Elf weeskinders—Hoe sou ons die mas opkom?
Soos vertel deur Maria Lucia Vinhal
“AS GOD werklik liefdevol was, sou hy nie vir Pappie en Mammie so kort na mekaar geneem het nie!” “As God almagtig is, hoekom het hy dan nie voorkom dat Mammie sterf nie, wetende dat sy 11 weeskinders sou nalaat?”
Dit is die trant waarop ek herhaaldelik geredeneer het met my Katolieke vriende en familielede wat volgehou het dat dit God se wil was dat Pappie selfmoord moes pleeg en dat Moeder vier maande later aan ’n hartaanval oorlede is. Bang en verward het ek myself voortdurend afgevra: “Hoe gaan ek, ’n meisie van 17, vir tien jonger broers en susters, waarvan die jongste net ’n maand oud is, sorg?”
Die gesinsagtergrond
Ons was ’n toegewyde Katolieke gesin. Pappie, ’n onderwyser, was ook ’n tesourier en kategeet in ’n kapel naby ons, en ek het in die koor gesing. Ek en hy het aan die godsdiensorde van St. Vincentius a Paulo behoort. Ons hele gesin het deelgeneem aan ons daaglikse gebede en ander kerkbedrywighede, want daar was nie veel anders om te doen in die stil dorp in die binneland van die staat Goiás, Brasilië, waar ons gewoon het nie.
Pappie het ’n groot begeerte gehad om die Bybel te leer ken en te verstaan, en hy het dit dikwels gelees, baiemaal tot in die vroeë oggendure. Ek onthou dat ek hom eenkeer hoor huil het omdat hy nie Job se volgende woorde kon verstaan nie: “Wie sal my dit skenk, dat u my in die hel sou beskerm?” (Job 14:13, Douay). “As Job ’n lojale dienaar was”, het Pappie hardop gevra, “waarom het hy dan gevra om hel toe gestuur te word vir beskerming?” Pappie het ander vrae gehad waarop hy nie antwoorde kon vind nie: Waarom ly ons so baie? Het God van ons vergeet? Hy het selfs sommige Protestantse kerke bygewoon op soek na die antwoorde, maar tevergeefs.
Ons stil, eenvoudige lewe het op 24 Junie 1974 aan skerwe gespat toe twee van my neefs my die hartverskeurende nuus gebring het: “Maria Lucia, jou vader het homself om die lewe gebring!” ’n Slegte saketransaksie het bankrotskap en skuld meegebring, en dit het Pappie wanhopig gemaak. Die skok en angs was te veel vir Moeder se swak hart, en vier maande later het sy ook gesterf en ons 11 as brandarm en ontroosbare weeskinders agtergelaat.
Hoe sou ons die mas opkom?
Ek het destyds in ’n selfdienwinkel gewerk waar ek baie min verdien het. Met die skulde wat vereffen moes word, het ons begin gebrek ly, en soms nie eers genoeg kos vir die tafel gehad nie. Toe ’n ander werknemer ons verknorsing sien, het sy van huis tot huis vir ons gaan kos kollekteer. Hoewel ek verleë was, was ek dankbaar oor haar liefdevolle gebaar en oor die hulp wat ons van die dorpenaars ontvang het.
Ons huis het aan Moeder behoort, en daarom het ons ten minste ’n woonplek gehad. Na ’n ruk het ons ook ’n klein pensioen begin ontvang. Om dit aan te vul, het twaalfjarige Paulo in ’n slaghuis begin werk en het Silvio, net 11, begin om melk af te lewer. Die huiswerk is behartig deur Lucia Maria, 15, en Maria Aparecida, 9. Dit was onmoontlik vir al 11 van ons om saam te woon, en daarom is daar besluit dat die ses jongste kinders vir eers by familielede sou woon. Die res van ons se tyd en aandag is gou in beslag geneem deur pogings om die probleme van die daaglikse lewe die hoof te bied.
Daar was so baie besluite wat geneem moes word en wat ons almal geraak het, en aangesien ek die oudste was, is die finale besluit gewoonlik aan my oorgelaat. Dit was soms vir die ander moeilik om my besluit te aanvaar aangesien ek nog so jonk was. Daar was byvoorbeeld die keer toe ek probeer het om Paulo stil te maak omdat hy so baie geraas gemaak het dat die res van ons nie kon studeer nie.
