paring met ander koalas in aanraking.

’n Blaardieet

Die naam koala is ontleen aan ’n inboorlingwoord wat te kenne gee dat die diertjie baie min drink. Maar hoe kan hulle sonder water leef? Deur dou in te neem en deur die vog in die bloekomblare wat hulle eet.

Bloekomblare? Ja, koalas eet die blare van sowat 50 verskillende eukaliptusbome, maar minder as ’n dosyn daarvan is hulle gunsteling. Eukaliptusbome is hier algemener bekend as bloekombome, soos die rooibloekom, grysbloekom en Tasmaanse bloekom.

’n Volgroeide koala eet ’n daaglikse kwota van nagenoeg een kilogram blare, en kou die blare stadig maar deeglik. Hulle bring die meeste van hulle tyd hoog in bloekombome deur, en kom net af om in ’n ander boom te klim. Op die grond beweeg hulle swaar en lomp.

Aangesien hulle nagdiere is, slaap hulle die grootste deel van die dag, terwyl hulle hoog bo die grond in die mik van ’n boom sit. Ongemaklik? Hulle dink blykbaar nie so nie, en die plek bied uitstekende beskerming teen enige potensiële roofdiere.

Kan hulle mak gemaak word?

As ’n mens hulle kry wanneer hulle baie jonk is, kan koalas mak gemaak word en word hulle liefdevolle troeteldiere. ’n Egpaar in Noord-Queensland het so ’n troeteldiertjie grootgemaak vandat sy drie maande oud was. Hierdie klein “welpie” het elke nag gehuil totdat sy getroos is deur ’n stukkie koala-pels wat om ’n kussing vasgemaak en langs haar in haar mandjie gesit is as ’n plaasvervanger vir haar ma. Hulle het haar Teddie genoem, en totdat sy groot genoeg was om bloekomblare te begin eet, het sy op koeimelk gedy, wat sy soos ’n katjie opgelek het.

Die probleem met Teddie was dat sy só gewoond geraak het aan mense dat sy niks daarvan gehou het om alleen te wees nie, en sy het daarvan gehou om soos ’n kind rondgedra te word. Ja, sy was nogal ’n laspos. Sy het in hierdie lekker lewe 12 jaar oud geword. Ja, koalas kan dus mak gemaak word, maar dit is nou onwettig om hulle in Australië as troeteldiere aan te hou.

Afgemaai, maar nou beskerm

Aan die begin van die eeu was koalas so volop dat daar volgens berigte miljoene op die vasteland was. Maar hulle was sulke maklike prooi, omdat hulle gedurende die dag in die mikke van bloekombome geslaap het, dat duisende net vir die pret geskiet is.

En toe daar ’n aanvraag na hulle sagte, silwergrys pels ontstaan, het die slagting met mening begin. In 1908 is daar byvoorbeeld amper 60 000 koala-pelse in Sydney alleen verkoop. En in 1924 het die oostelike state van Australië meer as tweemiljoen pelse uitgevoer.

Gelukkig het die Australiese regering besef dat die gevaar bestaan dat hierdie troetelbare diertjie kan uitsterf, en in 1933 is ’n wet uitgevaardig wat die uitvoer van koalas en koala-produkte verbied. Die koala is nou ’n beskermde dier.

Ander lande het probeer om koalas in hulle dieretuine aan te hou, maar met min sukses. Die gespesialiseerde dieet van bloekomblare is moeilik om te voorsien. Die Amerikaanse staat Kalifornië het egter sukses behaal, grootliks omdat die klimaat geskik is vir die kweek van bloekombome. Nou het dieretuine in San Diego en Los Angeles gesonde, florerende koala-bevolkings. In onlangse jare is koalas na Japan gestuur waar noukeurige studiemetodes gebruik word om seker te maak dat hulle gesond bly.—Sien die Ontwaak! van 22 Augustus 1986.

Sal die oulike koala oorleef?

Dit lyk asof ’n verstandige benadering om onbesonne slagting te verhoed sy kanse vir oorlewing kan verbeter. Skrywer Ellis Troughton het sy boek Furred Animals of Australia met hierdie hoopvolle wens afgesluit: “Die bekoorlike koala is oral heeltemal skadeloos. Hoe wonderlik sou dit vir ons almal wees as hulle so volop was dat hulle by plaashuise en woonbuurte aangetref kon word soos dikwels die geval met buidelrotte is! Kom ons hoop dat hulle getalle wonderdadig sal toeneem sodat hulle rustig in beskutte woudreservate kan woon.”

Diereliefhebbers wêreldwyd beaam hierdie edele wens, nie net vir die oulike koala nie, maar vir al die pragtige diere wat saam met ons op die planeet Aarde woon en wat hier geplaas is vir ons genot en plesier.

[Prent op bladsy 16]

’n Volgroeide koala eet omtrent een kilogram bloekomblare per dag en kou hulle stadig maar deeglik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel