Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/22 bl. 20-23
  • Ek het my belofte nagekom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het my belofte nagekom
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Toevallige ontmoeting
  • Omstandighede verander
  • Ek lê ’n belofte af
  • Ek word gehelp om my belofte na te kom
  • Ons onderrig ons kinders
  • Persoonlike seëninge
  • Hoe om een van God se kinders te word God se kinders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Jehovah het my vasberadenheid geseën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Elf weeskinders—Hoe sou ons die mas opkom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/22 bl. 20-23

Ek het my belofte nagekom

EK IS in 1930 tydens ’n partytjie op Karnavalsondag in Rio de Janeiro, Brasilië, gebore. Party van Rio se hooggeplaastes was tydens daardie geleentheid daar—dokters, kolonels en ryk sakemanne. Volgens ’n bygeloof het hulle almal goue ringe en diamante in my eerste badwater gegooi, want hulle het geglo dat dit hierdie babaseuntjie sou help om ryk en beroemd te word. Ongeveer een en ’n half jaar later het ek ’n prys as Rio se mooiste baba ontvang in ’n wedstryd wat deur ’n tydskrif geborg is.

Kort daarna het my ma ernstig siek geword. Toe die dokters alle hoop vir haar laat vaar het, het my pa haar en die kinders verlaat. Hy het my verruil vir skuld wat hy moes betaal, en ek het gevolglik by ’n ryk gesin in Guarujá, op die Santo Amaro-eiland, in die staat São Paulo gaan woon. Daar het ek grootgeword sonder om my vorige gesin te onthou. Maar tydens ’n skoolvakansie wat ek deurgebring het in Rio de Janeiro—ongeveer 450 kilometer van waar ek in Guarujá gewoon het—het iets gebeur wat my lewe verander het.

’n Toevallige ontmoeting

Ek het altyd met seuns van my ouderdom in Jardim da Glória, ’n buurt van Rio, gespeel. Aangesien my pleegouers my baie geld gegee het, het ek altyd vir almal roomys gekoop en was daarom nogal gewild. Alberto, een van die seuns, het my gevra waarvandaan ek kom. Toe ek hom vertel het, het hy gesê: “Ek het ’n broer wat ook in die staat São Paulo woon, maar ek het hom nooit geken nie. Sy naam is Cézar. My pa het hom vir ’n gesin daar gegee, en nou huil my ma elke dag omdat sy geen hoop het om hom weer te sien nie.”

Hy het bygevoeg: “As jy ooit ’n seun van ongeveer tien in São Paulo ontmoet wie se naam Cézar is, sê vir hom dat jy sy broer ontmoet het en dat sy ma hom graag sal wil sien.”

“Ek sal nie vergeet nie”, het ek belowe. “Ons het tog dieselfde naam.”

Omstandighede verander

Alberto het sy ma van ons gesprek vertel, en sy wou my ontmoet. Toe ek en Alberto mekaar weer die volgende Sondag in Jardim da Glória ontmoet het, het hy gesê: “Moeder wil jou graag sien. Ek dink sy wil ’n boodskap saam met jou na my broer in São Paulo stuur.”

Alberto het my dadelik na sy ma toe geneem, wat op ’n bankie in die park gesit het. Sy het my noukeurig bekyk. Toe het sy my omhels en begin huil. “Wie is jou ouers?” het sy gevra.

“Garibaldi en Nair Benzi”, het ek geantwoord. “En my naam is Cézar Benzi.”

Sy het gevra om my ma te ontmoet, wat amper flou geword het toe ek haar vertel het wat gebeur het. Die twee ma’s het mekaar later ontmoet en lank oor my gesels. Daarna het Alberto vir my gesê: “My ma is jou regte ma, en jy is my broer!”