“Wie is jy om vir my te wil voorsê?” het hy geantwoord. Na ’n hewige argument het hy die huis verlaat en nie daardie nag teruggekeer nie. Met rooigehuilde oë het ek die volgende oggend na hom gaan soek en dit selfs oorweeg om na die polisiekantoor te gaan. Maar hoe verlig was ons tog toe Paulo later daardie oggend glimlaggend en kommerloos teruggekeer het nadat hy die nag by vriende geslaap het! Sulke misverstande was egter seldsaam.
Kwellende vrae
Daar was nog steeds godsdiensvrae wat ons gekwel het. Aangesien ons vriende gesê het dat God ons ouers geneem het, het ons bly dink dat, indien dit waar is, Hy die res van ons waarskynlik een vir een sou neem. Wanneer een van ons dus siek geword het, was ons bang dat God nog een sou neem! Ons was gevolglik doodbang! Ons is ook geleer dat indien ’n persoon selfmoord gepleeg het, sy siel hel toe sou gaan, en ek het voortdurend gewonder: ‘Ly Pappie regtig in vlamme?’ Toe ek ons priester daarna uitgevra het, wou hy nie antwoord nie. Dit het my baie ongelukkig gemaak en my oor my godsdiens laat twyfel.
As ’n lid van die Vincentiaanse orde het ek nog steeds tiendes vir die kerk gekollekteer. Toe ek een man besoek het, het hy vir my gevra waarvoor die geld gebruik sou word en wat die Bybelse grondslag vir die gee van tiendes was. Ek kon nie sy vrae beantwoord nie. Toe ek die volgende maand teruggekeer het, het hy dieselfde vrae gestel. Ek het dus besluit om vir die priester te vra.
“Om die onkoste van die kerk te dek”, het hy geantwoord.
“En wat is die Bybelse grondslag?” wou ek weet.
Geen antwoord nie. Ek het begin huil, want ek het geweet dat ek nie die man se vrae sou kon beantwoord nie. Daarbenewens is die name van skenkers hardop tydens die vergadering van ons Vereniging gelees en is diegene wat baie gegee het, geprys. Maar stel jou voor hoe ek gevoel het wanneer my naam uitgelees is en ek niks gehad het om te gee nie—en dit voor almal gemeld is!
Al hierdie dinge het my net verder ontnugter. En hoewel ons die stoflike hulp wat ons gedurende die weke na Moeder se dood ontvang het baie op prys gestel het, besef ek nou dat al die ritusse in die kerk my min gehelp het met my verantwoordelikheid om ons gesin van morele opleiding te voorsien.
Vrae beantwoord
Ses maande na Moeder se dood het ek die geleentheid gekry om antwoorde op my vrae te vind. ’n Dame, ene Yolanda, het my werkplek besoek en ’n gratis tuisbybelstudie aan ’n medewerknemer aangebied. Sy het gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is. Ek het na die gesprek geluister en is geboei deur die titel van die blou sakformaatboek wat sy aangebied het, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Omdat ek nie die geld gehad het om een te koop nie, het ’n medewerknemer later vir my ’n eksemplaar present gegee.
Tuis het ek die boek verslind en toe ek dona Yolanda weer ’n paar dae later raakloop, het ek gepleit: “Gee my asseblief u adres sodat ek na u huis kan kom vir daardie Bybelkursus wat u beloof het.” En hoeveel vrae het ek tog nie gehad nie! Die dinge wat my die meeste tydens die Bybelstudie beïndruk het, was die wyse waarop sy my vrae uit ons Bybel beantwoord het—juis dit wat ontbreek het toe ek tevore vrae aan die priester gestel het.
Een teks wat my hart diep geroer het, was Johannes 5:28, 29, wat lui: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan.” Ek en Lucia Maria het gehuil van vreugde oor die vooruitsig om Moeder weer te sien!
