Hoe erg is vigs in Afrika?
Deur Ontwaak!-medewerker in Afrika
JY HET waarskynlik die voorspellings gehoor. Hulle was skrikwekkend. Miljoene op die vasteland van Afrika gaan vigs kry. Die mens se immuunstelsel sal ineenstort en die natuurlike weerstand van die liggaam aan ’n aanval deur verskriklike siektes blootstel. Soos dit die geval was met die builepes wat in die 14de eeu in Europa uitgebreek het, sal dit ongeëwenaarde sterftes en vernietiging meebring.
Toe was daar ’n ruk lank min nuus oor vigs. Die media het niks meer te sê gehad nie, en die publiek was moeg vir die sensasionele voorspellings van onheil. Sou dit werklik so erg wees? Wat presies is die ware omvang van die vigs-epidemie in Afrika?
“Niemand weet wat die syfers in die toekoms gaan wees nie”, sê vigs-navorser, dr. Andre Spier. Maar hy is nie optimisties nie. “Dit sal ’n baie groot getal wees en dit sal baie verwoestend vir die hele samelewing wees.” Dr. Lars Kallings het eweneens in 1988 by ’n internasionale vigs-konferensie in Stockholm, Swede, voorspel dat daar “ontsettend baie mense binne slegs ’n paar jaar . . . aan vigs sal sterf”.
Meer as “’n paar jaar” het sedert daardie voorspelling verloop. Baie van die voorspellings kom nou onheilspellend akkuraat uit. Dit wat bloot syfers was, het nou die werklikheid geword. En die ergste kom nog.
Die dooies en die sterwendes
’n Weg van dood en verwoesting word deur baie dele van Afrika suid van die Sahara gebaan. “In sekere stedelike sentrums”, sê ’n onlangse berig in die wetenskaplike tydskrif Nature, “is vigs nou die vernaamste oorsaak van sterftes onder volwassenes en ’n belangrike oorsaak van kindersterftes.” Die priesters in een stad in Afrika verkeer onder druk weens al die vigs-verwante begrafnisdienste wat hulle moet lei.
Die hoofde van die Statebondsregerings wat in Harare, Zimbabwe, vergader het, het in Oktober 1991 ’n onheilspellende memorandum oor vigs in Afrika ontvang. Dit het aan die lig gebring dat tussen 50 en 80 persent van alle hospitaalbeddens in sommige Afrikalande tans deur vigs-pasiënte beset word. Vigs-spesialis, dr. Stan Houston, het oor Uganda, wat swaar getref is, gesê dat vigs reeds meer mense in Uganda doodgemaak het as wat gedurende die laaste 15 jaar van burgeroorlog in daardie land doodgemaak is.
Die bevindinge van dokters en wetenskaplikes in Abidjan, Côte d’Ivoire, is net so verontrustend. Gedurende ’n tydperk van etlike maande is al die lyke in die twee grootste lykshuise in die stad ondersoek. Die resultaat? Die tydskrif Science, waarin die berig verskyn het, het gesê dat daar gevind is dat vigs “die vernaamste doodsoorsaak” onder volwasse mans in Abidjan is. Die tydskrif voeg by dat die statistiek wat verstrek is “die werklike dodetal weens HIV[menslike immuungebreksvirus]-infeksie waarskynlik te laag skat”.
Selfs die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie), wat die wêreldwye verspreiding van die siekte monitor, stem saam dat dít net die punt van die ysberg is. Volgens die tydskrif New Scientist is die WGO “oortuig dat baie lande in Oos- en Sentraal-Afrika slegs ongeveer ’n tiende van die vigs-gevalle aanmeld . . . Aanmelding is onvolledig en onakkuraat weens gebrekkige toesig daaroor.”
’n Sluimerende infeksie
Een van die dinge wat vigs so erg maak, is die feit dat ’n mens so lank daarmee besmet kan wees voordat al die werklike fisiese vigs-simptome te voorskyn kom. Die besmette draer kan die dodelike HIV tot tien jaar lank in sy liggaam hê. Hy lyk en voel moontlik gesond. Tensy die slagoffer vir die siekte getoets is, sal hy nooit weet dat ’n dodelike siekte in hom sluimer nie—totdat hy die simptome begin kry! Dit is hierdie oënskynlik gesonde, en tog besmette, deel van die bevolking wat vigs onwetend versprei.
Toetse vir HIV-infeksievlakke toon hoe vinnig die dodelike plaag tans deur Afrika versprei. Die tydskrif African Affairs toon byvoorbeeld dat “’n hoë [HIV-]voorkomssyfer vir die digbevolkte gebied langs die Victoria-meer . . . aangemeld word . . . , wat wissel van 10 tot 18 persent vir volwassenes wat as ’n lae of gemiddelde risikogroep beskou word en tot 67 persent vir diegene wat baie seksmaats het”. Die tydskrif Nature het eweneens geskat dat die “infeksie sedert 1984 stelselmatig onder volwasse inwoners in die algemeen versprei het en 20-30% bereik het in die stedelike sentrums wat die ergste geteister word”. Stel jou voor—binne tien jaar is bykans ’n derde van die volwasse bevolking ’n doodsvonnis opgelê!
Regerings en leiers wat vroeër huiwerig was om die omvang van vigs bekend te maak, begin nou ten volle besef hoe erg die epidemie is. ’n Gewese president in Afrika het begin om die stryd teen vigs te steun—nadat sy eie seun daaraan gesterf het. ’n Ander staatshoof het onlangs gewaarsku dat daar 500 000 HIV-besmette mense in sy land is. Die meeste van hulle het nie geweet dat hulle dodelik siek is en die plaag deur hulle onsedelike gedrag versprei nie.
“Vertel hulle wat hier gebeur het”
Namate die persentasie HIV-besmette persone stelselmatig toeneem, sal die aantal wat uiteindelik baie siek word en sterf opvallend toeneem. Dit sal ongekende smart en lyding tot gevolg hê. Dit is wat 59-jarige Khamlua op die vigs-geteisterde grens tussen Uganda en Tanzanië ervaar het. Sedert 1987 het Khamlua 11 van sy kinders en kleinkinders begrawe—almal vigs-slagoffers. “Neem my klagtes deur die wêreld heen”, roep hy uit, verpletter deur die ramp. “Vertel hulle wat hier gebeur het.”
Wat Khamlua in Afrika oorgekom het, dreig om in baie ander dele van die wêreld te gebeur, juis weens die maniere waarop vigs versprei word. ‘Maar’, vra jy dalk, ‘waarom moet Afrika soveel mense-ellende en lyding deurmaak?’
[Lokteks op bladsy 3]
“Teen 1993 sal vigs die grootste enkele doodsoorsaak” in sommige ontwikkelende lande wees—The World Today, Engeland