Moeder het gesond geword en het my ouer broer en suster alleen grootgemaak. Toe ek seker was dat ek my eie gesin gevind het, het ek tot my stiefma se teleurstelling gevra om by hulle te woon. Maar ek wou baie graag by my eie broer en suster wees. Ek het my ma ook jammer gekry, wat baie gely het omdat sy nie geweet het of ek nog lewe nie. Ek was dus vasbeslote om by my besluit te bly, al het dit beteken dat ek van ’n luuksehuis in Guarujá na ’n huis in ’n arm buurt van Rio de Janeiro moes gaan. Wat ’n verandering! Ek moes nou hard werk ná skool aangesien my gesin op my inkomste staatgemaak het vir ’n heenkome.

Ek lê ’n belofte af

Toe ek ouer was, het ek geleer om juwele te maak en later om dit te ontwerp. Die groep saam met wie ek gewerk het, het ook met invoerware handel gedryf—waarvan baie smokkelware was—wat baie winsgewend was. Omdat dit so maklik was om geld te maak, het ek by partytjies, vroue en fuifpartytjies betrokke geraak. Toe ek maar 22 was, het ek met Dalva, ’n meisie uit my skooljare, getrou. Ek was haar beslis nie werd nie. Sy was ’n ideale vrou en moeder—opgevoed, beleef en goed gemanierd.

Een aand, nadat ons sewe jaar getroud was, het ek ernstig begin dink terwyl ek ná nog ’n wilde partytjie op pad huis toe was. Ek het geredeneer dat ek met die soort lewe wat ek lei nooit ons drie groeiende kinders behoorlike sedes sal kan leer nie. Ek het dus besluit om te verander. Toe ek by die huis kom, het ek Dalva wakker gemaak om haar van my besluit te vertel.

“Wil jy vir my sê dat jy my twee-uur in die oggend wakker maak net om my daardie onsin te vertel?” Sy het genoeg rede gehad om my te wantrou. Maar ek het belowe: “Hierdie keer bedoel ek dit. En om mee te begin, gaan ek my werkswinkel na die huis toe verskuif sodat ons as ’n gesin meer tyd saam kan bestee.” Dalva was steeds skepties, en daarmee het ons gaan slaap.

Die volgende dag het ek ’n dubbelverdiepinggebou gekry en gereël dat ons op die boonste verdieping sou woon en my werkswinkel onder sou wees. Toe het ek van my vorige werksmaats gaan afskeid neem. Ek was vasbeslote om my belofte na te kom. Vir die eerste keer het ek en Dalva die lewe saam met die kinders begin geniet.

Ek word gehelp om my belofte na te kom

Ongeveer drie maande later het Fabiano Lisowski my besoek. Hy het my al lank geken. Toe ek dus sê dat ek my vrou aan hom wil voorstel, het hy gevra: “Jou wettige vrou?”

Toe Dalva inkom, het ek hom aan haar voorgestel as “’n priester van die een of ander Bybelse godsdiens”. Hy het gelag en verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is. Ek het glad nie in godsdiens belanggestel nie, maar Dalva het graag oor die Bybel gesels. Hy en Dalva het begin gesels, maar ek het stilgebly aangesien ek glad nie verstaan het waaroor hulle praat nie.

Fabiano het ons na ’n vergadering die volgende Sondag genooi. Tot sy verbasing het ek belowe om te gaan. Dalva kon uit haar vel spring van blydskap. Sy het geweet dat ek ’n man van my woord is en dat sy daarop kon staatmaak as ek gesê het dat ek na die vergadering toe sal gaan. Vanweë die smokkelhandel het ek twee dinge geleer: Jy hou jou woord, en jy is nooit laat vir ’n afspraak nie.

Ek het altyd ’n rewolwer in my gordel gedra, maar toe ek na die vergadering gegaan het, het ek die vuurwapen by die huis gelos. Die mense was gasvry en goed gemanierd, en ek het dus belowe om die volgende Sondag weer te kom. Van toe af het ons vergaderinge by die Koninkryksaal gereeld bygewoon, en ek het nooit weer my vuurwapen gedra nie.