“Maar wat van Pappie? Ly hy in die hel?” Dit was vrae wat beantwoord moes word. Watter verligting tog om te verneem dat die hel die gemeenskaplike graf van die mensdom is en dat niemand daar ly nie! Dit het ook my vader se oorspronklike vraag oor Job wat gevra het om in die hel beskerm te word, beantwoord. Ons het ook geleer dat Pappie se toekomstige lewensvooruitsigte in die hande van die groot Regter, Jehovah God, is. Maar hy word ten minste nie gefolter nie!—Prediker 9:5, 10.
Een vir een het die res van die gesin ook begin om die Bybel saam met ander Getuies te bestudeer. Hoe dankbaar is ons tog oor die vriendelikheid en geduld waarmee hulle ons Bybelwaarhede geleer het! Ons het geleer waarom God boosheid toelaat en dat hy ons nie vergeet het nie. Ons het ook uitgevind dat die Bybel goeie raad vir ons bevat oor sedes, eerlikheid, eerbied vir gesag en hoe ons mekaar moet behandel.—1 Korinthiërs 6:9, 10; Hebreërs 13:17, 18; Romeine 13:1, 2; Mattheüs 7:12.
Ons was vasbeslote om die dinge wat ons geleer het toe te pas en ons het ’n “ooreenkoms” met mekaar aangegaan dat indien een iets verkeerds doen, die ander hom tereg sou wys. Paulo het byvoorbeeld daarvan begin hou om na partytjies te gaan waar daar te veel gedrink is. Na ’n ruk en met die regte raad het hy hierdie probleem te bowe gekom en begin om ’n ernstiger gesindheid aan die dag te lê. Silvio, wat ’n jaar jonger as Paulo is, het die Bybelstudie aanvanklik nie ernstig opgeneem nie en ons na die vergaderinge by die Koninkryksaal vergesel slegs omdat ons hom verplig het om saam te gaan. Later, namate ons met ons Bybelstudie gevorder het, het hy ’n intense begeerte begin toon om God te dien en verantwoordelikheid te aanvaar. Hy sê dat dit die aanmoediging was wat hy van ander in die gemeente ontvang het wat hom gehelp het.
Nie langer “weeskinders” nie
As ’n gesin het ons gemeen dat Jesus se woorde in Markus 10:29, 30 besondere betekenis vir ons gehad het: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder . . . ter wille van . . . die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders.” Ja, ons het nou baie “broers en susters en moeders” in ’n geestelike sin.
Dona Yolanda het byvoorbeeld nie net die Bybel saam met ons bestudeer nie, maar ons ook ure lank geleer hoe om beter na die huis om te sien, te kook, te was en te stryk. As dit nie vir haar ‘moederlike’ raad was nie, weet ek nie wat van ons sou geword het nie. Die Christenbroers in die gemeentetjie (altesaam 20 persone) was ook bewus van ons behoeftes. Hulle het selfs reëlings getref om ons huis reg te maak!
Party van ons familielede, wat tot op daardie stadium min belangstelling in ons situasie getoon het, was ontsteld oor al die aandag wat ons gekry het, en op die dag waarop daar met die herstelwerk aan die huis begin sou word, het hulle ook opgedaag. “Julle Getuies kan maar gaan”, het hulle gesê. “Ons sal die huis regmaak.” Ons was baie verbaas en dankbaar om hulle hulp te ontvang. Later het die broers gekom en die elektriese herstelwerk voltooi sodat ons huis baie geriefliker was.
Ons bure, wat nie wou hê dat ons Jehovah se Getuies moes word nie, het natuurlik al hierdie bedrywigheid van die Getuies gesien. Toe ons die huis eendag verlaat om na die Koninkryksaal te gaan vir ’n vergadering, het die man oorkant die straat ons voorgekeer.
“Julle gaan nie na daardie vergadering toe nie!” het hy aangedring.
“Waarom nie?” het ek gevra.
“Want dit is ’n nuwe geloof wat ’n rukkie gelede uitgedink is. Julle vader het as ’n Katoliek gesterf en julle moet almal tot die dag van julle dood in die Katolieke Kerk bly. Gaan terug huis toe!”
Hoewel ons besef het dat hy dit goed bedoel het, het ons ons nie deur hierdie voorval laat ontmoedig nie.
Een van die grootste vreugdes wat Bybelkennis ons verskaf het, was om gesinseenheid te geniet. Ons het die Bybel saam bestudeer, saam gebid en later begin om saam van huis tot huis te preek. Dit het ons ’n eensgesindheid gegee wat ons nooit tevore ondervind het nie. Met verloop van tyd het ons na maniere begin soek waarop ten minste een van ons meer vir ander kon preek.
