Die snoesige koeskoes
Deur Ontwaak!-medewerker in Papoea-Nieu-Guinee
VERBAAS dat die aandag op hom gevestig is, het die snoesige diertjie ons in alle onskuld met sy groot, blink oë aangestaar. Sy ronde gesig is deur ’n prominente snoet oorheers en sy ore was amper in die pels versteek. Hierdie eienaardige bol geelwit pels met ’n lang, haarlose stert was ’n koeskoes.
Toe ons vorentoe beur om hom beter te bekyk, het hy hoër in die bome opgeklim deur die takke met al vier pote, en af en toe met sy stert, te gryp en hoog in afsondering te gaan sit—heel ongelukkig met die lewe.
Die koala se neef
Die koeskoes is een van daardie ongewone diere wat net op die eiland Nieu-Guinee, in Noord-Australië en op die nabygeleë eilande aangetref word. Hoewel hy nie so welbekend as sy beroemde neef, die koala, is nie, is daar baie ooreenkomste.
Die koeskoes is, soos die koala, ’n buideldier, wat beteken dat die kleintjies na geboorte—in werpsels van twee tot vier—in ’n buidel gedra en gesoog word. Die koeskoes is ook ’n skugter en stadige boombewoner. Sy daaglikse roetine bestaan uit slaap, slaap en nog slaap. Hoog in ’n boom, waar hy stewig in ’n mik sit, met sy pienk stert wat soos ’n omgekeerde vraagteken afhang, bring hy die dag deur, onbewus van die gewoel daaronder. Hy is ’n nagdier en raak dus snags meer bedrywig.
In sy natuurlike habitat lewe die koeskoes hoofsaaklik van boomblare, botsels en vrugte met ’n sagte skil, asook voëltjies en insekte. Sy wetenskaplike naam, Phalanger, beteken “vingeragtige”. Ons het gesien hoe een koeskoes op sy breë agterstewe sit en ewe kieskeurig ’n piesang skil en dit lek, baie soos ons ’n roomyshorinkie eet.
’n Aanloklike troeteldier
Dalk omdat hy so ’n gedwee geaardheid het, is die koeskoes baie gewild as ’n troeteldier. En sy aantrekkingskrag is onmiskenbaar. Eerstens is hy kleurryk. Die pels self wissel van geelwit, rooibruin of skakerings van grys tot byna heeltemal swart. Party is gespikkeld, terwyl ander ’n donker streep het wat teen die rug afloop. Sy wollerige, geronde gelaatstrekke, sy voortdurende en nuuskierige getuur, sy stadige en doelbewuste bewegings—dit alles maak die koeskoes ’n aanloklike troeteldier.
As jy versigtig is vir sy kloue kan jy die koeskoes selfs soos ’n kat troetel. Die koeskoes word tot omtrent 60 sentimeter lank, en dit sluit nie sy stert in nie, wat ’n verdere 30 sentimeter of so lank is. Die punt van die stert is haarloos en is met growwe skubbe bedek, wat dit soos fyn skuurpapier laat lyk en voel—dit help hom om vas te gryp aan dinge.
Een het ons vermaak toe hy ons gewys het hoe om ’n mielie te eet. Hy het die mielie in albei pote vasgehou en dit al langs die een ry pitte gekou, en voordat hy met die volgende ry begin het, het hy noukeurig gesnuffel aan die ry wat hy pas geëet het om seker te maak dat hy nie ’n pit oorgeslaan het nie. Toe hy klaar was, het hy sy pote skoongelek en hom op ’n boomtak uitgestrek, vet en tevrede.
Die koeskoes het min vyande buiten die mens. Die boorlinge vang die diertjie vir vleis en gebruik sy pragtige pels vir skouermantels en musse. Vandag gee die mens se indringing in die koeskoes se natuurlike habitat, die reënwoud, deur middel van grondontwikkeling, mynbou, toerisme, ensovoorts, sy voortbestaan ’n verwoestende knou. Dit is nog ’n geval waar die mens verwoes wat God hom toevertrou het.—Genesis 1:26; Openbaring 11:18.