Fabiano het gereël dat hy, sy vrou en sy skoonma ons elke Woensdagaand besoek. Aangesien hy geweet het dat ek ’n ateïs was, het hy meestal met Dalva gesels. Ek het uitgesluit gevoel en het met hom oor ander dinge begin gesels, en hy het beleef meer aandag aan my begin skenk. Ek het gesien dat hy ’n boek “Laat God waaragtig wees” het, maar dat hy huiwerig was om dit vir my aan te bied. Uiteindelik het ek gevra: “Waarvoor is die boek?”

Hy het verbaas geantwoord: “Om te bestudeer.”

“As dit daar is om te bestudeer”, het ek geantwoord, “kom ons kyk dan wat dit sê.”

Almal was verbaas en het nie geweet wat presies om te verwag nie. Maar die studie is begin, en ek het aandagtig geluister. Dalva het gestraal van vreugde, en selfs die drie kinders het van Fabiano se verduidelikings gehou.

Tydens die studie het Fabiano se vrou gesien dat ek aanmekaar rook, en sy het opgemerk: “Dit lyk asof jy baie rook.”

“Ek rook al sedert my skooldae”, het ek verduidelik. “En terwyl ek juweelontwerpe bestudeer, rook ek aanhoudend.”

Sy het taktvol gesê: “Baie mense probeer om op te hou rook, maar hulle kan nie.”

“Ek kan ophou net wanneer ek wil”, het ek teëgekap.

“Dis wat jy dink”, het sy geantwoord.

“Net om jou te wys, gaan ek vandag ophou”, het ek vir haar gesê. Ek het, en ek het sedertdien nog nooit weer gerook nie.

Tydens die eerste paar maande van ons studie was dinge nie maklik nie. Van my vorige vriende het na my toe gekom en verdagte transaksies voorgestel, en vroue saam met wie ek vantevore gefuif het, het my by ons huis kom soek. Maar ek was vasbeslote om my lewe te verander, en met Jehovah se onverdiende goedheid kon ek dit regkry. My sakeonderneming het aanvanklik swakker gevaar, en ons moes ons lewenstandaard verlaag. Maar gelukkig was Dalva altyd ’n bron van bemoediging.

Nadat ons die Bybel vyf maande lank bestudeer het, het ek glad nie meer getwyfel nie. Ek was oortuig dat Jehovah die ware God is en dat die Bybel sy geskrewe Woord is. Ek en Dalva was dus op 12 Januarie 1962 onder die 1269 wat gedoop is by die eerste groot byeenkoms wat in São Paulo, Ibirapuera-park, gehou is. Hoe wonderlik was dit tog om ’n opkoms van ongeveer 48 000 te sien!

Ons onderrig ons kinders

Daardie byeenkoms het my help besef dat ons die verantwoordelikheid het om ons kinders te onderrig en op te lei. Ons het dus dadelik gereël om Woensdagaande ’n gesinsbybelstudie te hê. Tot vandag toe is Woensdagaand steeds ons aand vir gesinstudie. Maar nou studeer ek en Dalva op ons eie aangesien al die kinders getroud is.

Ons studie met die kinders het ’n bespreking ingesluit van die alledaagse probleme wat jongmense vandag ervaar, soos kleredrag, persoonsversorging en behoorlike gedrag teenoor die ander geslag. As een van die kinders ’n deel op die Teokratiese Bedieningskool gehad het, het ons dit ook altyd Woensdagaand geoefen.

Ons het die kinders ook die skoonheid van Jehovah se skepping gewys deur hulle na dieretuine en ander plekke te neem. Ons het hulle gehelp om te besef dat Jehovah die diere en voëls vir die mens se genot geskep het en dat ons binnekort die vreugde sal smaak om hulle nie in hokke of agter tralies nie, maar in die oop veld te sien waar hulle gestreel en getroetel sal kan word.