Tot op daardie tydstip het Lucia Maria die gesin (en ook ’n paar ander) se naaldwerk gedoen sowel as die meeste huiswerk. Ons het gereël dat Maria Aparecida leer hoe om naaldwerk te doen en ook meer van die huiswerk doen sodat Lucia Maria meer tyd sou hê. Met hierdie reëling was dit vir Lucia Maria moontlik om in April 1978 te begin om die meeste van haar tyd as ’n pionier aan die predikingswerk te wy. Twee jaar later is sy as ’n spesiale pionier aangestel en het sy elke maand 140 uur lank die Bybel geleer aan mense in ’n afgeleë stad waar hulle besig was om ’n gemeente van Jehovah se Getuies te stig.
Tien jaar het verloop sedert daardie tragiese jaar 1974, toe dit gelyk het of ons hele wêreld ineengestort het. Maar hoe het dinge tog verander! Omdat ons situasie materieel en veral geestelik verbeter het, is die meeste lede van ons gesin weer verenig. In 1979 het Dorinato weer by ons aangesluit, en ’n paar maande later het ek Ouma se toestemming gekry om Dalva en Lourdes terug te bring. Al drie het goed gevorder en die twee laasgenoemdes is in 1980 gedoop. Hoe bly was ons tog om te sien dat Bybelwaarheid in hulle hart posvat!
Beatriz was volgende. Die gesin by wie sy gaan woon het, was Katolieke en sy het hulle geloof saam met hulle beoefen. Ons het gedink dat dit moeilik sou wees om haar te oorreed om huis toe te kom. Maar tot ons groot verbasing en blydskap het sy in November 1981 teruggekeer. Sy het begin om die Bybel ernstig saam met ons te bestudeer, en in Julie 1982 is sy gedoop. Nou hou sy haar eie Bybelstudies. Jehovah se hand was beslis nie kort nie!
Toe was dit Clodoaldo se beurt. In Mei 1983 het ons eindelik daarin geslaag om hom huis toe te bring en nou neem hy gereeld deel aan ons gesinsbybelstudie en ook ons predikingswerk. Dit is ons bede dat hy en Dorinato sal voortgaan om vordering te maak sodat hulle hul kan toewy en gedoop kan word. Die jongste, Alexandre, woon nog by familielede. Hoewel ons nog nie toestemming het om hom huis toe te bring nie, het ons reëlings getref sodat hy gereeld geestelike hulp ontvang. Op die oomblik geniet hy dit om die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te lees.
Nadat Paulo en Silvio gedoop is, het hulle die leiding in ons gesinsbybelstudies en gebed gegee. Trouens, Silvio se sekulêre werk gee hom genoeg vrye tyd sodat hy die afgelope nege maande ’n hulppionier kon wees. Op die oomblik het Paulo die voorreg om by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap hier in Brasilië te dien. Ek doen nog steeds my sekulêre werk en wy soveel tyd moontlik aan Jehovah se diens. Dis onnodig om te sê dat al hierdie dinge vir my ’n bron van groot vreugde en tevredenheid was na die stryd van die vorige jare.
Ons dink dikwels aan wat die psalmis in Psalm 127:1 geskryf het: “As die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” As Jehovah ons nie “bewaar” het nie, sou al my bewaking van die gesin waarskynlik tevergeefs gewees het.
Dit is vir ons waarlik aangrypend en ’n groot genot om Jehovah se wonderlike voornemens te bestudeer, te leer en aan ander te vertel. Hy is inderdaad ’n ware Vader vir ons en ons wil graag dieselfde sê as Dawid, wat gesê het: “Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: [Jehovah] is sy Naam; . . . ’n Vader van die wese . . . is God in sy heilige woning.”—Psalm 68:5, 6.
[Prent op bladsy 27]
Sewe lede van die Vinhal-gesin
[Prent op bladsy 28]
Alexandre, wat gebore is kort voor sy moeder se dood
[Prent op bladsy 30]
My suster, Lucia Maria, wat nou ’n voltydse bedienares in Goiás, Brasilië, is