Toe die kinders nog baie jonk was, het ons ’n rooster vir die lees van Die Wagtoring en die Ontwaak! en ander van die Wagtoringgenootskap se publikasies in ons spens gesit. Hulle het almal hulle bes gedoen om by te bly by die rooster sodat hulle ons kon vertel wat hulle geleer het. Ons kan waarlik sê dat ons ryklik beloon is omdat ons ons kinders só onderrig het. Al drie kinders is gedoop nog voor hulle hul tienderjare bereik het.

Cézar, ons jongste, het eerste ’n begeerte getoon om die voltydse diens te betree. Toe hy nege was, het ’n reisende opsiener hom onverwags na die verhoog toe geroep en hom gevra wat hy graag sal wil wees wanneer hy groot is. “Betheliet, kringopsiener of sendeling”, het Cézar geantwoord.

Toe hy 17 was, het Cézar die voltydse pionierdiens betree. Intussen het hy ’n kursus in drukwerk gevolg en hom sodoende daarvoor voorberei om by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Brasilië te werk. Kort daarna is hy na Bethel genooi, en hy het vier jaar lank daar gedien. Hy is toe getroud, en hy en sy vrou het as spesiale pioniers gedien totdat hulle seun gebore is. Cézar dien tans as ’n Christen- ouere man, en sy vrou is ’n gewone pionier. Hulle seun is in 1990 gedoop toe hy 11 was.

Sandra, een van ons dogters, het die pionierdiens in 1981 betree. Die volgende jaar het sy met Sílvio Chagas, ’n lid van die Bethelgesin, getrou. Hulle het agt jaar lank saam as spesiale pioniers gedien en doen tans kringwerk deur gemeentes van Jehovah se Getuies te besoek. Sandra se tweelingsuster, Solange, en haar man het drie jaar lank as spesiale pioniers gedien. Hulle seun, Hornan, is onlangs gedoop. Solange se man is ’n Christen- ouere man.

Ek en Dalva meen dat ons kinders se geestelike vooruitgang grootliks te danke was aan ons gereelde gesinstudie Woensdagaande, iets wat ons ongeveer 30 jaar gelede begin hou het. Nog iets wat met hulle opvoeding gehelp het, was dat ons gereeld reisende opsieners en ander voltydse bedienaars in ons huis ontvang het. Hierdie Christenbroers en -susters het die kinders gehelp om hulle die voltydse diens ten doel te stel.

Persoonlike seëninge

Ek en Dalva het baie mylpale bereik sedert daardie belangrike een in 1962 toe ons gedoop is. Ek het ’n tyd lank as ’n kringopsiener waargeneem, en ons het die voorreg geniet om gemeentes van Jehovah se Getuies te besoek. Ek het ook ’n aandeel gehad aan die bou van ons Byeenkomssaal in Duque de Caxias, ’n projek wat vyf jaar geduur het. En ek het al dikwels voor burgerlike, mediese en militêre owerhede verskyn, waaronder die staatsekunde. Die rede waarom ek voor hulle moes verskyn, was om stadions vir ons byeenkomste te huur en om ons standpunt oor neutraliteit te verduidelik asook die rede waarom Jehovah se Getuies nie bloedoortappings aanvaar nie.

Wanneer ek terugkyk en aan al die wonderlike seëninge dink wat ek ontvang het sedert daardie kritieke aand toe ek Dalva wakker gemaak het om haar van my belofte te vertel, kan ek eerlikwaar sê om ’n verkondiger van die goeie nuus van God se Koninkryk te wees die heel grootste seën is. Ek en Dalva is oortuig dat die manier waarop Jehovah God ons deur middel van sy organisasie lei voorwaar “die Weg” is wat nou tot ’n gelukkige lewe en uiteindelik tot die ewige lewe in God se nuwe wêreld lei (Handelinge 9:2; 19:9).—Soos vertel deur Cézar A. Guimarães.

[Prent op bladsy 23]

Cézar Guimarães en sy gesin vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel